Saturday, August 29, 2015

Wanneer God aan my hart raak



Mense vra dikwels vir my wat hulle kan doen om God te ervaar. Baie gelowiges wat ‘n diep pad met God stap sal soms amper geheimsinnig vir my sê dat hulle eintlik nog bitter min in hul lewe die bewustheid gehad het dat hulle God regtig beleef, en tog smag die meeste van ons op ‘n diep manier na God. Hoe kan dit wees dat die Bybel so vol daarvan is dat God na my soek en hoe kan die gelowiges in die Bybel so vol oortuiging van ervaring van God praat, maar ons beleef dit so moeilik?

Ek onthou ‘n baie lang tyd in my lewe waar ek beslis nie vir God ervaar het nie. Dit was my grootste wens, en tog het dit nooit gebeur nie. Nou, jare later, weet ek dat daardie tyd van geestelike droogte  - woestyntyd - goed was, want dit het my geleer dat my belewenis van God veel verder strek as my sintuiglike of emosionele ervaring van hom.
Hiermee sê ek nie dat sintuiglike of emosionele ervaring van God verkeerd of leeg is nie, maar ek vermoed tog dat ons sulke ervarings kunsmatig kan probeer aanwakker om onsself te laat voel dat ons God beleef, terwyl ons dalk meer verlief is op die idee van ‘n belewenis met God.
Party gelowiges praat so aanhoudend oor hulle ervaring van God se Gees en sê voortdurend hoe God met hulle praat, dat dit ongeloofwaardig word. Ek vra dan vir myself waarom dit my so pla? Die groot rede is dalk dat daar gemaak word asof God heeldag en aldag direk met jou praat en asof daar iets fout is met jou verhouding met God as dit nie gebeur nie. As ons na die grote Paulus kyk was sy ervarings van God se Gees allesbehalwe soetsappig, alledaags of terloops, maar uitsonderlik, raar en lewensveranderend. Dit was nooit iets wat hy geïniseer het nie, maar iets wat van God af gekom het. Werklike mistieke ervarings met God gebeur sonder twyfel, maar dit kan nie deur my eie pogings aangewakker word nie. Dis iets wat God se Gees in my werk. Mens kan dit nie met ‘n tegniek in ‘n kursus of boek leer nie.
Baie van ons het mistieke ervarings, maar omdat dit hoogs persoonlik, intiem en onverklaarbaar is, praat mens nie eintlik daaroor nie, of as jy daaroor praat, praat jy met baie min mense wat dan wel iets daarvan sal verstaan. Dis iets wat tussen ‘n persoon en God gebeur. Trouens is daar van die skrywers in ons tyd wat sê dat mens nie eintlik oor hierdie tipe ervarings kan praat nie, juis omdat dit so diep en subjektief en misties is en beslis nie as normatief voorgehou moet word nie. Persoonlik is ek baie versigtig vir groepe wat mistieke ervarings as die norm verhef, maar terselfdertyd is die ervarings wat ek al op hierdie vlak met God se Gees gehad het so eg dat ek eenvoudig nie kan maak of dit nie gebeur het nie. Ek is versigtig vir groepe wat van oortuiging is dat daar bonatuurlike manifestasies van God se Gees MOET plaasvind, anders is God se Gees nie in jou nie.
In die laaste tyd begin ek agterkom dat een manier om myself oop te stel vir die ervaring van God in my eie lewe en die belewenis van God saam met ander, my eie kwesbaarheid is. Die oomblik as ek bereid is om my skanse te laat sak, my voorgee van in beheer wees te laat vaar, en eerlik oor die areas van kwesbaarheid in my lewe te wees, gebeur daar diep binne my iets heiligs wat my van my weerloosheid en broosheid bewus maak. Dit gebeur dan amper sonder uitsondering dat as ek so rukkie hiermee sit ek voel hoe daar iets van God in my binnewêreld roer.
Ek begin al meer om God te ervaar wanneer ek kwesbaar, broos en gestroop is. Dit wil klink asof dit ook is wat met ander mense gebeur. Nou begin ek wonder of die moontlikheid dat ek iets van God kon beleef, nie nog altyd daar in die kwesbaarheid geskuil het nie, maar dat my hart nog altyd te hard en my ego te trots was om myself toe te laat om my skanse te laat sak en my kwesbaarheid en broosheid in die gesig te staar. Dis as ek op my eie en saam met ander kwesbaar en broos is dat ek bewus word dat God aan my hart raak. Miskien moet jy dit toets en kyk of jy ook, soos ek, agterkom dat dit een van die heilige plekke is waar jy iets van God kan ervaar.


