Friday, April 22, 2016

Die gaping tussenin


Ons weet dat die lewe op aarde ‘n komplekse okkasie is waar ons meermale geen ander keuse het as om tussen paradoksale of teenstellende werklikhede te leef nie. Hier dink ek aan iets voor die hand liggend, soos dat ek graag meer vriendelik en geduldig wil wees, maar agterkom dat die kragte in myself wat my buierig en kort van draad maak net so sterk is. Of dat ek myself volledig wil oorgee aan God se realiteit in my lewe, maar agterkom dat die realiteite van die wêreld waarin ek leef elke nou en dan weer dreig om my in te sluk en maak dat ek sukkel om op God te fokus.

Dis een ding om oor die paradokse of teenstellende werklikhede van die lewe te filosofeer. Dis iets heeltemal anders om dit te leef. Om dit te leef is regtig ‘n groot uitdaging!

In my eie lewe voel ek dikwels hoe ek uitmekaar geskeur word tussen wat ek wil hê en wat is; tussen my idee van die werklikheid en hoe ek glo dinge kan wees, teenoor dit wat in die alledaagse realiteit afspeel en daardie prentjie van my wreed ontnugter. Ek ervaar ook dikwels hoe ek weet dat God my ontsettend liefhet en hoe ek uit die gawes kan leef wat hy aan my gegee het, maar terselfdertyd is ek intens bewus van die skadu’s (wat meer word hoe ouer ek word) en dat ek sukkel om te glo dat God my regtig onvoorwaardelik liefhet.
Dis maklik om daaroor te praat, maar moet mens dan altyd hierdie tweespalt beleef? Hoe leef ek in die gaping tussen die twee realiteite?
By die eerste eeuse Christene vind ons ‘n antieke simbool wat heelwat in hulle kuns na vore gekom het, wat bekend staan as die mandorla. Die mandorla bestaan uit twee sirkels wat mekaar in die middel oorvleuel en daar waar dit oorvleuel sien jy ‘n amandelvorm (vandaar die woord mandorla, wat Italiaans vir amandel is).

Die mandorla verteenwoordig twee teenstellende werklikhede byvoorbeeld God se realiteit en die aardse werklikheid.

Die een helfte fokus op die gawes in myself waarmee God my gemaak het waarvoor ek en ander maklik lief kan wees. Die ander kant fokus op daardie dinge in myself waarvoor ek nie so lief is nie en glo ander ook nie voor kan lief wees nie en dit daarom eerder verskuild hou.
Maar dis daar in die middel waar die twee wêrelde bymekaar kom dat die transformasie plaasvind, want dis ook daar waar die volle prentjie van hoe God my sien aan die lig kom.
Henri Nouwen skryf op ‘n stadium hieroor: The many contradictions in our lives – such as being home while feeling homeless, being busy while feeling bored, being popular while feeling lonely, being believers while feeling many doubts – frustrate, irritate, and even discourage us. They make us feel that we are never fully present.
But there is another response. These same contradictions can bring us into touch with a deeper longing for the fulfilment of a desire that lives beneath all desires and that only God can satisfy. Contradictions, thus understood, create the friction that can help us move toward God.
Die teenstellende werklikhede in ons lewe wil ons dus help om nie net een van die twee te kies nie, want meestal kan ons nie, maar om God te ontmoet in die ruimte waar die twee werklikhede oorvleuel en Hom toelaat om daar met ons te woel en te werk. Om nie die spanning tussen die twee op te hef nie, maar midde- in die spanning iets van God se aktiewe betrokkenheid in die detail van my lewe te ervaar, soos Filippense 4:6 en 7 ons leer.


No comments:

Post a Comment