Thursday, May 19, 2016

Steen vir steen



Na baie wik en weeg het ons besluit om ‘n spesifieke deel van ons huis te verbeter. Enigeen wat al deur hierdie oefening is, sal weet hoe moeilik en frustrerend dit kan wees. Om alles te kroon loop dinge ook mos nie altyd soos jy beplan nie.

So gebeur dit toe dat die kontrakteur wat iets aan die dak moet verander nie sy werk kon doen voor die bouers begin het nie. Die bouers spring toe maar in en bou dat jy net sien sement en stene trek. ‘n Week later daag die dakmense op. Loutere chaos breek los, want die bouers het van die balke toegebou waaraan daar verander moet word. Die enigste oplossing? Breek die boonste deel van die splinternuut gepleisterde muur af! My hart wou byna gaan staan.

Deels oor die geweldige gemors wat dit gegenereer het, maar veral oor wat die bouer gaan sê waneer hy ‘n paar dae later weer opdaag om die laaste stuk klaar te maak... Wat my egter die meeste ontstel het was hoe vinnig dit geneem het om die spesifieke dele af te breek! Die vorige week is daar letterlik ure spandeer om die muur te bou. En binne minute (minder as ‘n halfuur) lê al daardie werk in die vorm van ‘n hoop bourommel op die grond. Ek wou huil! 
Vir die res van die dag loop ek in totale ontkenning dat dit so maklik kan wees om iets af te breek en dat dit so lank neem om iets te bou. Dit neem altyd baie langer om te bou as om te breek. Breek is maklik. Op ‘n manier kom breek vir ons natuurlik. Ons breek maklik deur ons woorde, die dinge wat ons dink en doen, ons lewenskeuses en deur hoe ons ander mense behandel.
Die moeilike ding is om elke dag intensioneel te bou, verantwoordelikheid te neem vir wie ek is en wat ek doen, en aan die einde van elke dag terug te kyk en te sien dat ek met moeite dit kon regkry om steen vir steen ‘n stukkie muur gebou te kry. Oor jare staan daar hopelik ‘n katedraal in my lewe, want katedrale neem letterlik ‘n leeftyd om gebou te word. Dink maar aan van die beste hedendaagse voorbeelde, Gaudi se Sagrada de Familia in Barcelona, waaraan daar al van 1882 af gebou word en wat waarskynlik eers na 2026 volledig voltooi sal wees.

Natuurlik gebeur dit ook dikwels met ons dat ons terugkyk en moet sien hoe daar na ‘n dag ‘n hoop bourommel lê. Óf deur my eie toedoen in my eie of ander se lewe, óf deur dit wat iemand anders wetend of onwetend aan my gedoen het. En as ek nie kies om iets met daardie bourommel te doen nie, sit ek helaas mettertyd met ‘n ruïne en nie met ‘n katedraal nie.

In die boek Nehemia sien ons hoe dit Nehemia se taak was om die stadsmuur van Jerusalem na die ballingskap te herbou. Dit was ‘n reuse taak maar deur slim keuses en intensionele planne kon hy dit regkry om die reuse stuk bouwerk in 52 dae af te handel. Sy belangrikste taak was egter nie net om die muur van die stad te herbou nie, maar om te help om vir die mense van Jerusalem weer ‘n stweige fondasie te gee waarop die mure van hule lewe gebou kon word. Om lewe moontlik te maak deur sy bouwerk.

Ons kry elkeen een kans om te lewe. Om ‘n lewe te leef is ‘n reuse verantwoordelikheid. Om elke dag ‘n paar stene op mekaar te stapel en die noodwendige bourommel wat die harde lewe genereer op te vee en die skade weer te herstel is geen eenvoudige taak nie, maar uiteindelik word dit ons lewenstaak en staan daar hopelik eendag ‘n katedraal – ‘n heilige plek, waar mense iets van God ervaar en wat ‘n veilige heenkome is vir myself en ander wanneer dit koud of warm of nat buite is.

Genadiglik leef ons as kinders van die Opstanding en is Klaagliedere 3 se woorde elke dag waar van 
ons:
21
Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot.

Op ons familieplaas is daar ‘n koppie wat ek graag uitklim. Op die spesifieke plek waar ek verbystap staan daar ‘n muurtjie wat nie eers kniehoogte is nie, gebou uit leiklip en sement. Dit was my skoonma se droom om daar ‘n huisie te bou wat oor die rivier uitkyk. Voor sy haar huisie kon bou is sy oorlede. Maar haar leiklip muurtjie waarvan sy self die klippe aangedra en help lê het, sal nog vir baie jare daar staan as ‘n monument en herinnering dat sy ‘n droom gehad het om ‘n spesiale plek te bou en dat sy hard daaraan gewerk het tot sy nie meer kon nie. Wie weet, as sy kans gekry het, het daar dalk vandag ‘n katedraal gestaan.


