Friday, April 22, 2016

Die gaping tussenin


Ons weet dat die lewe op aarde ‘n komplekse okkasie is waar ons meermale geen ander keuse het as om tussen paradoksale of teenstellende werklikhede te leef nie. Hier dink ek aan iets voor die hand liggend, soos dat ek graag meer vriendelik en geduldig wil wees, maar agterkom dat die kragte in myself wat my buierig en kort van draad maak net so sterk is. Of dat ek myself volledig wil oorgee aan God se realiteit in my lewe, maar agterkom dat die realiteite van die wêreld waarin ek leef elke nou en dan weer dreig om my in te sluk en maak dat ek sukkel om op God te fokus.

Dis een ding om oor die paradokse of teenstellende werklikhede van die lewe te filosofeer. Dis iets heeltemal anders om dit te leef. Om dit te leef is regtig ‘n groot uitdaging!

In my eie lewe voel ek dikwels hoe ek uitmekaar geskeur word tussen wat ek wil hê en wat is; tussen my idee van die werklikheid en hoe ek glo dinge kan wees, teenoor dit wat in die alledaagse realiteit afspeel en daardie prentjie van my wreed ontnugter. Ek ervaar ook dikwels hoe ek weet dat God my ontsettend liefhet en hoe ek uit die gawes kan leef wat hy aan my gegee het, maar terselfdertyd is ek intens bewus van die skadu’s (wat meer word hoe ouer ek word) en dat ek sukkel om te glo dat God my regtig onvoorwaardelik liefhet.
Dis maklik om daaroor te praat, maar moet mens dan altyd hierdie tweespalt beleef? Hoe leef ek in die gaping tussen die twee realiteite?
By die eerste eeuse Christene vind ons ‘n antieke simbool wat heelwat in hulle kuns na vore gekom het, wat bekend staan as die mandorla. Die mandorla bestaan uit twee sirkels wat mekaar in die middel oorvleuel en daar waar dit oorvleuel sien jy ‘n amandelvorm (vandaar die woord mandorla, wat Italiaans vir amandel is).

Die mandorla verteenwoordig twee teenstellende werklikhede byvoorbeeld God se realiteit en die aardse werklikheid.

Die een helfte fokus op die gawes in myself waarmee God my gemaak het waarvoor ek en ander maklik lief kan wees. Die ander kant fokus op daardie dinge in myself waarvoor ek nie so lief is nie en glo ander ook nie voor kan lief wees nie en dit daarom eerder verskuild hou.
Maar dis daar in die middel waar die twee wêrelde bymekaar kom dat die transformasie plaasvind, want dis ook daar waar die volle prentjie van hoe God my sien aan die lig kom.
Henri Nouwen skryf op ‘n stadium hieroor: The many contradictions in our lives – such as being home while feeling homeless, being busy while feeling bored, being popular while feeling lonely, being believers while feeling many doubts – frustrate, irritate, and even discourage us. They make us feel that we are never fully present.
But there is another response. These same contradictions can bring us into touch with a deeper longing for the fulfilment of a desire that lives beneath all desires and that only God can satisfy. Contradictions, thus understood, create the friction that can help us move toward God.
Die teenstellende werklikhede in ons lewe wil ons dus help om nie net een van die twee te kies nie, want meestal kan ons nie, maar om God te ontmoet in die ruimte waar die twee werklikhede oorvleuel en Hom toelaat om daar met ons te woel en te werk. Om nie die spanning tussen die twee op te hef nie, maar midde- in die spanning iets van God se aktiewe betrokkenheid in die detail van my lewe te ervaar, soos Filippense 4:6 en 7 ons leer.


Met sagte oë



Verlede Sondag is ek en die kinders bietjie laat vir kerk en ons kry nie plek aan die kant waar ons gewoontlik sit nie, met die gevolg dat ek vir die eerste keer in amper 20 jaar op ‘n plek op die gallery gaan sit waar ek nog nooit gesit het nie. En hoe insiggewend was dit! Om dinge skielik uit ‘n totaal ander hoek te beskou is soms baie goed vir mens. 

So sien ek dinge raak wat ek nog nooit gesien het nie: die een vroetel met ‘n lekkergoedpapiertjie, daardie een sukkel om die oë oop te hou, nog iemand op die oorkantste gallery sing glad nie saam nie, maar kyk mense, soos ek. Ek sien ou bekendes wie se lewenstories ek tot in die fynste detail ken. Ek sien totaal onbekendes en wonder wie is hulle. So kom dit toe by my op hoe divers elkeen van ons is, maar terselfdertyd hoe ons sukkel om mense te aanvaar.

