Thursday, November 26, 2015

Agter die prentjie



In die national Gallery in Londen hang hierdie skildery van Annibale Carracci wat in die vroeë 1600’s geskilder is met die titel Lamentation of Christ. Die skildery maak ‘n persoonlike appél op elkeen wat met aandag daarna kyk. Iemand skryf oor die skildery: Carracci’s Dead Christ appears to be very dead, and everyone around Him believes this is so.  There does not appear to be any hope of resurrection in the limp Christ.

Die skildery het ‘n sirkulêre beweging. Maria met Jesus in haar skoot wat dieselfde liggaamshouding as Jesus het, met die verskil, die pienk hand teen sy dooie liggaam; die vrou wat Maria se kop vashou (dalk Salome) wat bekommerd na die vrou in groen (dalk Elisabet) staar wat weer doodsbenoud oor Maria is; en Maria Magdalena (in rooi) se paniekerige en ongelowige smart oor Jesus. Die Engelse woord “grief stricken” beskryf die toneel goed. Hoe sal daar ooit enige hoop uit hierdie situasie kom? Een van die dinge wat my die heel meeste aangryp van die skildery is die besef dat daar baie meer agter die prent lê as wat ek en jy sien.
Ons weet byvoorbeeld dat minder as drie dae vanaf hierdie gebeure die hele verloop van die verhaal verander het. Die Evangelies, Matteus, Markus, Lukas en Johannes vertel die verhale van Jesus se tyd op aarde, sy lyding, kruisiging, dood en opstanding en ook die tyd daarna. Vir my is die Evangelies amper soos fotoalbums of soos vier opsommings van ‘n biografie. As jy daarna gekyk het of dit gelees het sien jy iets van die lewe wat geleef is, maar besef jy dat daar baie meer hier agter lê.

Dikwels sal mense in ons tyd sê dat hulle verveeld is met Jesus, of dat hulle nie meer ‘n behoefte het aan God nie. Hoe meer ek die Here ken, hoe meer staan ek verbyster oor so reaksie.
Besef ons dan nie dat die Evangelies die essensie van die verhaal bevat nie? Dit beteken dat as ek al vier Evangelies uit my kop kan opsê ek basies die essensie van die storie ken. Wie Jesus hier op aarde was, wat Hy alles geleef en geleer en gedoen het, die wonderwêreld van God wat agter Jesus lê, sal ons waarskynlik nooit kan snap nie. Daarom kan ons nooit sê dat ons uitgekuier of verveeld met Jesus is nie. Ons weet maar nog min van Jesus – en ons verstaan nog minder. Johannes beaam dit heel aan die einde van sy Evangelie (Joh. 21:25): Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.

Soos met die skildery van Carracci, maak hierdie woorde van Johannes my emosioneel en word ek deur hierdie besef oorweldig. Soos die skildery ‘n individuele reaksie by my wil ontlok, nooi Jesus my persoonlik om te begin om agter die prentjie te sien en Hom met nuwe oë te begin ken. Angelus Silesius het baie jare terug gesê: Al word Christus ook ‘n duisend maal in Bethlehem gebore, maar nie eenmaal in jou hart nie, was dit vir jou verniet.
Kom ons laat toe dat Jesus hierdie jaar in óns harte gebore word, dáár sterf en dáár opstaan.


Sunday, November 15, 2015

Die pad van die koringkorrel



Een van die tekste in die Bybel wat my weer en weer terugroep is Johannes 12:24-26 (waarskynlik een van die sleuteltekste in Johannes en in die Evangelie):
As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een;
maar as hy sterwe bring Hy ‘n groot oes in.
Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit;
en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.
As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees.
Jesus gebruik die beeld van die koringkorrel in die eerste plek om oor Homself te praat, maar direk daarna maak Hy dit op ons as gelowiges van toepassing. Willem Nicol skryf so oor Jesus in Johannes: “In Jesus sien ons ‘n liefde wat heeltemal suiwer is, grensloos, bereid om tot die uiterste te gaan, heeltemal vry van die egoïsme wat nie alles wil gee nie. Jesus se heerlikheid lê daarin dat die Vader hom verheerlik deur Hom na die kruis en opstanding te lei, dit wil sê die mooiheid van Jesus lê in die vryheid van sy ekkigheid. Daar het niks in hom oorgebly wat die vrye vloei van die liefde keer  nie. “
Vir die meeste van ons bly dit ‘n moeilike gedagte dat ons Jesus nie net in sy lewenstyl nie, maar ook in sy volledige oorgawe aan God sal volg. Dat daar met ander woorde geen plek is vir my ego en sy of haar streke op my pad met God nie en dat ek voortdurend, elke dag, om elke hoek en draai daarmee gekonfronteer sal word om dit eerlik in die gesig te staar en te sien hoe ek, selfs in opregte toewyding aan die Here, groot dele van die dag tog uit my ego leef, en dit glad nie raaksien nie.

