Wednesday, December 18, 2013

Deur die mis




My hele ou gesinnetjie van herkoms het so klompie jare gelede besluit dat hulle na die Natalse Midlands trek. Twee maal per jaar, wanneer ons die 5 uur lange tog aanpak, kondig die digte mis anderkant Mooirivier aan dat die eindbestemming om die draai is. Gister was geen uitsondering nie. Elke keer, gister weer, trek my keel ondmiddelik toe en my hart klop in my keel, want skielik herinner die mis my aan ‘n oorweldigende geloofswaarheid: EK KAN NIE SIEN NIE!
Die lewe is nie anders as hierdie mistige stukkie pad nie. Ek dink ek het soveel insig en beheer, maar dit neem maar iets kleins om my in my spore te stuit en bewus te maak van my kwesbaarheid en uitgelewerdheid. Die onvoorspelbaarheid van die lewe roep my chronies om nie op myself nie, maar op God se droom vir my lewe te vertrou. Die groot uitdaging is natuurlik, soos met die pad buite Mooirivier, om maar net aan te hou om die petrol te trap, om maar net die pad te volg, om meter vir meter te beweeg en, al moet dinge effens stadiger as wat ek wil, te vertrou dat ek wel aan die ander kant sal uitkom en dat die Son aan die anderkant van hierdie miswolk skyn.

Met letsels en al









Iewers het Joaquin Sabina geskryf: I like eating, conversing, kissing and falling in love in a passionate and intense way. When you live this way, it is normal to have scars.
Dit klink natuurlik tegelyk romanties en skrikwekkend, maar die realiteit is dat die meeste van ons se lewe nie so passievol geleef word nie, al probeer ons hoe hard. Op 'n manier gebeur die lewe maar met elkeen van ons, en ons kan daarteen rebelleer so hard soos ons wil: die rekenings moet betaal word, om te eet kos geld en die sleur van 'n lewe maak kry ons maar altyd weer ongevraagd aan die hakskeen beet. Of jy nou daarin slaag om passievol te leef en of  'n passievolle lewe beperk is tot uitskieter geleenthede in jou lewe, jy gaan in elk geval met letsels daar wegstap.
Die lewe het eenvoudig die manier om ons met letsels te laat, maar dis maar hoe dit is. Hoe anders sal ons groei? Die groot vraag is of ek daarin kan slaag om die letsels met trots saam met my verder te dra, soos 'n diploma, en of ek gaan toelaat dat die letsels my wind uitskop en ek verksrompel in die hoek bly leef. 
Richard Rohr stel dit treffend: If you don't transform your pain, you will transmit it. Wat doen jy met jou letsels en pyn? Wend jy dit aan in die lewe wat jy elke dag leef sodat jy juis in die gewone met meer passie kan leef of word jy die slagoffer van jou eie vrese en verskonings, omdat jy iewers seergekry of teleurgestel is.
Dalk is dit deels wat Jesus bedoel in
Joh 10: 10 Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Tuesday, December 10, 2013