Aanvaarding is waarskynlik een van die moeilikste dinge. Om in myself die ruimte te vind dat mense werklik anders as ek is en dat hulle nooit gaan maak soos ek wil hê hulle moet nie, is vir die meeste van ons bitter swaar. Iemand het eenmaal gesê: “Accepting all the good and bad about someone, is a great thing to aspire to. The hard part is actually doing it.” En dan die mooi uitnodiging van Romeine 15:7 Aanvaar mekaar dan soos Christus julle aanvaar het.

Daar is natuurlik ‘n groot verskil tussen om iemand te aanvaar en iemand te verdra. As ek jou verdra beteken dit dat  ek maar uithou en aanhou met jou en jou geite en giere maar verduur, al wil ek eintlik hê dat jy op ‘n ander manier moet optree of sommer net anders moet wees as wat jy is. Om iemand te aanvaar is ‘n heel ander storie. Ek aanvaar jou wanneer ek jou toelaat om die mens te wees wat jy is. Ek aanvaar jou wanneer ek jou nie heeltyd by my agenda wil inforseer nie. Ek aanvaar jou wanneer ek vir jou die ruimte skep om te ontwikkel en te groei en foute te maak en daardie mens te word wat God wil hê jy moet wees.

Natuurlik is daar sekere gedrag wat ons nie kan aanvaar nie. Destruktiewe, vernietigende gedrag en houdings wat ons teen mekaar uitleef is in geen konteks aanvaarbaar nie en daarteen moet ons opstaan. Maar aanvaarding gaan oor wie die ander persoon ten diepste is.

Dalk is een van die groot redes waarom ons ander nie kan aanvaar nie omdat ons sukkel om onsself te aanvaar. Ons sukkel aan die een kant om ons gawes te omarm  en vanuit dit te leef, en ons sukkel aan die ander kant om ons skadukant toe te eien en te aanvaar dat daar aspekte deel is van my wese wat nie vir myself of ander goed is nie. Dis op hierdie pad wat God ons nooi om myself te sien en te aanvaar soos ek werklik is, myself te aanvaar soos Hy my aanvaar en toe te laat dat Hy daardie dinge in my transformeer wat nie tot heil van myself of ander is nie. Hierdie pad is God se met ons en nie ‘n bestemming nie.

Hieroor skryf Elizabeth Meluch: "Each of us is still in the making, but as responsible for our lives as we are, we do not have to do it all alone. God is creating the world through us, but we are part of the world that God is helping us to create. If at times we can just be, just quietly sit in the sun of God’s love for us, if we can believe that the One who formed us in the first place is waiting to transform us in the embrace of love, then in what we are doing with our lives, God will increase and we will decrease in the best sense of the word."

Wanneer die Bybel sê ons moet ander lief hê soos onsself, kan ons sekerlik ook byvoeg ons moet ander aanvaar soos onsself. As ek met sagte oë na myself kan kyk (soos God) en met liefdevolle deernis met myself kan omgaan, sal ek sien dat dit met tyd makliker word om dit met ander ook te doen.

Tuesday, April 12, 2016

Tussen die hemel en die harde grond



Soms dink ons ons geloofspad moet hierdie wonderlike ervaring wees van ontmoetings met God en buitengewone belewenisse. En wat ‘n skok is dit dan as mens iewers agterkom dat ons verhouding met God geleef word in die alledaagse realiteit van die gewone lewe waar dinge dikwels meer frustrerend is as wat ons wil hê en waar ons meermale vasval in die draadwerk van ons verhoudings en die eise van die lewe.  Dalk is een van die groot redes waarom ons dikwels so sukkel met die lewe ons verwagtings. Sommige van ons het te hoë verwagtings van die lewe en ander te laag. Sommige van ons dink dat die lewe beter gaan wees as wat dit is en ander weer dat die lewe slegter is as wat dit is. 

Of soos iemand eenmaal gesê het: “Reality is never as cruel or as wonderful as we believe it to be.”

