Friday, April 17, 2015

Die vensters van katedrale



So ruk gelede wys my swaer vir my hierdie indrukwekkende foto’s deur die New Yorkse fotgraaf Bing Wright. Hy het gebreekte spieëls gebruik en die refleksie van sonsondergange daarop vasgevang, met ‘n asemrowende eindresultaat.









 Dit verg ‘n besondere uitsig op die werklikheid om te besef dat gebreekte spieëls so unieke refleksie teweeg kan bring dat die eindresultaat buitengewoon mooi kan wees. ‘n Klompie jare gelede sou baie mense heel ontstig hul harte vasgegryp het, want daar is mos op ‘n stadium vas geglo dat ‘n gebreekte spieël die begin van sewe jaar se teëspoed is. (Waarskynlik kom die bygeloof uit die Romeinse tyd toe spieëls geweldig duur en skaars was en die sewe jaar dreigement gebruik is as afskrikmiddel vir enigeen wat roekeloos met die kosbare item sou omgaan. Sewe jaar was die tyd wat hulle geglo het dit vir die liggaam en gees neem om vanself te hernu). 
 
Dikwels bevind ons ons ook in situasies waar ons voor die gebreekte refleksie van ‘n ideale prentjie in ons lewe bevind, en dan dink ons dalk ook dat dit die begin van teëspoed of die begin van ‘n die einde is, maar vir ons as gelowiges bring elke dag ‘n nuwe begin en as ons glo in die Opstandingskrag van Christus kan ons nie anders as om die gebreekte spieëls in ons lewe eerder te sien as ‘n nuwe perspektief wat ons kan help om op nuwe maniere na onsself en na ou of gebroke situasies te kyk nie.

Ons kan nie anders as om aan die woorde Klaagliedere 3: 21-23 vas te hou nie: Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. 

Wanneer jy weer voor ’n gebreekte spieël in jou lewe staan, probeer onthou dat gebreekte glas die  materiaal is waarvan katedrale se loodglasvensters gemaak word en dat God besig is met groot en mooi werk in jou lewe, te midde van oënskynlike gebrokenheid. Dalk het jy nuwe perspektief nodig.

Saturday, April 11, 2015

Die dag toe Agnes begin sien het



‘n Vrou met die naam Agnes werk al vir baie jare in my vriendin se huis en sy het haar kinders help grootmaak. Oor die jare het sy al soveel keer vir my vertel wat ‘n wonderlike vrou Agnes is en hoe lief sy en die kinders vir mekaar is, maar dat Agnes nou maar eenmaal nie ‘n uitstekende huishoudster is nie. Die huis is net-net skoon en meermale moes sy al vir Agnes mooi vra oor die spinnerakke en stof op die vensterbanke. Selfs na sy gevra het was die verskil telkens nie noemenswaardig nie. So spot die vriendin dan dat mens seker maar moet kies tussen ‘n skoon huis en gelukkige kinders.
So rukkie terug vertel sy toe een dag vir my die volgende verhaal. Sy kom een middag by die huis en hier kry sy vir Agnes in die sitkamer, besig om te werk dat die stof so staan, lank na die tyd wat sy gewoonlik klaar gewerk het. “Wat maak jy, Agnes?", vra sy. Dis toe eers dat sy die bril op Agnes se neus sien, die bril wat sy nooit dra nie.

So sê Agnes dat sy die oggend in haar eie badkamer haar bril opgehad het, wat sy eintlik net gebruik om naaldwerk te doen, want sy kan nie eintlik baie goed lees nie, en toe sien sy skielik hoe vuil is die lysie van die wasbak. Heel geskok kyk sy toe in die res van haar badkamer rond en kon nie glo hoe vuil dit is nie. Sy dink toe dat as haar badkamer skielik so vuil lyk, hoe lyk die huis dan nie waar sy elke dag werk nie. En groot was haar skok! 

Sy vertel toe hoe verskriklik sleg sy al heeldag voel, want oral waar sy kyk is daar net spinnerakke en stof en is die huis doodgewoon vuil. Sy vra vir my vriendin of dit haar dan nog nooit gepla het nie, waarop die vriendin antwoord: “Maar, Agnes, dis wat ek nog die heeltyd vir jou probeer sê. Ek het al gedink jy hoor my nie.” Arme Agnes! Sy het so skaam gekry en het die hele res van die middag, elke keer as sy my vriendin sien net gesê hoe jammer sy is en dat sy van nou af elke dag met haar bril op gaan werk. My vriendin het nie in haar wildste drome kon dink dat die oorsaak van die jarelange probleem was dat Agnes doodgewoon nie gesien het nie.
Na sy vir my die storie vertel het kon ek nie anders as om weer daaraan te dink dat ons elkeen baie blinder is as wat ons dink nie. Om die waarheid te sê besef niemand van ons eers dat ons nie sien nie, tot die oomblik wat ons sien! Dan besef mens skielik wat jy nie raakgesien het nie en dat daar dinge van jouself is waarvan jy gewoon onbewus was. Ander mense was lankal daarvan bewus, want hulle kyk anders na jou as jyself. Dis net jy wat nie gesien het nie. Natuurlik gaan die oomblik van sien met ‘n redelike mate van ontnugtering gepaard en voel mens maar vernederd, nes arme Agnes daardie dag.

