Thursday, April 24, 2014

Spring



Een van die vroegste dinge wat ons as kleintjies geuiter het, die oomblik toe die woord lekker om ons tongetjies kon krul, was die woordjie “self”. Daardie ingebore, deterministiese geneigdheid om op ons eie met die lewe reg te kom, was van vroegs af by ons en los ons nie sommer weer nie.
Selfs in ons verhouding met God probeer ons self regkom. Wanneer ons God beter leer ken, leer ons van oorgawe, vertroue, geloof en so meer. Maar selfs as dit hierby kom probeer ons dit ons eie projek maak. So sal iemand byvoorbeeld sê: “Ek moet die Here net meer vertrou” of “Ek moet nog beter glo” of “Ek moet myself nog meer aan God oorgee”. Aanvanklik klink dit baie eerbaar, maar wat gebeur hier? Die gemene deler aan die begin van elke stelling is “ek moet…”. So sal mens ook glo dat ek in tye van twyfel en onsekerheid net stywer aan God moet vashou, selfs moet vasklou.
Iemand het eenmaal vertel hoe sy altyd in moeilike tye vir God gesien het as die tou waaraan sy verbete moes vasklou terwyl sy oor die afgrond onder haar spartel om nie te val nie. Toe, op ‘n dag, besef sy dat die tou nie God is nie, maar haar eie idees van hoe die situasie moet afloop, dat die sogenaamde afgrond God se nimmereindigende teenwoordigheid is en dat God haar juis nooi om nie te klou nie, maar om te laat los.
Wat ‘n gedagte! Om nie te klou nie, maar juis te laat los… Nou is die vraag, vertrou ek God genoeg dat ek kan laat los? Verstaan ek iets van God wat my regtig nooit los nie en dat ek as sy kind nie eers self in sy arms kan invlug nie nie, omdat hy my reeds omarm en koester?  
Wanneer ek dit begin verstaan is die besef tegelyk ‘n reuse verligting, maar ook ‘n skrikwekkende werklikheid.
‘n Reuse verligting, want nou hoef ek nie meer so self en so hard te probeer om God te vind nie.
‘n Skrikwekkende werklikheid, want nou word ek gekonfronteer met my basiese wantroue en besef ek ek is nie seker of God my gaan vang as ak laat los nie.
Tog kom ek agter, hoe harder ek probeer, hoe meer spartel ek en hoe meer val ek vas.
Dis dan dat woorde soos Psalm 139:5 en Psalm 32:10 voor my kom staan.
Psalm 139:5
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Psalm 32:10
…maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde.
Nie een van hierdie twee kort verse beloof ‘n quick fix nie. Dit praat wel van God se teenwoordigheid wat veel meer omvattend en omsluitend is as wat ek ooit kon droom.
Dalk was jou idee van God nog altyd die van ‘n veilige boot op ‘n groot oseaan. Miskien is dit tyd om oor God te begin dink as die oseaan, jou oë toe te maak en te spring. Ek vermoed dit sal die begin wees van ‘n hele nuwe dimensie in jou verhouding met God:

Thursday, April 17, 2014

Goeie Vrydag



Vandag is Goeie Vrydag. Wat beteken dit nou eintlik as ons sê Jesus het baie jare gelede oor ‘n kwessie van drie dae gely, gesterf en weer opgestaan uit die dood? Verstaan ons dit?
Ek wil onmiddelik sê dat ek nie eers kan probeer om dit te begin verstaan nie, maar aan die ander kant is die waarde van hierdie boodskap so diep in my vesels en wese ingegraveer dat ek dit tog verstaan, maar net nie by woorde kan uitkom om dit te ontrafel en te dissekteer nie. Daar is iets van die misterie van hierdie gebeure wat ons as mense altyd sal transendeer aan die een kant, maar aan die ander kant wil inneem en omvou sodat dit alles wat ons is deurtrek.
Die boodskap van Jesus se lyding en opstanding het baie dimensies. Dit is tegelyk universeel en hoogs persoonlik, sosiaal en individueel, uitwaarts en inwaarts. Daar is nie ‘n aspek van menslike bestaan wat nie by hierdie kosmiese gebeure ingesluit word nie. Mense in tronke, mense in hospitale, eensame oumas, afgeskeepte rykmanskinders, mense in disfunksionele verhoudings, mense op straat, mense wat dink hulle het alles, mense wat voel hulle het niks, mense wat nie sien wie hulle is nie, mense wat diep bewus is van wie hulle is. So kan ek heeldag aangaan. Kom ons maak dit persoonlik.