Wanneer ek praat oor verwagtings kom woorde soos naïewiteit, verrassing, ontnugtering, realiteit, unieke uitkomste, frustrasie en teleurstelling by my op. In my eie lewe is ek geneig tot hoë verwagtings van mense en van situasies. Ek dink dikwels dat dinge anders gaan uitspeel as wat wel die geval is, met die gevolg dat ek maklik teleurgesteld staan en geweldig gefrustreerd is met hoe dinge nie is nie. Die ironie is dat ek dan verwagtings aan mense en situasies stel waaraan ek self nooit sal kan voldoen nie. Die vraag is natuurlik waar kom hierdie hoë of lae verwagtings vandaan? Dalk aan die een kant uit my eie leegheid of my eie angstige soeke na iets of iemand wat my behoefte sal bevredig, of aan die ander kant uit my eie teleurstelling met die lewe of die ervaring dat die lewe my al te veel platgeslaan het.


Nou is die vraag: Wat sou die teenmiddel vir of te hoë of te lae verwagtings wees? Die antwoord klink dalk eenvoudig maar om dit te doen is geweldig ingewikkeld. Ek vermoed die Here nooi ons om ons idee van hoe die lewe moet wees of nie moet wees nie te laat los en te vertrou dat die realiteit van die lewe deur God gebruik word om my te vorm en te transformeer, ongeag van of ek dink dis goed of sleg of lekker of wreed. God kan enige konteks in my lewe gebruik vir my groei, mits ek oop is daarvoor. Hierdie tipe vorming vind plaas in die ruimte waar ek myself oopstel vir God en wanneer ek tyd by God spandeer en oop is vir sy transformerende prosesse in my lewe.


Ruth Haley Barton skryf so daaroor:  Without solitude, we are dangerous in the human community and in the Christian community because we are at the mercy of our own compulsions. We are driven by our inner emptiness to a self-seeking, anxious search for fullness in the next round of activities, accomplishments, or relationships. When we are not finding ourselves loved by God in solitude, we live life in the company of others always on the prowl for ways in which they can fill our emptiness. We enter into life in community trying to grab and grasp from others what only God can give.

On the other hand, when we are experiencing ourselves as the beloved of God, accepted and cherished by him in all of our beauty and brokenness, our hard, rough edges start to soften. We begin to see that others are beloved as well and that is what gets reflected back to them when they look into our eyes. For there is nothing that fills like the Love that is God. There is nothing that transforms like the Presence that is God. There is nothing that produces what the Silence of God produces within the human soul.

Not only does the love of God come to us in solitude, the love of God begins to pour through us to others. This is a very different kind of productivity and only God can bring it forth.


Of soos Sheila Cussons dit so aangrypend stel in haar gedig “Werkwoord”


Van ek kon dink
het U my laat springmat
tussen die hemel
en die harde grond,
en dit was ekstase,
die wip en die bons albei,
want ek lewe dan eers voluit
wanneer U woel met my.


Om my oor te gee aan God se prosesse te midde van die realiteit van die lewe kan my eie verwagtings, hetsy onrealisties hoog of verpletterend laag, belyn met God se groter proses en kan my leer om te weet dat die lewe nie so wreed of so ongelooflik is soos ek glo dit is nie, maar dat dit tot barstens toe vol is van Groei en Lewe – al kom hierdie weet nie maklik nie.






Die krag van een


So rukkie terug sien ek hierdie foto en hoe fassinerend is dit nie? Die titel van hierdie installasie in ‘n kunsmuseum is “Die krag van een boek”. Dis fassinerend as mens daarna kyk. Dat een enkele boek die hele konstruksie van die muur kan beïnvloed! Dieselfde is waar van ons mense.
Ons besef nie altyd dat elke mens ‘n sekere hoeveelheid mag het wat ‘n groot bepalende effek in die realiteit om ons kan hê nie. Mag is ‘n fassinerende ding. Dis nie net die magtiges wat oor mag beskik nie, maar elke mens wat op een of ander manier ‘n keuse uitoefen oor wie jy wil wees en hoe jy wil optree.
Op ‘n dag was daar ‘n man wat aan die einde van sy lewe op sy sterfbed gelê en reflekteer het oor die jare wat verby is en gefrustreerd besef het dat hy dalk van die verkeerde kant af geleef het. Hy het gesê: “Toe ek jonk was het ek geglo dat ek die wêreld sal verander. Maar mettertyd het ek besef dit gaan nie gebeur nie. Later het ek probeer om my land te verander, maar na ‘n ruk het ek besef ek gaan dit nie regkry nie. Daarna het ek probeer om my dorp te verander, maar ook dit was nie suksevol nie. Volgende het ek geglo ek sal my familie verander, maar dit was onsuksesvol. Laastens het ek probeer om my gesin te verander, maar uiteindelik moes ek daar ook opgee. Ek wens ek het maar probeer om myself te verander. As ek myself verander het sou dit dalk ‘n effek op my gesin gehad het. Dit sou moontlik ‘n verandering in ons familie kon bring. Die hele familie sou dalk die karakter van die dorp kon verander en mettertyd sou ons dorp dalk ook die land begin verander. En dalk kon ons land dan die wêreld verander. Het ek maar by myself begin!”

