Friday, April 22, 2016

Met sagte oë



Verlede Sondag is ek en die kinders bietjie laat vir kerk en ons kry nie plek aan die kant waar ons gewoontlik sit nie, met die gevolg dat ek vir die eerste keer in amper 20 jaar op ‘n plek op die gallery gaan sit waar ek nog nooit gesit het nie. En hoe insiggewend was dit! Om dinge skielik uit ‘n totaal ander hoek te beskou is soms baie goed vir mens. 

So sien ek dinge raak wat ek nog nooit gesien het nie: die een vroetel met ‘n lekkergoedpapiertjie, daardie een sukkel om die oë oop te hou, nog iemand op die oorkantste gallery sing glad nie saam nie, maar kyk mense, soos ek. Ek sien ou bekendes wie se lewenstories ek tot in die fynste detail ken. Ek sien totaal onbekendes en wonder wie is hulle. So kom dit toe by my op hoe divers elkeen van ons is, maar terselfdertyd hoe ons sukkel om mense te aanvaar.

Aanvaarding is waarskynlik een van die moeilikste dinge. Om in myself die ruimte te vind dat mense werklik anders as ek is en dat hulle nooit gaan maak soos ek wil hê hulle moet nie, is vir die meeste van ons bitter swaar. Iemand het eenmaal gesê: “Accepting all the good and bad about someone, is a great thing to aspire to. The hard part is actually doing it.” En dan die mooi uitnodiging van Romeine 15:7 Aanvaar mekaar dan soos Christus julle aanvaar het.

Daar is natuurlik ‘n groot verskil tussen om iemand te aanvaar en iemand te verdra. As ek jou verdra beteken dit dat  ek maar uithou en aanhou met jou en jou geite en giere maar verduur, al wil ek eintlik hê dat jy op ‘n ander manier moet optree of sommer net anders moet wees as wat jy is. Om iemand te aanvaar is ‘n heel ander storie. Ek aanvaar jou wanneer ek jou toelaat om die mens te wees wat jy is. Ek aanvaar jou wanneer ek jou nie heeltyd by my agenda wil inforseer nie. Ek aanvaar jou wanneer ek vir jou die ruimte skep om te ontwikkel en te groei en foute te maak en daardie mens te word wat God wil hê jy moet wees.

Natuurlik is daar sekere gedrag wat ons nie kan aanvaar nie. Destruktiewe, vernietigende gedrag en houdings wat ons teen mekaar uitleef is in geen konteks aanvaarbaar nie en daarteen moet ons opstaan. Maar aanvaarding gaan oor wie die ander persoon ten diepste is.

Dalk is een van die groot redes waarom ons ander nie kan aanvaar nie omdat ons sukkel om onsself te aanvaar. Ons sukkel aan die een kant om ons gawes te omarm  en vanuit dit te leef, en ons sukkel aan die ander kant om ons skadukant toe te eien en te aanvaar dat daar aspekte deel is van my wese wat nie vir myself of ander goed is nie. Dis op hierdie pad wat God ons nooi om myself te sien en te aanvaar soos ek werklik is, myself te aanvaar soos Hy my aanvaar en toe te laat dat Hy daardie dinge in my transformeer wat nie tot heil van myself of ander is nie. Hierdie pad is God se met ons en nie ‘n bestemming nie.

Hieroor skryf Elizabeth Meluch: "Each of us is still in the making, but as responsible for our lives as we are, we do not have to do it all alone. God is creating the world through us, but we are part of the world that God is helping us to create. If at times we can just be, just quietly sit in the sun of God’s love for us, if we can believe that the One who formed us in the first place is waiting to transform us in the embrace of love, then in what we are doing with our lives, God will increase and we will decrease in the best sense of the word."

Wanneer die Bybel sê ons moet ander lief hê soos onsself, kan ons sekerlik ook byvoeg ons moet ander aanvaar soos onsself. As ek met sagte oë na myself kan kyk (soos God) en met liefdevolle deernis met myself kan omgaan, sal ek sien dat dit met tyd makliker word om dit met ander ook te doen.

No comments:

Post a Comment