Boeke wat werelde oop kan sluit



















Inspirerende stories vir die vakansie


Die stem van die lyf






Gister was een van daardie dae wat jy die oggend jou oë oopmaak en weet ek kan nie meer nie. ‘n Dag waarop jou lyf in groot hoofletters skree STOP! Een van die dilemmas van ons tyd is dat ons al meer en meer verleer om na die fluisterende intuïteiwe stem van my lyf te luister. Ek verwonder my altyd oor die dispariteit in ons verstaan van die liggaam en die siel. So asof die liggaam op ‘n ander planeet woon as die siel. Deel van ons spiritualiteit is tog dat God aan ons liggame gegee het waarmee ons vir ‘n paar dekades die aarde kan bewandel. As hierdie lyf dan sê, ek is moeg of ek voel siek of ek het nou te veel gehad, lê daar tog iets daarin om na haar te luister.
Hiermee sê ek nou nie dat ons na die ander kant van die pendulum moet swaai en die stem van my lyf gebruik as die verskoning om so min as moontlik te doen nie, want dis natuurlik die volgende gevaar. Juis daarom is rustye, Sabbatstye, vakansietye, so onontbeerlik. Dis in sulke tye, wat ek doelbewus en vooraf moet kies, dat ek my met groot vrymoeidgheid aan die intuïtiewe stem van my lyf oorgee en STOP. Nie omdat daar niks meer oor is om te doen nie, maar doodgewoon omdat dit tyd is om te stop.
Die lysie op die tafel kan regtig wag vir more. Die leë yskas kan maar nog ‘n dag leeg bly. Daai dringende taak is dalk regtig nie so dringend soos ek glo nie. So het my dag gister daaruit bestaan om nadat almal gevoer en afgelaai is, ‘n fliek te kyk (Pope Joan – wat my diep geraak het), vyf rye te hekel met Anna se nuwe wol, te luister na Obama op TV, te lê en staar na die kers op my bedkassie, ‘n sjokoladesous te bou en salig en rustig saam met Francois en Liezl te kuier terwyl ons diep dinge en nonsens praat.
Ons almal sukkel natuurlik nie met dieselfde goed nie, maar ek sukkel maar om na my lyf te luister. Hierdie tyd van die jaar gee ek my oor aan al die nie-rasionele realiteite van my lewe en ek luister fyn. So, in die stilte en die fisiese vrede, word altyd nuwe dinge gebore.



Gedenkdiens vir Madiba

Ag, Here God,
mag die geluid van reën
op sinkdakke,
stofstrate en
teerpaaie
op hierdie vreemde dag
die eerste note wees
van 'n nuwe dans
vir my en elkeen
in ons breekbare, brose,
beeldskone land.

Wednesday, March 20, 2013

Genoeg is genoeg


Een van die groot vrae in die tyd waarin ons leef is: Wat is genoeg? Ons kan net van sekere dinge nie genoeg kry nie. Ons wil net nog en nog en nog hê.
Anders as in baie ander westerse wêrelddele beleef ons in SA twee werklikhede:
die een werklikheid is uitenemende welvaart en klaarblyklik sonder enige materiele behoeftes. Die ander werklikheid is vol tekorte, gebreke en ontberings.
Baie van ons beleef inderdaad ons eie krisisse en groot spanning oor die ekonomie en dit wat in die wêreld aan die gang is.Tog sê Sendingwetenskaplikes dat as jy by jou yskas verbystap op pad na jou spoeltoilet is jy onder die 10% rykste mense in die wêreld.

Ons moet baie mooi besef dat God nie rykdom of armoede idealiseer nie.
Dit is toestande wat nog altyd deel was van die wêreld, maar God wil nie noodwendig hê dat ek ryk of arm moet wees nie. As ons vanoggend vir God sou kon vra: Here, moet ek ryk of arm wees, wat dink jy sal die Here antwoord?
Hy sal waarskynlik iets sê soos: ek wil nie he jy moet ryk of arm wees nie.
Ek wil he jy moet genoeg he.
En wat is genoeg sal ek vra.
Jy sal weet.
Of sal ons?

In Eksodus 16 lees ons die verhaal van die Israeliete wat so gekla het omdat hulle nie kos het nie en hoe God vir hulle kos voorsien deur elke dag vir hulle manna te gee. ‘n Baie belangrike reel was dat daar niks van die manna gebere mag word nie.
Maar hulle wou nie na Moses luister nie en het besluit dat dat hulle dit gaan bere.
Tot hulle verbasing het dit deur die nag gevrot. Moses was vreeslik kwaad omdat hulle dit gedoen het, want al wat dit beteken het is dat hulle nie die Here vertrou het nie. Dat hulle gulsig was en nie tevrede was dat dit wat hulle kry tog genoeg is nie.

Tevredenheid is om maklik genoeg te hê. Om tevrede te wees met dit wat die lewe na jou kant laat kom en nie heeltyd beter en beter en meer en meer te wil he nie.
Gandhi het waarskynlik die waarheid gepraat toe hy gese het: “There is enough for everyone’s need, but there is not enough for everyone greed”.

