Thursday, April 7, 2016

Bewaar my van maklike antwoorde



Die tema van sterf aan jouself is waarskynlik een van die mees sentrale, maar terselfdertyd ook die mees ingewikkelde Evangeliese konsepte om te verstaan.  As daar maar iewers ‘n bloudruk bestaan het vir presies wat dit behels en as daardie bloudruk vir almal dieselfde was, sou dit tog wonderlik wees, maar ek is bevrees dat dit nie so eenvoudig is nie.

Daar is baie mense wat bely dat hulle in Jesus glo, maar wat waarskynlik nie met hulle lewens verstaan wat “sterf aan jouself” beteken nie. Ek kan nie bely dat ek in Jesus glo, maar in my lewenskeuses en lewenstyl swaai ek nog steeds op alle gebiede self die septer nie. Hierdie tendens onder gelowige mense veroorsaak ‘n teenreaksie en bring mee dat sommige die uitnodiging om aan jouself te sterf op só manier verstaan, dat hulle heeltemal na die anderkant oorhel. Dat hulle hulself so misken en ontken en ooreis dat hul verstaan van “sterf aan jouself” nie meer tot eer van God is nie, maar destruktief en selfvernietigend.

Ek bevind my byvoorbeeld ‘n week of wat gelede twee dae na mekaar in min of meer dieselfde situasie. Die een dag skep ek vir nege mense kos op en aan die einde van die pot het ek nie vir myself ‘n porsie oorgehou nie. Die volgende dag skep ek weer vir dieselfde groep mense kos op, maar toe al die borde uitgedeel is, is daar nie ‘n bord vir my nie. Ek het vergeet om myself te tel! Mens sou kon reageer en sê: “Sjoe, dit is darem selfloos”, maar dis nie selfloos nie. Dis ook nie sterf aan myself nie. Dis sommer net hartseer.

Om een of ander rede sukkel ons mense om ekwilibrium te vind en is ons soos die spreekwoordelike pendulum voortdurend aan die kant van twee uiterstes.
Wanneer ons genooi word om onsself prys te gee gaan dit nie oor ‘n asketiese prysgawe van alles in die wêreld, van alles waarvan ons hou en van alles wat bepaal wie ons is en ons diepste behoeftes nie. Dit gaan wel daaroor om myself meer en meer aan God se wil vir my lewe te onderwerp. Om met ander woorde elke dag as ek opstaan, soos Jesus daardie aand in Gestsemané te bid: “Laat nie my wil vandag seëvier nie, Here, maar U wil.”


Wanneer ek myself aan God se wil onderwerp, leer ek al meer om te onderskei wat die werklik belangrike dinge is. Leer ek oor tyd om agter te kom op watter pad van sterf aan myself Jesus my nooi. En dit is helaas nie ‘n maklike saak nie. Trouens, dis ‘n hoogs persoonlike saak wat ons nie sommer met ‘n generiese antwoord durf aanspreek nie. Mag die Here my en jou help om in die diepste kern van ons bestaan te leer wat “sterf aan myself” in my lewe beteken en my bewaar van maklike antwoorde.



No comments:

Post a Comment