 Die kuns is natuurlik om nie die oomblik van sien te vrees nie, maar om daarvoor te wag, want dis in daardie oomblik dat groei plaasvind en jy in jouself grense verskuif. Ek glo dis waarom Jesus soveel wonderwerke gedoen het waar blindes se sig herstel word, want om te sien is nie so voor die hand liggend soos dit klink nie. Miskien moet ek meer bid “Ek wil sien, Here”, en dan soos Agnes daardie oggend, my bril opsit, en nie terugdeins vir die spinnerakke en stof in die hoeke van my lewe nie.



Ek het gekies...



Een Saterdagoggend hoor ek ‘n gegiggel en gesels in die badkamer agter die toe deur. Toe ek instap staan kleinsus kiertsregop in die bad soos ‘n wafferse Cleopatra met arms uitgestrek, hare op die kop gestapel in ‘n kleed van skuim. Langs haar in die bad, op haar knieë met haar swemklere aan staan ousus met ‘n spons en seep en sy skrop dat die skuim spat. “Wat gaan hier aan?”, vra ek heel verbaas. Kleinsus sê: “Ek is die prinses en sy is my dienskneg en sy gaan my heeldag bedien.” Nogal uit die veld geslaan, sê ek: “Dit klink, lekker, maar ek hoop julle maak beurte.” Ousus stop haar geskrop, draai om en sê: “Nee, mamma, ons gaan nie beurte maak nie. Ek het gekies om die dienskneg te wees.” Nou ja, wat kan mens daarop antwoord? Nie veel nie. Ek het net geglimlag, omgedraai en oor en oor gehoor hoe sy sê, ek het gekies om die dienskneg te wees…

Dalk is dit die probleem met die mensdom. Baie min van ons kies om die dienskneg te wees. Tog is dit presies waarvoor Jesus ons nooi as Hy sê dat ons Hom moet volg. Daar was nog nooit so opregte dienskneg soos Hy nie. Richard Rohr sê dat Jesus ons nie in die eerste plek nooi om Hom te aanbid nie, maar om Hom te volg. Dis eers as ons Hom begin volg het en gesien het wat sy voorbeeld van ons vra en bereid is om as diensknegte te sterf aan ons eiegeregtigheid, selfsug en selfbeheptheid, dat ons spontaan besef dat ons Hom wil aanbid.
In Johannes 13:14, waar Jesus die dissipels se voete was, sê hy:  “As ek, die Een wat julle leer en lei, julle voete was, wat sê dit vir julle? Net een ding: julle behoort mekaar se voete net so te was. Ek het nou vir julle ‘n goeie voorbeeld gegee: volg daardie voorbeeld. Doen aan mekaar wat Ek aan julle gedoen het.”




 Waaraan sou ek sterf in myself as ek in alledaagse kontekste sou kies om telkens die dienskneg te wees? Onmiddelik hoor ek hoe mense sê: Dit beteken nie ek gaan my laat misbruik of ander se vloerlap wees nie! Natuurlik nie. As jy dink dít is wat diensbaarheid beteken moet jy dalk weer gaan dink. Miskien bevind jy jou wel in ‘n verhouding waar jy ervaar dat jy as vanselfsprekend gesien word of waar jy voel dat jy misbruik word en eerder ‘n slaaf as ‘n dienskeng is. Waarom gebeur dit? Wat sou dit nou eintlik in jou konteks beteken om diensbaar te wees? As ons regtig verstaan wat Jesus met diensbaarheid kom leer het, kan ons dalk makliker in die spieël kyk en en te midde van moeilike verhoudings en uitdagende kontekste sê: “Ek het gekies om die dienskneg te wees.”

Sonder die dood kan ons nie lewe nie



Binne ons kultuur weet ons mense maar nie wat om met dood te maak nie. Alhoewel ons kognitief weet dat ons almal iewers moet sterf is dit geheel en al oorweldigend en selfs skrikwekkend as dit wel gebeur. Dit het ons familie ook in die afgelope tyd beleef met die onverwagse afsterwe van ons liewe Oupa. Tog kan ons terugkyk en diep bewus wees van God in die hele proses. Ons is nog meer bewus daarvan dat God ons daardeur weereens by die diepste waarheid van die Evangelie laat stilstaan: Sonder die dood kan ons nie lewe nie. Of: Ons kan nie lewe sonder om te sterf nie.

Op die begrafnis het Jaco vertel dat die dood ons telkens herinner dat God uit die mees vasgeloopte situasies lewe kan skep en voortbring. Hy het vertel dat plante byvoorbeeld ons vrot asems neem en elke dag omskep in iets buitengewoon lewegend. Op dieselfde manier neem God in Jesus ons gebroke, vrot lewens en staan Hy gereed om elke dag die dood in ons lewens te omvorm en te herskep tot iets merkwaardig en lewegewend. 

