Monday, March 18, 2013

Net een lewe



Het jy al daaroor gedink dat jy net een lewe het? Na hierdie lewe kry jy nie weer ‘n kans nie. As jy met hierdie een droogmaak kan jy hom nie gaan inruil vir ‘n nuwe een nie. Dis wat jy het: hierdie een lewe. Ons het geen idee hoe lank ons gaan leef nie. Natuurlik is die lewe nie net altyd maanskyn en rose nie. Soms is ons lewe besaai met swaarkry en hartseer.

Juis as mens swaarkry kom mens onder die besef dat die lewe ‘n kosbare, baie brose geskenk is. Die lewe is doodeenvoudig te kosbaar is dat jy dit deur jou vingers kan laat glip. Dis iets wat so broos is dat jy baie versigtig daarmee moet werk, want elke dag, dag vir dag sypel dit weg, soos water in sand.

Prediker 2 beaam dit: Jy het net een lewe, maar waarmee kies jy om hierdie een lewe vol te maak?
Kingsley Holgate, die bekende avonturier, vertel op ‘n stadium die storie van ‘n vriend van hom wat by ‘n tafel sit en voor hom ‘n paar klippies uitpak.Elke klippie het ‘n dekade van sy lewe verteenwoordig. So begin hy toe een vir een die klippies oor sy skouer weggooi vir elke dekade wat reeds verby is tot daar net een of twee klippies voor hom gelê het. Elkeen van ons kry ook ‘n handvol klippies. Presies hoeveel sal ons nou nie weet nie. Maar as hulle weg is is hulle weg. Hoeveel klippies het jy dalk oor? Ons weet nie. Hierdie storie onderstreep Prediker 2 se boodskap dat die lewe ongelooflik kort is. Die lewe is te kosbaar om droog te maak. Te kosbaar om dit te mors. Te kosbaar om iemand anders se lewe te probeer leef.
Miskien moet ons ophou om onsself met ander te vergelyk.
Dalk moet jy ophou om drome te droom om al meer soos ander te word en begin om al meer jy te word. Dalk moet jy begin om al meer te soek na God se plan met jou en jou lewe. Aan die einde van jou lewe is die vraag: Waarvoor gaan jy onthou word? Wie gaan jou mis? Gaan mense agterkom dat jy nie meer daar is nie, of gaan dit hoegenaamd geen effek hê nie?
God stap met ons elkeen ‘n unieke, besondere pad.
Meistre Eckhart, die ou Mideleeuse teoloog en mistikus, het hieroor gesê:
Mind your own path. Do not mind the path of others. No one is called to God by the same path.
My pad is nie jou pad nie. God is nie op dieselfde manier op pad met jou as met my nie.

Die meeste van ons, sê Prediker, fokus waarskynlik op die verkeerde goed. Die beste vraag is nie hoe kan ek meer en meer suksesvol wees en al ryker word nie? Hoe kan ek myself verdoof met allerhande plesiertjies sodat die lewe darem tog net lekker is nie?

Die beter vraag is hoe kan ek nader en nader kom aan God se droom vir my lewe?
Waaraan kan ek tyd spandeer wat regtig sinvol is?

Die lewe is te kort om nie te probeer uitvind hoe jy joune die beste kan leef nie.

No comments:

Post a Comment