Wednesday, December 18, 2013

Deur die mis




My hele ou gesinnetjie van herkoms het so klompie jare gelede besluit dat hulle na die Natalse Midlands trek. Twee maal per jaar, wanneer ons die 5 uur lange tog aanpak, kondig die digte mis anderkant Mooirivier aan dat die eindbestemming om die draai is. Gister was geen uitsondering nie. Elke keer, gister weer, trek my keel ondmiddelik toe en my hart klop in my keel, want skielik herinner die mis my aan ‘n oorweldigende geloofswaarheid: EK KAN NIE SIEN NIE!
Die lewe is nie anders as hierdie mistige stukkie pad nie. Ek dink ek het soveel insig en beheer, maar dit neem maar iets kleins om my in my spore te stuit en bewus te maak van my kwesbaarheid en uitgelewerdheid. Die onvoorspelbaarheid van die lewe roep my chronies om nie op myself nie, maar op God se droom vir my lewe te vertrou. Die groot uitdaging is natuurlik, soos met die pad buite Mooirivier, om maar net aan te hou om die petrol te trap, om maar net die pad te volg, om meter vir meter te beweeg en, al moet dinge effens stadiger as wat ek wil, te vertrou dat ek wel aan die ander kant sal uitkom en dat die Son aan die anderkant van hierdie miswolk skyn.

No comments:

Post a Comment