Monday, July 20, 2015

Wat die hart van vol is



Elkeen van ons kry nou en dan met mense te doen wat sê dat hulle Christene is of wat deel is van ‘n kerk, maar as mens hulle eers leer ken, kom jy agter dat dit wat hulle sê en wie hulle is nie met mekaar strook nie. Hoe dikwels is mens nie teleurgesteld as jy agterkom dat mense glad nie so goedhartig of vol deernis of geduldig of sagmoedig of vergewensgesind is soos wat mens van Christene sou verwag om te wees nie? Meer nog: hoe dikwels is ek en jy nie self daardie mense wat al die regte geluide maak, maar in wie se lewe iets anders te bespeur is nie?

Dalk het dit iets daarmee te doen dat baie gelowiges God juis op ‘n eksterne manier dien en by al die sogenaamde regte dinge betrokke is, maar dat daar maar bitter min van ons is wat bereid is om toe te laat dat God ons in ons diepste wese transformeer.

Ons diepste motiewe is meermale so ver weggebêre dat ons self nie eers mooi bewus is wat dit behels nie. Juis daarom wil ‘n bewustelike lewe my nie net help om al meer bewus van God te leef en al meer bewus te wees hoe ander my beleef nie, maar dit wil my ook help om al meer bewus te wees van my diepste motiewe en agendas en dryfvere. Hiervoor is ‘n behoorlike skoot selfkennis en veral selfinsig nodig.

Tog kan ek so hard probeer as wat ek wil, as God self my nie voortdurend in my donkerste hoeke nuutmaak en nuwe lewe in my werk nie, gaan daar niks van kom nie.

Lukas 6:44-46 sê:
‘n Mens ken ‘n boom uit aan die soort vrugte wat dit oplewer. Niemand verwag tog om vye aan ‘n doringbos te kry nie. Of druiwe aan ‘n spul doringtakke nie. Goeie mense is soos goeie bome. Uit hulle binneste kom daar net goeie dinge. En slegte mense is soos slegte bome. Uit hulle binneste kom daar net lelike dinge. Luister maar net na wat mense sê, dan weet julle watter soort mense hulle is. Mense se woorde wys wat in hulle harte aangaan. 


Uit hierdie paar verse sien mens ongetwyfeld dat dit my verantwoordelikheid is om bewus te wees van die tipe vrug wat my lewe produseer en om nie weerstand te bied teen die diepgaande prosessse waarmee God in my wil besig wees nie, maar dis net God wat die groei kan bewerk en my aard en karakter kan verander sodat ek Sy soort vrug kan voortbring. Wat die hart van vol is, loop nie net my mond nie, maar my hele lewe van oor.

Daarom bid ek: Here Jesus, maak my bewus wanneer daar dorings aan my takke groei. Laat U Lewenssap diep deur my wortelstelsel sypel, sodat ek U soort vrug produseer.