Wat beteken Goeie Vrydag, stil Saterdag en Opstandingsondag in jou lewe met jou omstandighede?
Ek vermoed dat deel van die antwoord in hierdie aanhaling van Robert Mulholland (2008) lê:

We tend to look for some piece of information, some technique or method of spiritual formation that will take us from where we are to where we want to be with a minimum of inconvenience, pain or suffering. We have so emphasized the Life dimension of the New Testament that we have avoided coming to grips with its death dimension. We have avoided the fact that in the Gospel, Life comes out of death, not out of life. Trying to bring Life out of life attempts to escape the necessity of dying to the old parameters of our existence, the necessity to relinquish the brokenness of our being, the necessity of letting go of those things that warp and misshape and distort who we are.

Die uitdaging is om saam met Jesus, op die diepste en persoonlikste moontlike vlak, die pad van die kruis te loop, saam met hom te sterf, te wag, en deur God self opgewek te word. Sue Monk Kidd (2010) skryf aangrypend daaroor as sy sê: The tomb must become the womb. Die plek van die dood word die plek van die lewe. Sonder hierdie misterieuse pad van sterf, wat deur lyding loop, sal daar nie in my pad met God lewe wees nie. Dis ongelukkig hoe dit werk in God se wêreld. Ons glo nie dat dat God die outeur is van die rampe en skades in ons lewe nie, maar as ons hierdie misterie omhels besef ons dat ons moet anders dink oor enige vorm van swaarkry in ons lewe, want binne dit is die saad van die lewe opgesluit.

Vrydag is ‘n swaar, moeilike, ondenkbare dag;
Saterdag is stil, leeg, wagtend, verslane, oorgegee;
maar dan kom Sondag…

en hierdie woorde:
Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo. Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk toe God Christus uit die dood opgewek het… (Ef 1:19, 20 NLV).

In ons lewe is die pad van die Kruis selde ‘n kosmiese, bo-natuurlike gebeure.
Dis eerder ‘n proses,
maar dis God se proses,
en God se proses lei tot lewe.


