Tuesday, September 30, 2014

Drieluik III - Sheila Cussons



III
My vuil, my stank wil ek uit my hê.
Jaag dit nie weg nie: weg kom terug -
Neem dit in U op, Grond van my wese;
verwerk dit, versoet dit tot kraakvars lewe.
Aarde waarin alles wat boos is vergaan,
verpulwer my fyn, verander my grondig
tot stof waaruit ek opnuut kan kiem,
kan verrys met my beste in my behou,
eindelik myself, myself in U!

Monday, September 29, 2014

Drieluik II - Sheila Cussons



II
Wat ek die meeste in U aanbid
is hoe U is.
Kyk, ek wou noem en toe noem ek alles.
U gee so vry, U vra so min, u pas
gemeet aan myne.
Hoe ho
ër ek klim hoe groener die velde,
soeter die die strome, hoe meer U knel.
U buig my reg, U ruk my in lit in
en ek byt op die pyn.
Ek moet net ja! sê en U verras my
hoe meer ek niks daarop verwag nie –
Daar is geen ding in dingigheid
waarmee ek U kan vergelyk nie.
U breek my kundig en hoe meer ek toegee
hoe meer si
én ek, laat U my sien –
die hele verskil tussen pyn en vervoering
d
ít, en dit U.
Want nooit is U hard of ek w
íl dit gou,
en dan, my God, hoe oorvloediglik troos U!

Drieluik I – Sheila Cussons


I
Hoe onkundig is ek! Ek sien skaars
tittel of jota van wat U sien,
sou nie kon nie en nog menslik bly.
Van al die afskuwelikhede
wat etter uit ellende van vlees en gees
skerm U my af.
Maar U kyk vol – deurklief alles
tot op die eerste oorsaak, en dit met liefde . . .
toe, blind-toe, bid ek die een gebed
wat nooit sal vrug voor die einde nie:
Christus, ontferm U oor u verskeurde Hart!

Brood op my balkon - Sheila Cussons

Ek het brood gebreek op my balkon
in brokke gerieflik vir 'n duif,
en wag op 'n afstand binne. Nie lank nie:
instink kom klapperend op die reling sit.
Links, regs, bespied sy; op, af, oorweeg sy,
fladder dan neer en ruk-pik gretig -
Net, ek moet nou daar verby, en weet alreeds:
en daar skiet sy weg - Ag, vertrou my tog:
ek is bloot 'n onkuldige mens,
of erfskuld se invalide - Wie kan dit nog betwyfel:
ons het 'n skaduwee
ook oor hule, oor die ganse skepping gebring.
Daarom breek ek brood, breek ek in die brood
u liggaam, Heer, vermenigvuldig my hande U,
my hart, my wil; poog ek om alles weer heel te maak

Gebed vir dié in die wêreld - Sheila Cussons



Dat ons leef omdat U leef is die eerste
van alles wat wonderlik is.
‘n Wisselvloei is daar tussen U en ons.
U vloei in ons in en ons in U, en in U word
ons arme vog gesuiwer en vernuwe,
en ons self keer uit U terug en in ons in
deur die membraan wat tyd en wêreld is.
Membraan of illusie, so dun is dit, so nie,
so nêrens vir u begenadigdes -
Dankie dat ons wat onsself versteek vir ons naastes
gans oop is vir U en U oop.
Dankie vir die gladder as asemhaling heen en weer
tussen U en ons; dat tyd en ewigheid
mekaar deurdring, nie twee is nie maar een.
Dankie, God, vir die wonder, waarin die harde seer
wat wêreld is, sagter as asem oplos en verdwyn.
Ons mense kom uit God se gedagtes en as ons doodgaan gaan ons terug na God toe.

Saturday, September 27, 2014

Die Drakemeester




Daar is ‘n gewilde reeks kinderverhale met die naam “How to train dragon”. In die storie sien ons hoe ‘n seun daarin slaag om iets reg te kry wat niemand nog ooit vantevore reggekry het nie. Hy vang ‘n draak en in plaas daarvan dat die draak hom vernietig, tem hy die draak en maak hom mak. Deur die draak se gedrag dop te hou, leer hy om met deernis en insig die draak se vertroue te wen en bo alle verwagtings word hy die meester van die drake, en maak ‘n nuwe wêreld oop vir die mense en die drake.
Ons kan waarskynlik meer met die storie identifiseer as wat ons dink, want ons loop ook maar elkeen met ons eie draak. Die naam van hierdie draak is die ego. Op die mees onverwagte en onvanpaste tye steek die ego-draak sy of haar kop uit en blaas vuur oor alles en almal wat naby kom. Wanneer mens egter van die ego begin bewus word, raak dit al meer skrikwekkend omdat mens verstom staan oor die krag daarvan.

Ons weet al te goed dat die ego nie sal sterf nie. Dit is immers deel van ons psigiese struktuur en mens het inderdaad ‘n sterk ego nodig om in die wêreld oor die weg te kom, maar terselfdertyd sal die ego altyd sterk weerstand bied teen God en die transformasie waarmee God deur sy Gees in ons lewens wil besig wees, omdat die ego altyd self wil septer swaai.

Tog is dit vir ons onmoontlik om op ons eie en in ons eie krag te probeer om hierdie ego-draak te tem. Daarvoor het ons die enigste ware Drakemeester nodig. Die Een wat die diepte van alle vorme van dood kon oorwin. Die Een wat die vuur in die draak se maag kan blus.

Sonder die Drakemeester sal die ego-draak ons altyd probeer oortuig dat hy of sy sterker as ons ware self is. Die draak sal ons altyd half beangs in die hoek laat skuil terwyl ons wonder hoe lank ons nog aan die neus rondgelei gaan word.

Saam met die Drakemeester kan ons met vertroue voor die draak stelling inneem en voor die vuur geblaas word, reeds sê: “Ek sien jou! Ek weet waarmee jy besig is. Hier is jy nie meer die baas nie.”