Thursday, August 20, 2015

Om God te ontmoet





Sondagnag word ek wakker met ‘n nek so styf soos ‘n stok en my kop in ‘n baie vreemde posisie tussen die bedkassie en die matras. Nodeloos om te sê het die twee Panado’s wat ek gedrink het nie gehelp nie en het ek die week in relatiewe ongemak aangepak.

Oortuig dat die stywe nek gou sal wyk, drink ek Maandagaand die twee spierverslappers wat my so hoog soos ‘n toring laat voel. Maar, o wee! Dinsdagoggend 3:30 is ek wakker en kan letterlik nie roer nie. Die geringste beweging is loutere hel. Ek drink al die regte medisyne en is diep bewus dat hierdie stywe nek my aandag trek. Die wilde woeste drie weke wat soos ‘n trop wilde perde deur my lewe gejaag het maal in my gedagtes.

Ek loop die hele Dinsdag soos ‘n trapsuutjies en Woensdagoggend besef ek hier sal nou iets drasties moet gebeur. Vroeg-vroeg sms ek my fisio vriend en hy laat weet ek moet kom. Halfpad deur die oggend kom ek by sy praktyk aan en weet hierdie goue hande gaan my beslis help. Na allerhande maneuvers en skrikwekkende lang naalde in die brose nekspiertjies kan ek sowaar my kop draai. Ek klim baie verlig in die kar, maar toe ek daar wegtrek word ek skielik oorweldig deur ‘n vloedgolf van emosies.

Waar sou dit vandaan kom? Is dit die verligting dat ek weer my kop kan draai of dalk iets anders?
En toe besef ek – die emosies het niks te doen met my nek nie, maar met my hart.

Terwyl ek daar by hom was, was ek so geweldig broos en gestroop van enige voorgee en pretensie, so kwesbaar in my ongemak dat ek hoegenaamd geen skanse gehad het nie.
Juis darem was ek ontvanklik vir sy omgee, deernis, teerheid, sy nabyheid en oorweldigende sorgsaamheid. Hy het met soveel sagmoedigheid en egtheid met my gewerk, dat dit wat ek daar beleef het vir my ontsettend heilig was.

Daar in die laatoggend verkeer by die rooi robot met die son wat warm op my stywe, effens beweeglike nek skyn, besef ek dat ek vandag vir God gesien en gevoel het, in die hande van ‘n doodgewone mens, omdat ek gestroop genoeg was van my ego om ontvanklik te wees daarvoor.

Dalk is dit juis my en jou ego en verdedigingsmeganismes en skanse wat maak dat ons nie altyd ontvanklik is vir daardie liefde en deernis wat direk van God, na ons, deur ander kom nie. Die woorde van die eenvoudige Taize lied het op ‘n Woensdagoggend vir my nuwe betekenis gekry: Ubi caritas et amor Deus ibi est. Waar daar liefde is en deernis, daar is God.

Dis nou laataand,
alles is stil,
die pyn in my nek is grootliks weg en
terwyl ek voel hoe die slaap oor my toesak
brand daar heilige trane agter my ooglede,
want vandag het God my deur ‘n mens ontmoet.

My laaste bekering



Op ‘n dieper pad met God word ons geroep om telkens weer tradisionele konsepte vanuit nuwe hoeke te beskou. Tradisionele maniere van verstaan kan dikwels meebring dat diep begrippe oppervlakkig raak en daarom is dit nodig om dit te herbesoek en weer te verstaan.

Een so konsep is die begrip bekering of in Engels repentance. Van die groot teoloë beskou die gebruik van bekering of repentance as vertaling van die oorspronklike woord metanoia / μετάνοια, as een van die grootste tragedies in die Christendom en ‘n uiters gebrekkige vertaling, aangesien dit nie naastenby die betekenis van die ryk term wat in Grieks gebruik word, weergee nie. Trouens het ons nie in Afrikaans of Engels ‘n term of enkele woord wat kan laat reg geskied aan die Griekse term nie.

Bekering beteken tradisioneel vir ons hoofsaaklik om my optrede te hersien en berou te voel of spyt te wees oor iets wat ek gedoen het of nagelaat om te doen.  In Bybelse Grieks, dui metanoeō / μεταν+οέω en metanoia / μετάνοια 'n "verandering van denke, 'n verandering in die tendens en optrede van die hele innerlike natuur, wat die intellektuele, affektiewe en morele aard van die mens insluit.” Die woord het nie hierdie droewige spyt karakter wat ons daaraan gee nie, maar is ‘n woord wat hoopvol nuwe werklikhede wil oopbreek.

