Wednesday, March 20, 2013

In 'n groef




Een van die mees algemene tendense by ons mense is dat ons in groewe beland of vasgevang raak in ‘n sekere manier van doen. So sal ons in ons lewe aanhou om dinge te doen, sonder om ooit regtig mooi te dink hoekom ons dit doen. Dis nie net gewoontes wat groewe kan word nie. Dis ook die manier hoe ons na die wêreld kyk wat ‘n groef kan word. Ons verval so in ‘n sekere denkpatroon dat dit vir ons onmoontlik raak om eers te dink dat ons ooit anders daaroor sou voel.

In Handelinge 9 loop ons vir Saulus, wat later Paulus sou wees, raak. Saulus was op daardie stadium een van die mees ywerige Jode wat jy kon kry. Volgens hom was die Evangelie oor Jesus loutere snert en het hy uit sy pad gegaan om enigeen wat hierdie Evangelie verkondig op die wreedste moontlike maniere te martel.
Terwyl hy op pad was na Damaskus om al die gelowiges daar te gaan arresteer verskyn daar uit die bloute, ‘n helder lig, helderder as die son uit die hemel aan hom. Presies wat gebeur het weet ons natuurlik glad nie, maar God het sy hele lewe omgekeer en hom in sy spore gestuit.
Vir die drie dae wat Paulus blind was was hy soos ‘n dooie, totaal geskok en verbyster oor wat met hom gebeur het. Boonop was die gelowiges ontsettend bang vir hom en wou hulle nie iets met hom te doen hê nie. Tog het Ananias geluister na God en na Paulus gegaan om vir hom te gaan bid.
Die Bybel sê in vers 18: Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien.

Hoe baie sal ons dit nie van ander mense sê nie: Ek wens die skille wil van sy of haar oë afval.

Om op ‘n nuwe manier te begin dink, om op God se manier te begin dink, is nie iets wat sommer maar net vanself gebeur nie. Dis ‘n geweldige pynlike ding, want dit beteken dat jy moet afskeid neem van dinge soos jy altyd gedink en geglo het dit is. Dit neem tyd om die ou groewe en die ou manier van dink en doen te groet maar as dit gebeur, as jy skielik deur God se oë na die wêreld begin kyk, is mens gewoonlik verbaas om te sien hoe duidelik baie dinge in fokus begin kom.
Wat beteken dit prakties om met nuwe oë te kyk?
Dit beteken onder andere dat ek bietjie op ‘n afstand van myself gaan staan en vra: Hoekom doen ek wat ek doen? Hoekom het ek so vreeslike humeur? Hoekom is ek so liggeraak en kleinserig?
Dit beteken ook dat ek ophou om my so te laat ontstel deur my familie of vriende se onderlinge gevegte en so bietjie terugstaan en met God se oë kyk en vra: Wat gebeur hier? En kies om nie deel van die getwis en baklei te wees nie.
Dit beteken veral in ons tyd dat ek ten spyte van my bangheid en onsekerheid oor wat in ons land aangaan nie al meer en meer rassisties raak nie, maar dat ek bietjie terugstaan en vra: Here, wat is U plan met hierdie mooi land van ons en wat kan ek doen om dit beter te maak?

Om met God se oë te kyk in hierdie tyd sal wees om te sê ek kies om nou anders te praat en anders op te tree as mense om my. En ons kan dit doen, want ons glo Jesus het opgestaan en daarom het ek hoop vir môre. Daarom kan ek bid dat God vandag oral mense se harte, ook myne, sal draai om met nuwe oë na mekaar te kyk.







No comments:

Post a Comment