Thursday, April 7, 2016

Stof tot stof



Ek moes al ‘n klomp kere met mense se as te doen hê by begrafnisse.  Elke keer verbyster dit my om te dink dat die persoon se aardse bestaan nou tot hierdie hopie as gereduseer is wat omtrent in ‘n papbakkie kan pas.
Die afgelope tyd het ons weer Aswoensdag as die begin van Lydenstyd herdenk.  Baie mense dink dat Aswoensdag daaroor gaan om spreekwoordelik as op my kop te gooi omdat ek so slegte mens is, maar eintlik wil Aswoensdag baie meer as dit doen.
Die teoloog, Walter Brueggeman, help ons om by ‘n ryker verstaan te kom. Eerstens wil Aswoensdag my herinner dat ek maar net ‘n mens is.  Ons vergeet soms ons dat ons uit die “stof”, uit die niks ontstaan het, dat ons aan die aarde behoort en dat ons mense nie lewe as sulks kan skep nie, maar van God se lewensasem afhanklik is.  Die lewe binne-in ons is met ander woorde nie “self-starting” nie, maar afhanklik van God se lewensasem.  Al die stemme wat ons roep na mag en sukses en beheer en welvaart hou ons soms onder die waan dat ons meer onafhanklik en selfonderhoudend is as wat ons is.
Tweedens word ons bewus gemaak dat ons as mense van die aarde ook ‘n verantwoordelikheid het teenoor die aarde en daarom nie sommer maar net op ons selfgerigte en egosentriese manier kan voortgaan nie. Ons word geroep om met verantwoording te leef teenoor die plek, die mense en die omgewing waar ons daagliks leef.  Om ‘n lewe te leef wat sin maak, binne God se groter droom.
In die derde plek roep Aswoensdag ons om te besef dat God getrou is en ons te midde van ons menslikheid nooit los of aan ons eie genade oorlaat nie, maar juis vir ons menslikheid lief is en ons in groot deernis koester met ‘n onsterflike liefde.  Niks beaam dit beter as die woorde van Psalm 103 nie:

8 Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. 9 Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. 10 Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, 11 want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. 12 So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. 13 Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. 14 Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. 15 Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n veldblom wat oopgaan: 16 as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. 17 Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte...
 
Volgende keer as ek weer met die klein boksie as in my hande staan sal ek nie net dink “Stof tot stof nie”, maar sê “Dankie vir my stoflikheid, Here.  Help my om voor ek stof word, terug te ploeg in die lewe en elke dag diep bewus van my afhanklikheid van U te leef.”

No comments:

Post a Comment