Wednesday, May 11, 2016

Fake it 'till you make it


 
Tyd gaan net te vinnig verby. Die eerste week van Mei is teen topversnelling by ons verby. Die meeste van ons bevind ons in lewensfases waar dit ongelooflik druk gaan en waar een dag soos water in ‘n volgende een invloei en voor ek my weer kan kry vra ek vir myself: Gaan ek dan nooit tyd kry om net te lewe nie?
Hoeveel keer sê ons nie in ons konteks vir onsself woorde soos “fake it ‘till you make it” nie? Ek beleef self elke nou en dan dat dit voel asof die druk van alle kante af dit vir my amper onmoontlik maak om asem te haal, en tog hou ons aan en druk ons deur al voel dit nie aldag of ons kan nie. Ek dink dikwels dat ‘n mens soms geen ander keuse het as om maar soos die eendjie op die dam te wees nie. Van buite af lyk alles heel rustig en onder beheer, maar onder die oppervlak skop die eendjie om lewe en dood om voor te bly. 
Om te sê “fake it ‘till you make it” kan op meer as een manier verstaan word.

Aan die een kant is dit maar net so dat jy soms hoegenaamd geen ander keuse het as om maar net uit te hou en aan te hou nie. Jy kan eenvoudig nie nou uit die omstandighede of situasie kom nie en daarom is daar geen ander opsie as om maar net te wag tot die situasie opklaar nie.

Aan die ander kant kan mens weer sê dat dit vals is om so te lewe, want dan gee jy voor dat dinge onder beheer is terwyl dit glad nie is nie. As jy so lewe impliseer dit dat jy nie eg is nie en dat jy nie erken dat jy broos en kwesbaar voel en dat dinge soms vir jou te veel word nie. So dink mense dan dat jy die druk kan hanteer en op ‘n dag stort jy in duie en die mense in jou lewe staan stomverbaas, want jy het dan altyd so goed reggekom met die lewe. En boonop kan jy dan nie eers vir iemand kwaad wees nie, want jy het self gekies om hierdie fasade voor te hou.


Beide bogenoemde reaksies is legitiem, maar daar is ook ‘n derde manier waarop ek “fake it ‘till you make it” kan verstaan.

Dis ‘n benadering wat sê dat ek soms regkom met die lewe en soms nie.
‘n Benadering wat eerlik is daaroor dat dit “OK is om nie OK te wees nie”, maar wat terselfdertyd besef dat die lewe meermale van my die dapper keuse vra om myself letterlik aan die enkels op te trek, my kop op te tel en te sê: “Dit voel nie of ek nog kan nie, maar ek weet ek kan”.
Die eerlikheid om broos en kwesbaar te wees voor God en die mense naaste aan my, om met sagtheid en deernis tussen ander te leef wetende dat hulle waarskynlik ook besig is om soos ek te “fake it ‘till you make it” en om nie my eie frustrasie op ander uit te haal nie.

Dis hier waar ons aan die een kant ons sterk ego’s nodig het wat ons kan help om staande te bly in die wêreld, maar waar ons aan die ander kant onsself in God se arms kan laat inmekaarsak terwyl Hy sag in ons ore fluister:
  Voel julle moeg vir hierdie lewe?  Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Kom dan na My toe!  Ja, kom wy jou lewe aan mytoe.  By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek.  Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer.  (Matteus 11:28 uit Die Boodskap).

Die uitdaging van ‘n dieper pad saam met God is om hierdie twee teenstellende werklikhede saam vas te hou:
waar ek aan die een kant dapper en sterk moet leef, of ek so voel of nie;
en waar ek aan die ander kant kan erken dat ek broos en kwesbaar is en nie altyd kans sien vir al die eise van die lewe nie.

Of soos Johannes Kerkorrel op ‘n dag gesing het:
Ons sit in die son en drink wyn;
Ons survive met ‘n helse lot pyn...
Die paradoks van die lewe op aarde.

Wanneer ek beide hierdie kante vashou ontmoet God my in die middel en kom ek mettertyd agter hoe Hy my leer om hierdie skynbaar teenstellende werklikhede stelselmatig te versoen en te beleef dat daar geen area van my lewe is waar God my nie wil ontmoet nie.

So leer ek mettertyd om met groter ewewig te leef en my nie heeltyd aan net een van die twee kante te bevind nie, maar om te sien hoe die manier hoe ek probeer leef ander hopelik ook help om heler en eerliker en meer geïntegreerd te lewe. Of soos Henri Nouwen dit so mooi stel: Your presence among them as the one who is sent will allow them to catch a glimpse of the real life.
 
Wanneer ek en jy beleef hoe die lewe baie van ons vra, kan ons weet dat ons dikwels sterker is as wat ons voel en dat die manier hoe ons as God se kinders die lewe hanteer ander dalk help om iets van die lewe in oorvloed in uitdagende omstandighede te ervaar.