Die Israeliete was veronderstel om elkeen net te vat soveel as wat hulle nodig het.
Is daar ‘n kans dat ons met dieselfde gulsige gesindheid as die Israeliete leef?
Een van die grootste uitdagings in hierdie tyd en in ons land vir gelowiges, is om nie soos die wêreld te word nie, maar om ‘n baie belangrike Christendeug aan te leer en dit is soberheid. Die woord soberheid beteken om met ‘n gesindheid van matigheid te leef.
Om nie oordadig te wees nie

Om maklik tevrede gestel te woorde.

Om met ander woorde maklik te sê: Genoeg dankie.

In 'n groef




Een van die mees algemene tendense by ons mense is dat ons in groewe beland of vasgevang raak in ‘n sekere manier van doen. So sal ons in ons lewe aanhou om dinge te doen, sonder om ooit regtig mooi te dink hoekom ons dit doen. Dis nie net gewoontes wat groewe kan word nie. Dis ook die manier hoe ons na die wêreld kyk wat ‘n groef kan word. Ons verval so in ‘n sekere denkpatroon dat dit vir ons onmoontlik raak om eers te dink dat ons ooit anders daaroor sou voel.

In Handelinge 9 loop ons vir Saulus, wat later Paulus sou wees, raak. Saulus was op daardie stadium een van die mees ywerige Jode wat jy kon kry. Volgens hom was die Evangelie oor Jesus loutere snert en het hy uit sy pad gegaan om enigeen wat hierdie Evangelie verkondig op die wreedste moontlike maniere te martel.
Terwyl hy op pad was na Damaskus om al die gelowiges daar te gaan arresteer verskyn daar uit die bloute, ‘n helder lig, helderder as die son uit die hemel aan hom. Presies wat gebeur het weet ons natuurlik glad nie, maar God het sy hele lewe omgekeer en hom in sy spore gestuit.
Vir die drie dae wat Paulus blind was was hy soos ‘n dooie, totaal geskok en verbyster oor wat met hom gebeur het. Boonop was die gelowiges ontsettend bang vir hom en wou hulle nie iets met hom te doen hê nie. Tog het Ananias geluister na God en na Paulus gegaan om vir hom te gaan bid.
Die Bybel sê in vers 18: Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien.

Hoe baie sal ons dit nie van ander mense sê nie: Ek wens die skille wil van sy of haar oë afval.

Om op ‘n nuwe manier te begin dink, om op God se manier te begin dink, is nie iets wat sommer maar net vanself gebeur nie. Dis ‘n geweldige pynlike ding, want dit beteken dat jy moet afskeid neem van dinge soos jy altyd gedink en geglo het dit is. Dit neem tyd om die ou groewe en die ou manier van dink en doen te groet maar as dit gebeur, as jy skielik deur God se oë na die wêreld begin kyk, is mens gewoonlik verbaas om te sien hoe duidelik baie dinge in fokus begin kom.
Wat beteken dit prakties om met nuwe oë te kyk?
Dit beteken onder andere dat ek bietjie op ‘n afstand van myself gaan staan en vra: Hoekom doen ek wat ek doen? Hoekom het ek so vreeslike humeur? Hoekom is ek so liggeraak en kleinserig?
Dit beteken ook dat ek ophou om my so te laat ontstel deur my familie of vriende se onderlinge gevegte en so bietjie terugstaan en met God se oë kyk en vra: Wat gebeur hier? En kies om nie deel van die getwis en baklei te wees nie.
Dit beteken veral in ons tyd dat ek ten spyte van my bangheid en onsekerheid oor wat in ons land aangaan nie al meer en meer rassisties raak nie, maar dat ek bietjie terugstaan en vra: Here, wat is U plan met hierdie mooi land van ons en wat kan ek doen om dit beter te maak?

Om met God se oë te kyk in hierdie tyd sal wees om te sê ek kies om nou anders te praat en anders op te tree as mense om my. En ons kan dit doen, want ons glo Jesus het opgestaan en daarom het ek hoop vir môre. Daarom kan ek bid dat God vandag oral mense se harte, ook myne, sal draai om met nuwe oë na mekaar te kyk.