Die pad van die koringkorrel is ongelukkig nie ‘n eenvoudige pad nie, want dit vra dat ek my eie sienings en persepsies sal uitdaag en konfronteer, dit vra dat ek mense sal verdra wat nie inpas in my denkraamwerk nie, dit vra dat ek sal luister na argumente wat glad nie vir my sin maak nie, dit vra dat ek myself vrywillig bereid sal verklaar om in ongemak in te stap en om oop te wees dat die pad waarop Jesus my gaan lei, dalk anders lyk as wat
ék wil hê. Die slegte nuus is dat die pad van die koringkorrel my nie toelaat om koning te kraai op my eie werf nie. Inteendeel…

Ek weet van niemand wie se ego d
ít sommer net sal sluk nie. En dis hier waar die koringkorrel begrawe word, want om teen my eie natuur en aard en ego in te kies, voel maar altyd so bietjie soos doodgaan. Die uiteinde, sê Jesus, is ironies genoeg ‘n lewe wat soos ‘n groot oes lyk! Nie net vir myself nie, maar vir almal met wie ek te doen kry.

Ek probeer elke nou en dan om stil te staan en bewus te word hoe mense in my lewe my beleef. So kom ons vra onsself:
beleef mense my as iemand wat dink dat ek mag koning kraai,
of as die koringkorrel wat op ‘n uitdagende pad van “ego-dekonstruksie” is, en daarom besef dat ek in my verhouding met Jesus dit nie gaan vryspring om aan myself te sterf nie?

Die konfronterende is dat mense ons nie altyd soos die koringkorrel beleef nie - en in hierdie besef lê die gawe, want hierin staan Jesus se uitnodiging duidelik voor my. En dit is vir geen ego maklik nie. As ek myself nie s
ó laat verloor nie, is die alternatief verwoestend – vir my en ander.


Ongekarteerde Landskap



Die meeste van ons voel maar effens ongemaklik met emosies, veral waar dit ons broos laat. Die gemaklike, lewegewende emosies is vir niemand ‘n probleem. Dis die ongemaklike, uitdagende emosies waarmee ons dikwels vasval. By Viam Dei praat ons elke nou en dan daaroor dat dit mens niks in die sak bring om op ‘n dieper pad met God weg te skram van ons emosies af nie. Inteendeel, dit verarm ons en bring mee dat ons nie erkenning gee aan een van die groot aspekte van ons bestaan nie.
Die onderwerp van emosies is soos die misterie van die lewe – nie onkenbaar nie, maar juis eindeloos kenbaar. Ons sal nie by die einde daarvan kom nie. Om die rede trek ek ‘n paar lyne wat my op die stadium help binne hierdie ongekarteerde landskap:

  • ·        Emosies is net emosies. Moet dit daarom nie te ernstig opneem en daardeur oorweldig word nie. Ek is nie my emosies nie. Daarom moet ek soms teen die rigting van my emosies optree.

  • ·        Terselfdertyd, en paradoksaal teenoor bogenoemde, is my emosies juis een van God se grootste gawes aan my. Telkens waneer ek bepaalde emosies ervaar is dit soos ‘n boodskapper wat my wil bewus maak van wat diep binne in my aan die gebeur is.

  • ·        Dit lyk asof my emosies die sleutel sou kon hou vir die dieper plekke waarheen God my wil neem, sodat ek diep bewus van my interne wêreld kan word en daarmee saam kan beleef hoe God se Gees oor hierdie waters sweef.

  • ·        Wanneer dinge my diep roer en ek word stil daarmee, ontdek ek byna altyd iets van God binne hierdie ervarings. Selfs die swaarder emosies soos verlatenheid, isolasie, woede, vrees en angs (om maar ‘n paar te noem) kan my neem na God se hart as ek net bereid is om in die emosie te gaan sit en te sien wat onder die emosie lê.

  • ·        Ek mag nooit my emosies gebruik as die rede om ander of myself skade te berokken nie. My emosies is veronderstel om as ‘n vlag te funksioneer in my dieper pad met God en nie as ‘n wapen uit my emosionele ongemak uit nie.