Verbeel jou



So ruk terug lees ek hierdie woorde raak: Imagination should be used not to escape reality, but to create it. Dit het my nogal in my spore gestop. So dikwels wens en droom en verbeel ons vir onsself ‘n ander realiteit, maar voel nie regtig dat daar iets van sal kom nie. Die vraag is: hoekom nie?
Sover dit ons realiteit aanbetref is daar ‘n paar dinge wat ons in ag moet neem.
Dit is so dat ons elkeen ons binne ‘n bepaalde konteks bevind en dat daardie konteks sekere eise en verpligtinge op ons plaas wat dikwels baie frustrerend kan wees. Die vraag is natuurlik: hoe het ek by hierdie realiteit uitgekom? Sommige van ons het ‘n keuse gemaak en die gevolg van daardie keuse is hierdie werklikheid waarin ek nou leef, goed of sleg. Ander van ons bevind ons in omstandighede wat ons dalk nooit sou kies nie, en waarvan ons óf die beste moet maak, óf bitter dankbaar is dat dinge so uitgewerk het. Ongeag van wat die geval mag wees, moet ons besef dat die keuses wat ek vandag maak oor hoe ek my lewe wil leef die boustene is van die realiteit wat ek môre gaan leef. Daarom moet ons baie versigtiger met ons keuses omgaan, want my keuses is een van die kragtigste invloede op my realiteit. Erwin McMannes was reg toe hy gesê het: Making choices is the most spiritual thing you can do.
Tweedens moet ek leer om met onderskeiding te leef. As gelowige is dit tog nie net ek wat op eie stoom vir myself ‘n nuwe realiteit verbeel en dit skep nie. Dis juis vir my belangrik dat die realiteit wat ek leef in lyn sal wees met God se droom en plan vir my lewe. Daarom vra onderskeiding van my om mooi te kyk na die rigting van my lewe en om in die eerste plek te soek na God se droom en my drome dan met God se droom te belyn, want dis daar waar my droom en God se droom oorvleuel dat ek optimale sin in my lewe sal ervaar. Dis hoekom Matteus 6:33 so waar bly: Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. As mens eers soek na wat vir God belangrik is, kom mens gou agter dat God se belange mettertyd heel spontaan ook jou belange word.

In die derde plek mag ek dalk my verbeelde realiteit in die oog hê en mag ek selfs sien hoe dit inpas by God se wil, maar beleef dat die realiteite van die alledaagse lewe dit vir my onmoontlik maak om daarby uit te kom. Dis hier waar ons moet leer om die groter prentjie voor oë te hou en nie verlam te voel as dit voel of die realiteite van die gewone lewe my verhoed om by daardie prentjie uit te kom nie. Rome is mos nie in een dag gebou nie. Trouens gebeur niks wat regtig die moeite werd is in ‘n japtrap en sonder moeite nie. Die belangrikste is dat ek nooit vergeet waarheen ek op pad is nie en dat ek sal vashou aan die groter droom wat my vorentoe roep. Of soos W. Clement Stone gesê het: Aim for the moon, that way, even if you miss you’ll still be amongst the stars.

In die laaste plek is ons geneig om te dink dat net sommige mense mag het en ander nie. Dit is natuurlik nie waar nie. Alle mense het mag, die vraag is waarvoor gebruik ek my mag? Gebruik ek dit op negatiewe onderdrukkende maniere wat die lewe vir ander swaar en moeilik maak, of gebruik ek my klein bietjie mag om moontlikhede te skep? As ek moontlikhede begin skep kom ek gou agter dat ek daarmee saam ook ‘n nuwe realiteit skep, wat andersins net nie sou ontstaan het nie. So word ons God se medewerkers wat in navolging van Hom nuwe realiteite ontdek, waar daar voorheen niks was nie.

Verbeel jou dat jou realiteit iewers eendag anders lyk, hoe gaan dit gebeur? Gaan God dit op ‘n bonatuurlike manier eendag terwyl jy slaap uit die hemel laat neerdaal? Waarskynlik nie. Hy gaan j
óú gebruik om dit te laat realiseer. Trouens kies God deur die hele Bybel selde engele of bonatuurlike agente. Hy gebruik meestal gewone mense, soos jy. Nee, dit gaan nie oornag gebeur nie en nee, dit gaan nie altyd eenvoudig wees nie, maar tree vir tree word my keuses van vandag die realiteit van môre en gebruik God my om saam met Hom sy droom vir my en ander se lewe te laat realiseer.
So wanneer jy weer so lekker dagdroom oor hoe dinge kan wees, onthou: Imagination should be used not to escape reality, but to create it. Dalk is dit hoekom God vir ons ‘n verbeelding gegee het.