Op ‘n logiese vlak maak dit op ‘n manier sin, maar hierdie is iets wat met die kern van jou hart verstaan moet word en  nie met jou verstand nie.

In die week kom ek af op ‘n artikel oor twee Italiaanse ontwerpers wat ‘n kapsule ontwerp het waarin iemand wat gesterf het se liggaam geplaas kan word. Die kapsule word dan letterlik in die grond geplant, met ‘n boom bo-op en so verskaf die kapsule met die ontbindende liggaam al die voedingstowwe om aan die boom optimale lewe te gee. Wat ‘n aangrypende konsep.
Ons begryp dit nie altyd nie, maar die situasies van dood in ons lewe word in God se hand die vrugbare grond waaruit die mees merkwaardige dinge vir onsself, maar veral vir ander, kan voortkom.



\






Sterf en opstanding is integraal deel van God se proses in die natuur. So ook met die vernietigende brande in die Kaap die afgelope week, en die effek daarvan op die plantegroei. In ‘n blog genaamd “Notes from a Cape Town Botanist” staan die volgende woorde: 
The burning of fynbos vegetation is an inevitability. It is sad that people are negatively affected but it is far from sad that the veld itself is burning. This vegetation type has been subjected to fire for millennia and the optimum fire interval is every 10-14 years. Fire is a keystone process without which many plants in the fynbos would not be able to regenerate, produce offspring or reproduce. Fynbos plants are either resprouters or reseeders: Either they can resprout after a fire has passed through or they produce seeds that are adapted to survive fire and require heat from the fire and chemical compounds from the smoke to germinate.

It may not seem so now amidst the heat, chaos, injury, loss and destruction, but with time out of the ashes of this fire will come new life....like a phoenix. Watch and wait.....
 
In Jesus kan elkeen van ons se situasies van dood, in watter vorm ook al, die vrugbare grond wees wat nuwe spruite voortbring en verdroogde plante laat saad skiet. Stel jouself hiervoor oop en wag en sien, want sonder die dood kan ons nie lewe nie.

Op die rakke van die biblioteek



Ek was ongeveer 35 jaar oud toe ek begin onthou het. Daar was soveel dinge uit die vorige deel van my lewe wat net in die newels van my onderbewussyn weggesak het en skielik het dit soos die sediment onder in ‘n poel water na bo begin spoel. Dinge uit my kinderdae, gebeure uit my tienertyd en studentejare, komplekse of vasgeloopte verhoudings van vroeër. Dinge wat ek voorheen óf glad nie onthou het nie óf geen betekenis aan geheg het nie. Nou het dinge op ‘n nuwe manier begin sin maak met nuwe lig wat op ou gebeure val. Vir die eerste maal het ek besef wat die effek van sekere gebeure en interaksies met mense op die vorming van my binnewêreld was.



Waarom sou die dinge van die verlede belangrik wees op my dieper pad met God? Daar is tog redes hoekom mens is soos jy is. Of mens daarvan hou of nie, die issues wat jy wetend en onwetend mee rondloop kom mos van iewers af. Wanneer God met my besig is met ‘n proses van innerlike transformasie werk Hy nie net met dit wat op die tafel lê nie, maar veral ook met dit wat ver weggepak is. God se proses van innerlike transformasie gebeur ongelukkig nie net deur te sê: “Ag Here, help my” of “Ag Here, vat dit weg” nie. God antwoord natuurlik graag daardie gebede, maar Hy gebruik die proses van my psige, my bewussyn en onderbewussyn, my emosies en al die baie rakke wat oor jare in die biblioteek van my binnewêreld geakkumuleer het as die instrumente waarmee Hy my gebed antwoord.

So hy gaan jou help en oor tyd gaan daardie dinge minder van ‘n effek op jou funksionering hê en kan jy as vry mens leef, maar Hy gaan jou eie binnewêreld gebruik om jou te help en nie een of ander magiese towerformule nie. Hy gaan dus vra dat jy daardie rakke gaan afstof en begin uitpak, want dis daar waar die diepste transformasie plaasvind.

Die meeste van ons is maar benoud oor hierdie proses, want ons weet nie wat ons daar sal vind nie. Tog is ek regtig oortuig dat ons nie nodig het om bang te wees nie, want God het ‘n ongelooflike deernisvolle manier om met ons te werk. Wat sou die ergste wees wat kon gebeur? Waarskynlik erge meosionele ongemak of pyn, maar jy gaan nie doodgaan nie. 

As God in liefde werk beteken dit hoegenaamd nie dat dit nie ook ‘n konfronterende proses gaan wees nie. Vir God om te doen wat Hy wil doen moet die klippe soms uitgekap word om by die goud uit te kom en die tumors moet soms uitgesny word om genesing te bring. ‘n Liefdevolle, lewegewende proses behels meermale pyn en altyd die waarheid. Daarom is Jesus se woorde in Johannes 8:32 ook waar van ons interne prosesse: Ons sal die waarheid ken en die waarheid sal ons vry maak. So klim af met daardie trappe na die volgepakte rakke van jou binnewêreld, begin afstof en uitpak en beleef hoe God jou juis daardeur kom vry maak.