  • ·        Alhoewel emosies geweldig sterk ervaar kan word en ons daarom dikwels terugdeins vir sterk emosies en dit probeer vermy, sal my emosies my nie doodmaak nie. Die ding om voor bang te wees is nie die emosie nie, maar die onuitgesorteerde materiaal wat jaar in en jaar uit onder die emosie lê en broei (wat baie van ons liefs ignoreer). Hoe vinniger ek leer om te vra waarom ek ‘n emosie ervaar, hoe vinniger kan ek in die emosies inklim en hoe vinniger kan ek leer om te sien dat daar onder die emosie iets lê waardeur God my sou wou transformeer

  • ·        Wanneer ek my kwesbaarheid verdoof, sê Brené Brown, verdoof ek nie net die emosies wat my kwesbaar laat nie, maar ook al die ander emosies en kan ek binnekort nie meer die lewe geniet of dinge op ‘n diep vlak ervaar nie. God sou my eerder in my kwesbaarheid innooi. Dis juis deur Jesus se algehele kwesbaarheid dat daar vir ons lewe kon kom.

Hoe meer ontvanklik ek is vir die hele spektrum van my emosies en al meer vertroud daarmee raak in my verhuding met die Here, hoe ryker en meer lewegewend word die landskap waarbinne ek lewe, al het ek nie ‘n kaart nie.


Paaie van Lewe



‘n Ruk gelede stuur ‘n vriendin vir my hierdie prent wat my baie laat dink het.


Ons weet al te goed dat die pad van die lewe nie vooruit geplavei is nie en dat die lewe vreemde kronkels en draaie kan maak. Natuurlik kan ons ook deur ons keuses bepaal in watter rigting hierdie kronkels en draaie ons gaan neem. Soos iemand eenmaal gesê het: My keuses word my pad en my pad bepaal uiteindelik my bestemming. Daarom is die keuses wat ons maak so belangrik, of soos Erwin McMannes dit stel: Making choices is the most spiritual thing you can do. 

Daar is natuurlik ook ander minder hoopvolle maniere om oor ons lewenspad te dink, naamlik dat die uiteinde van ons lewe deur die noodlot bepaal word en dat ons nie veel sê het nie. As mens in God glo kom daar ‘n radikale dimensie by ons verstaan, naamlik dat wanneer ek my lewe aan die Here toevertrou het, ek nie alleenseggesnkap oor my lewe het nie. Selfs mense wat glad nie met God assosieer nie kom soms op ‘n plek waar hulle besef dat God hulle lewe lank nog met hulle besig was.
Die Bybel leer ons op baie plekke dat God graag vir ons die lyne van ons pad wil verf en vir ons wil wys watter pad om te loop: in ‘n algemene, maar ook in ‘n baie spesifieke sin. 

Daar is met ander woorde ‘n algemene pad wat elke gelowige moet loop en dis redelik maklik om te ken. Jesus leer dit vir ons. Om dit te doen is natuurlik nie altyd so maklik nie. Dis die meer spesifieke pad waarmee die meeste van ons sukkel. Meister Eckhart se mooi woorde kom nou by my op: Do not follow the path of others, follow the path that God has given to you. Dis goed en wel dat ek as unieke mens met ‘n unieke persoonlikheid moet oop wees vir die unieke pad waarop God my nooi, maar hoe weet ek wat dit is? Hoe moet ek weet op watter pad God my roep?

Mens kan die vraag vanuit verskillende perspektiewe antwoord, maar dis hier waar die belangrike konsep van om met onderskeiding te leef relevant raak. Parker Palmer het eenmaal geskryf: Before I can tell my life what I want to do with it, I must listen to my life telling me who I am. My persoonlikheid en gawes en talente is ‘n goeie ‘n aanduiding van die pad waarop God my roep. Daar is tog ‘n rede waarom ek is soos ek is, en dalk is daardie rede dat God my so wil gebruik soos ek gemaak is en dat die kaart vir die pad waarop God my roep nie êrens daarbuite lê nie, maar dat God die kaart in my DNA ingebou het. 

Henri Nouwen sê dat sommige van ons iewers bewus word dat God ons op spesifieke paaie roep, terwyl ander nooit daardie ervaring het nie, maar geroep word op die groter pad van God se liefde en genade  vir  en diens aan die wêreld. Wat ook al die aard van jou pad is, is ek van een ding seker en dit is dat God ons altyd op paaie van Lewe wil lei, sodat ons weer die pad na die Lewe vir baie ander kan oopmaak. 

Die pragtige woorde van Jesaja 43 eggo al deur baie eeue dat God ons altyd op paaie van Lewe wil lei: 1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. 2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,… 5 Moenie bang wees nie, Ek is by jou. 16 So sê die Here, Hy wat 'n pad gemaak het deur die see, 'n deurgang deur die magtige waters,… 18 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. 19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. 

By God kan ons altyd oop wees vir nuwe paaie.