Hierdie verhaal tref my altyd in sy eenvoud. En tog het dit ‘n baie kragtige boodskap.
Daar is soveel voorbeelde in die Bybel van mense wat ‘n sekere keuse uitoefen en dan letterlik ‘n rimpeleffek op die hele konteks rondom hulle het. Kaïn wat kies om vanuit wraak en selfsug sy broer Abel dood te maak. Lot wat doelbewus die beter grond bo Abraham kies. Josef se broers wat van hom ontslae probeer raak, maar Josef wat kies om die beste van sy lewe te maak tot voordeel van baie ander. Ester wat haar guns by die koning gebruik en haar mense se lewe spaar. Daar is nog eindelose voorbeelde. Die grootste voorbeeld is sekerlik Jesus wat te midde van die beperktheid van ‘n menslike bestaan Homself aan God se realiteit oorgee en daardeur die ganse geskiedenis van die mensdom kom verander. 

God nooi ons om deel te wees van hierdie nalatenskap van Jesus - van mense wat besef dat Hy ons met spesifieke gawes en vermoëns gemaak het en dat ons in ons klein konteks meer invloed het as wat ons dink. As elkeen van ons dit maar kan verstaan en ons kan begin om daardie invloed aan te wend deur heel eerste myself aan God oor te gee en toe te laat dat sy Koninkryk deur my lewe kom, sal die mure wat ons bou anders begin lyk en verreikende invloed hê.

Voor my eie deur






Een van die dinge wat ons mense graag doen is om ander mense of omstandighede te blameer vir waar ons ons bevind. Dis natuurlik ’n volkome menslike verskynsel. Soms blameer ons nie blatant of doelbewus nie, maar vind ons onbewuste redes oor waarom ons is soos ons is, of optree soos ons optree. Deel van geloofsvolwassenheid is dat ek sal leer om vir myself, my gedrag en my optrede verantwoordelikheid te aanvaar. Hierdie is ’n moeiliker saak om te takel as wat ons dink.


Een populêre manier waarop Christene uit ’n bepaalde tradisie kies om hul verantwoordelikheid vir hulself te ontduik is die konsep van bloedlynvloeke. Hier word ’n teks soos Eksodus 20: 5 redelik uitmekaar geruk: Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat... Volgens hierdie teorie word jou voorgeslag of bloedlyn die rede waarom jy sekere gedrag openbaar en glo mense dan maklik dat dit nie entlik hulle skuld is dat hulle so is of optree nie, maar dat hulle willose slagoffers is van die “sondes van die vaders”. Dis ’n baie gevaarlike manier om hierdie teks te gebruik, want of mens dit nou wil weet of nie, dit is ’n baie slinkse manier om nie voor jou eie deur te vee nie. 

Carl Jung het vanuit ’n ander hoek oor dieselfde saak geskryf: “But no matter how much parents and grandparents may have sinned against the child, the man who is really adult will accept these sins as his own condition which has to be reckoned with. Only a fool is interested in other people's guilt, since he cannot alter it. The wise man learns only from his own guilt. He will ask himself: Who am I that all this should happen to me? To find the answer to this fateful question he will look into his own heart.”

Die laaste sê oor ons verhaal behoort nie aan ons genetiese predisposisie of ons oorerflike eienskappe of die verhaal van ons verlede nie, maar aan die realiteit van Jesus se opstanding in ons lewe en die pad van lewe waarop God ons wil lei. Of soos die Eksodusteks in vers 6 sê: “...maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam”.

Omdat ons as gelowiges vanuit die krag van die opstanding kan leef, gee God ook aan my die moed om vir myself en my eie gedrag en geneigdhede verantwoordelikheid te aanvaar, om inderdaad te leer hoe om voor my eie deur te vee, nie ander te beskuldig vir hoe dit met my gaan en wie ek is nie en veral, toe te laat dat die Here my transformeer tot die mens wat Hy gedroom het ek sal wees.