Herfs



So met die seisoensverandering oral om ons raak mens weer diep bewus van die sikliese aard van die lewe. Mens kom agter dat dit vroeër donker word en later lig, jy voel die knyp in die lug vroegoggend en oral begin die blare verkleur. In Pretoria is mens nie altyd so bewus van die wisseling van die seisoene soos in ander streke van ons land of selfs die wêreld nie. Dit laat my in elk geval altyd dink aan die seisoene van ons mense se lewe. Ek vra ook altyd half onwillekeurig in watter seisoen bevind ek my in my verhouding met God?
Vir sommige van ons is dit tans winter. ‘n Tyd van gestrooptheid, van kwesbaarheid en broosheid waar ek nie anders kan nie as om na binne te keer en geduldig te wag tot ‘n nuwe dag aanbreek. ‘n Seisoen waar die wind soms trietsig om die hoeke waai en waar ek vertroosting vind op stiller plekke as voorheen.
Sommige van ons beleef ‘n lenteseisoen, waar daar nuwe lewe deur die takke stoot en ons bewus raak van iets nuuts waarmee God in my lewe wil besig wees. ‘n Tyd wat belofte inhou en wat my vul met ‘n ongekende afwagting. ‘n Seisoen van nuwe bewustelikheid waar alles vars en helder lyk.
Ander beleef somer in my verhouding met God waar die beloftes besig is om wasdom te bereik en baie om my kan vreugde put uit die plek waar ek myself bevind. Die potensiaal voel eindeloos en die lang dae en baie lig roep my om die meeste te maak van elke geleentheid.
Vir party van ons is dit inderdaad herfs. ‘n Soel tyd waar die dae nog warm en sag is. ‘n Tyd waar daar oorvloedige vrug is na die pas afgelope somer. ‘n Uitsonderlike seisoen wat tegelyk die tekens dra van dit wat voorafgegaan het, asook van dit wat oppad is. ‘n Tyd van rypheid, tevredenheid, oorgawe en vertroue, maar ook ‘n tyd waar ek ontslae raak van die blare wat in die vorige seisoen hulle doel gedien het.
In watter seisoen jy jou ook al bevind, van een ding kan ons seker wees: net soos ek geen beheer het oor die seisoene van die natuur nie, so het ek ook nie juis beheer oor die seisoen wat God se Gees in my lewe laat aanbreek nie. Ek kan wel weet dat die woorde van Psalm 31:16 waar is wat sê: My tye is in U hand… En juis daarom wil hierdie tyd van die jaar my uitnooi tot die oorgawe en vertroue in God se proses in my lewe sodat ek kan weet dat God self in my aan die werk is en dat dat hy dit waarmee Hy in my begin het sal volvoer. (Filippense 1:6 Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.) Mag jy hierdie Herfs, soos die die blare om jou verkleur en afval, diep bewus wees van die misterie van God se proses in jou lewe.

Tuesday, April 1, 2014

Die reuk van lewe



 Toe ek 20 jaar oud was is ek vir die eerste maal oorsee op ‘n studietoer van drie weke na Nederland en België. Wat ‘n wonderlike ervaring. In België aangekom het ons by ‘n groep plaaslike studente aangesluit wat saam met ons getoer het. Sommer gou het ek agtergekom dat daar iewers in die groep ‘n man is wat ongelooflik lekker ruik. Lank voor ek geweet het hoe hy lyk het ek geweet hoe hy ruik. Ek en my vriendin het van een parfumerie na ‘n ander geloop en gesoek na die reuk, tot ons dit gevind het: Egoïste Platinum pour homme… (gaan soek dit – jy sal verstaan!) Binne die volgende dag of wat het die reuk ‘n gesig gekry en ek was dadelik tot oor my ore toe verlief. Eintlik sou dit nie saak gemaak het hoe hy gelyk het nie, want ek was al verlief voor ek hom ontmoet het – nie op hom nie, maar op hoe hy geruik het! Vandag nog, elke keer as ek die reuk ruik, word my knieë lam.

Ons weet al te goed hoe sterk ons reuksintuig is. Dit het toegang tot ‘n deel van jou brein wat woorde nie kan ontsluit nie. So stap ek verlede week verby ‘n vrou in die straat en dadelik ruik ek my kleuterskooljuffrou en is ek ‘n dogtertjie van vier in haar klas, al kan ek nie eers haar naam of gesig onthou nie. Die reuk van die eerste reën op die grond na die winter, die reuk van vars gebakte brood, die reuk van varsgemaalde koffie. So sal ons eindeloos kan aanhou om die lys aan te vul.

In 2 Korinthiërs 2:14-15 (Nuwe Lewende Vertaling) staan daar hierdie aangrypende woorde:
 Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek. Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg… Wat ‘n aangrypende en verbeeldingryke beeld. Stel jou voor: wanneer mense by ons verbyloop, met ons te doen kry, in ons teenwoordigheid is, stel ons die reuk van God deur Christus vry en herinner ons mense aan God, selfs God wat hulle nie ken nie.
As ons iets hiervan begin verstaan, verstaan ek ook dat ek ‘n geweldige verantwoordelikheid het in terme van hoe ek lewe en wie ek is, want my lewe het die potensiaal om ander se diep behoefte aan God te ontsluit en hulle nader aan Hom te trek. Nou is die vraag: hoe ruik die reuk wat deur jou en my lewe die wêreld ingestuur word? As ek iets hiervan verstaan kan ek dalk vir God vra dat Sy reuk my al meer en meer sal deurtrek (of infuse) sodat al minder van my, en al meer van die lewegewende aroma van God deur Jesus in my lewe sal deursypel en versprei. Die reuk van lewe…


