Wednesday, May 11, 2016

Verbeel jou



So ruk terug lees ek hierdie woorde raak: Imagination should be used not to escape reality, but to create it. Dit het my nogal in my spore gestop. So dikwels wens en droom en verbeel ons vir onsself ‘n ander realiteit, maar voel nie regtig dat daar iets van sal kom nie. Die vraag is: hoekom nie?
Sover dit ons realiteit aanbetref is daar ‘n paar dinge wat ons in ag moet neem.
Dit is so dat ons elkeen ons binne ‘n bepaalde konteks bevind en dat daardie konteks sekere eise en verpligtinge op ons plaas wat dikwels baie frustrerend kan wees. Die vraag is natuurlik: hoe het ek by hierdie realiteit uitgekom? Sommige van ons het ‘n keuse gemaak en die gevolg van daardie keuse is hierdie werklikheid waarin ek nou leef, goed of sleg. Ander van ons bevind ons in omstandighede wat ons dalk nooit sou kies nie, en waarvan ons óf die beste moet maak, óf bitter dankbaar is dat dinge so uitgewerk het. Ongeag van wat die geval mag wees, moet ons besef dat die keuses wat ek vandag maak oor hoe ek my lewe wil leef die boustene is van die realiteit wat ek môre gaan leef. Daarom moet ons baie versigtiger met ons keuses omgaan, want my keuses is een van die kragtigste invloede op my realiteit. Erwin McMannes was reg toe hy gesê het: Making choices is the most spiritual thing you can do.
Tweedens moet ek leer om met onderskeiding te leef. As gelowige is dit tog nie net ek wat op eie stoom vir myself ‘n nuwe realiteit verbeel en dit skep nie. Dis juis vir my belangrik dat die realiteit wat ek leef in lyn sal wees met God se droom en plan vir my lewe. Daarom vra onderskeiding van my om mooi te kyk na die rigting van my lewe en om in die eerste plek te soek na God se droom en my drome dan met God se droom te belyn, want dis daar waar my droom en God se droom oorvleuel dat ek optimale sin in my lewe sal ervaar. Dis hoekom Matteus 6:33 so waar bly: Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. As mens eers soek na wat vir God belangrik is, kom mens gou agter dat God se belange mettertyd heel spontaan ook jou belange word.

In die derde plek mag ek dalk my verbeelde realiteit in die oog hê en mag ek selfs sien hoe dit inpas by God se wil, maar beleef dat die realiteite van die alledaagse lewe dit vir my onmoontlik maak om daarby uit te kom. Dis hier waar ons moet leer om die groter prentjie voor oë te hou en nie verlam te voel as dit voel of die realiteite van die gewone lewe my verhoed om by daardie prentjie uit te kom nie. Rome is mos nie in een dag gebou nie. Trouens gebeur niks wat regtig die moeite werd is in ‘n japtrap en sonder moeite nie. Die belangrikste is dat ek nooit vergeet waarheen ek op pad is nie en dat ek sal vashou aan die groter droom wat my vorentoe roep. Of soos W. Clement Stone gesê het: Aim for the moon, that way, even if you miss you’ll still be amongst the stars.

In die laaste plek is ons geneig om te dink dat net sommige mense mag het en ander nie. Dit is natuurlik nie waar nie. Alle mense het mag, die vraag is waarvoor gebruik ek my mag? Gebruik ek dit op negatiewe onderdrukkende maniere wat die lewe vir ander swaar en moeilik maak, of gebruik ek my klein bietjie mag om moontlikhede te skep? As ek moontlikhede begin skep kom ek gou agter dat ek daarmee saam ook ‘n nuwe realiteit skep, wat andersins net nie sou ontstaan het nie. So word ons God se medewerkers wat in navolging van Hom nuwe realiteite ontdek, waar daar voorheen niks was nie.

Verbeel jou dat jou realiteit iewers eendag anders lyk, hoe gaan dit gebeur? Gaan God dit op ‘n bonatuurlike manier eendag terwyl jy slaap uit die hemel laat neerdaal? Waarskynlik nie. Hy gaan j
óú gebruik om dit te laat realiseer. Trouens kies God deur die hele Bybel selde engele of bonatuurlike agente. Hy gebruik meestal gewone mense, soos jy. Nee, dit gaan nie oornag gebeur nie en nee, dit gaan nie altyd eenvoudig wees nie, maar tree vir tree word my keuses van vandag die realiteit van môre en gebruik God my om saam met Hom sy droom vir my en ander se lewe te laat realiseer.
So wanneer jy weer so lekker dagdroom oor hoe dinge kan wees, onthou: Imagination should be used not to escape reality, but to create it. Dalk is dit hoekom God vir ons ‘n verbeelding gegee het.


No comments:

Post a Comment