Twee belangrike figure in die Protestantse Hervorming wat saamgestem het dat metanoia / μετάνοια nooit bedoel is om as berou of skuldbelydenis of boetedoening verstaan te word nie was Luther en Calvyn. Vir hulle lê die betekenis van die woord op 4 vlakke: 1. keer weg van my ou manier, 2. draai om na God, 3. hou op om op my ou manier te dink en 4. begin op ‘n nuwe manier te dink.

As mens so begin dink oor metanoia (of ons gebrekkige term bekering) en iemand vra vir my wanneer ek tot bekering gekom het sou ek ‘n lang lys van al my bekerings kan maak, maar ek sal waarskynlik sommer net sê eergister, want eergister het ek tot ‘n ongelooflike nuwe insig gekom wat my in my spore gestop het en die hele manier hoe ek dink oor myself en oor God verander het. My bekering van eergister is meegebring deur hierdie woorde: 

Fear, constriction and resentment are seen by spiritual teachers to be an inherent blindness to be overcome. Those emotions cannot get you anywhere, certainly not anywhere good. Thus all mystics are positive people – or they are not mystics! Their spiritual warfare is precisely the work of recognizing and then handing over all of their negativity and fear to God. The great paradox hear is that such a victory is a total gift from God and yet somehow you must want it very much. (Richard Rohr in Eager to Love 2014: 9).

Ek weet dat daar nog eindelose metanoias
in my lewe gaan wees.
En so groei ek en jy elke dag nader en nader,
dieper en dieper, tot ons aan die einde van ons lewe
‘n laast
e maal die oue agter ons sal los
om vir ewig in God se verstaan
verder te bestaan.


Die oorbodige self: 'n Legende



Die verhaal word vertel van drie mense wat op soek was na die water wat lewe gee, in die hoop dat hulle daarvan kan drink en vir ewig lewe. 
Die eerste was ‘n kryger. Hy was oortuig dat die water wat lewe gee ‘n kragtige bruisende massa of stroomversnelling sal wees. Daarom het hy sy reis aangepak met sy volle wapenrusting en al sy wapentuig, omdat hy oortuig was dat hy die water met geweld aan sy wil sou kon onderwerp.
Die tweede was ‘n towenares. Sy was van mening dat die water wat lewe gee ‘n magiese manifestasie sal hê – dalk ‘n maalkolk of spuitfontein of ander vreemde verskynsel – iets wat sy met haar towerspreuke sou kon beheer. Daarom het sy op reis gegaan met haar mees indrukwekkende, kragtige towerkleed en staf waarmee sy natuurmagte kon beheer.

Die derde was ‘n handelaar. Hy het gereken die water wat lewe gee sou uiters duur wees. Dalk ‘n fontein wat borrel met pêrels of diamante. Daarom het hy etlike lae klere aangetrek en elke sak van sy klere vol goue munte gepak, in die hoop dat hy soveel as montlik van die water vir homself sal kan toeëien.

Toe die reisigers uiteindelik na baie onbekende en onherbergsame paaie die plek waar die water van lewe is vind, sou hulle egter ontdek dat hulle al drie dit heeltemal verkeerd gehad het. Dit was nie ‘n bruisende massa waarvoor jy kon veg nie. Dit was nie ‘n maalkolk wat jy met magiese spreuke kon betower nie. Dit was ook nie ‘n fontein borrelend van skatte wat jy met geld kon koop nie. Dit was ‘n smal, skitterende, standhoudende stroompie in ‘n woud waarvan jy verniet en sonder eie pogings soveel kon drink as wat jy wou. Die enigste twee vereistes was dat jy dit nie vir josuelf kon toeëien nie, aangesien dit vir almal was, en dat jy dit nie kon opskep nie, maar op jou knieë en onderstebo moes gaan staan om daarvan te drink.

Dit het konsternasie veroorsaak onder die drie reisigers. Die kryger, in sy volle wapenrusting, kon nie buk of buig nie en boonop kon hy nie sien hoe hy homself so weerloos kon maak nie. Die towenares se towerkleed kon onder geen omstandighede nat word nie, want dit sou daar en dan sy magiese krag verloor. Die handelaar was so belaai met geld dat as hy sy kop sou buig sy lae klere sou bars en geld oral rondrol.

Daar staan hulle toe, ten aanskoue van die stroom met die water wat lewe gee, maar hulle kan nie kniel om daarvan te drink nie.