Jy en jou nageslag



Daar is baie van ons wat maklik geneig is om aan onsself te dink as die slagoffer. Die slagoffer van gebroke of mislukte verhoudings, die slagoffer van teëspoed of skewe klappe wat deur die lewe aan ons uitgedeel is. Dikwels is hierdie slagoffers-identiteit so fyn in ons ingeweef dat ons dit regtig nie raaksien nie en hoegenaamd nie na onsself as slagoffers sal verwys nie. Tog sien mens dit meermale in die futloosheid of verslaendheid waarmee ons leef.
Daar is aansienlik minder van ons wat besef dat ons oor baie mag beskik. Nie net mag oor ander mense en ons invloed op hulle nie, maar veral ook mag oor die keuses en die pad wat ekself loop.

Een so man is Jadav Payeng. ‘n Raps meer as 30 jaar gelede het Jadav Payeng as ‘n 16-jarige tiener naby sy dorp in die Noorde van Indië gaan stap en tot sy verbystering afgekom op ‘n klomp slange wat op ‘n sandrif gestrand was na ‘n vloed ‘n paar dae vantevore. Die slange kon nêrens heen nie en daar was geen skuiling in die omgewing nie en hulle het almal in die skroeiende son verbrand. Dit het Jadav se hart gebreek.
"The snakes died in the heat, without any tree cover. I sat down and wept over their lifeless forms. It was carnage. I alerted the forest department and asked them if they could grow trees there. They said nothing would grow there. Instead, they asked me to try growing bamboo. It was painful, but I did it. There was nobody to help me. Nobody was interested," sê Payeng, nou 47.
Hy het in sy beskeidenheid gou besef dat niemand omgee nie en as hy bekommerd is oor die lot van die wilde diere in die omgewing, wat al meer deur habitat verlies geteister word, sal hy iets daaraan moet doen. Hy het begin om saad wat hy oral opgetel het in die barre sand te plant. Dit was harde werk, veral omdat sy dorpie afgeleë was en hy soms ver moes loop om water vir sy saadjies aan te dra en hy hoegenaamd geen fondse gehad het nie. Tog het hy uitgehou – vir 30 jaar lank. Hy het dit sy lewenstaak gemaak om van die barre sandrif ‘n heenkome vir diere te maak en selfs op ‘n stadium daarheen getrek om voltyds na sy plante om te sien.
Vandag, dertig jaar later, staan daar ‘n woud van 1 360 akker! Vandag is sy woud ‘n veilige hawe vir voëls, bokke, renosters, tiers en olifante. Hy het selfs ‘n kolonie miere daar hervestig.
In ‘n ander land was Jadav dalk ‘n held, maar in Indië word daar nie veel van hom gemaak nie. Tog is sy grootste nalatenskap die lushof waar hy nou bly en die wye verkseidenheid van diere wat hier ‘n tuiste vind. Die woud en die diere is sy nageslag.

Dit laat vra mens waarmee ek en jy besig is? Gaan daar aan die einde van my tyd op aarde bloot ‘n sandrif agterbly met ‘n paar lyke wat ek agter my los, of is ek besig om ‘n ongenaakbare wêreld saad vir saad in ‘n leefbare, lewegewende plek te omskep?
God staan waarskynlik in afwagting en kyk wat ek en jy gaan maak met die klompie dekades wat ons gekry het. 
Of soos Hy in Deut 30:19 sê:  Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.



Met erkenning aan Bron Taylor, Professor in Godsdiens en Omgewingsetiek aan die Universiteit van Florida, Amerika.