Daar was maar een oplossing. Die kryger moes homself kwesbaar maak en sy wapenrusting neerlê. Die towenares moes haarself van enige mag ontbloot en haar towerkleed uittrek. Die handelaar moes die risiko waag om sy lae klere uit te trek en die geld, wat hier nutteloos was, onder ‘n boom neer te sit.

Toe eers kon hulle almal – gestroop en weerloos met niks om aan te bied nie – kniel om van die water wat lewe gee te drink.

Nou wonder ek sommer: as ek en jy ‘n vierde karakter in hierdie legende sou wees, watter mondering sou ons aanhê en waarvan sou ons moes ontslae raak om van die water wat lewe gee te drink?

"The false self - at whatever level - might simply remain in charge for a lifetime, as the individual limps through a life of internal insincerity. More often than not, however, the false self will at some point collapse under its own suffocating weight - there is a 'breakdown' - and the individual is faced with several choices: rest and recover and then resume the same false-self trajectory; drug the dilemma out of awareness; behaviorally reinforce actions that avoid the problem; or take up an investigation into the life of the lie, usually with a therapist who will help you interpret your interior intentions more truthfully. (Ken Wilber - A Brief History of Everything)

Sunday, August 2, 2015

'n Lamp is vir Lig





Ek was nogal altyd gefassineer met glaslampe. Daar is vir my iets geweldig aanloklik aan die gekleurde glas wat die mooiste patrone en die sagste lig deurlaat.

Tweemaal in my lewe het glaslampe my al heeltemal irrasioneel gehad.
 Eenmaal het ek saam met drie vriendinne in Istanbul se strate gestap en skielik het die winkel met sy mosaïek glaslampe soos ‘n visioen voor ons verskyn. Ek kon my oë nie daarvan afhou nie. Ek kon nie genoeg kry nie. Ek was heeltemal gehipnotiseer, in so mate dat ek meer as een keer terug is na die winkel en ten spyte van die ander se “Ons help jou nie dra nie!”, uiteindelik daar uitgestap het met ‘n boks met my eie glaslamp in, op pad terug Suid-Afrika toe.
‘n Ander keer was in die chaotiese strate van Jaipur, waar ek en Jaco ons vergaap het aan al die mooi goed en ek toe skielik weer oorweldig word deur die winkel met die glaslampe. Ek moes net, ek kon nie anders nie. En so bevind ek my weer met ‘n baie ongemaklike, hoekige, lomp boks in transito op pad van een kontinent na ‘n ander.
Wat my die meeste van sulke lampe aantrek is nie die glas as sulks nie, maar die mooi lig wat daaruit skyn. Die lamp bestaan mos nou vir geen ander rede as om dit vir die lig moontlik te maak om te skyn nie. Die oomblik as die lamp nie meer skyn nie en nie meer lig deurlaat nie, verloor dit in ‘n sekere sin sy aantrekkingskrag.
In Lukas 8:16 staan daar dat niemand tog ‘n lamp sal opsteek en dit dan sal wegsteek nie, maar dat mens dit êrens sit waar dit duidelik sigbaar is sodat die lig gesien kan word. Ons weet dat Jesus in sy tyd hier op aarde die Lamp was vir God se Lig. Na Hy aan ons die gawe van sy Gees gegee het, het ek en jy, en elke ander geleowige voor en na en saam met ons, die lamp vir sy Lig geword.
Deur sy lampe te wees neem ons sy Lig saam met ons oral waar ons in die wêreld mag gaan. Dalk is dit onder andere wat Jesus bedoel het toe hy op ‘n stadium gesê het dat ons groter dinge as Hy sal doen (Johannes 14:12). As ek besef dat ek God se lamp is en sy Lig in my dra, gaan dit nie oor my nie, maar oor Hom en word ek ter wille van die groter droom God se helende, ligdraende teenwoordigheid.
Natuurlik lyk my lamp anders as joune. Eintlik is dit irrelevant dat ons anders is, want in ons verskeidenheid, is ons doel steeds dieselfde, naamlik om Lig te wees. Ons kollektiewe andersheid en diversiteit maak juis die Lig in ons nog meer onweerstaanbaar, soos daardie winkels in vreemde lande waarby ek maar net nie verby kan loop nie.
Miskien kan Jesus se woorde in Johannes 12: 36 (DB) ons verder inspireer :
Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig.
Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.
Ek bid saam met jou en alle gelowiges van alle tye: Laat my vandag die lamp wees vir U Lig.