Sunday, August 2, 2015

'n Lamp is vir Lig





Ek was nogal altyd gefassineer met glaslampe. Daar is vir my iets geweldig aanloklik aan die gekleurde glas wat die mooiste patrone en die sagste lig deurlaat.

Tweemaal in my lewe het glaslampe my al heeltemal irrasioneel gehad.
 Eenmaal het ek saam met drie vriendinne in Istanbul se strate gestap en skielik het die winkel met sy mosaïek glaslampe soos ‘n visioen voor ons verskyn. Ek kon my oë nie daarvan afhou nie. Ek kon nie genoeg kry nie. Ek was heeltemal gehipnotiseer, in so mate dat ek meer as een keer terug is na die winkel en ten spyte van die ander se “Ons help jou nie dra nie!”, uiteindelik daar uitgestap het met ‘n boks met my eie glaslamp in, op pad terug Suid-Afrika toe.
‘n Ander keer was in die chaotiese strate van Jaipur, waar ek en Jaco ons vergaap het aan al die mooi goed en ek toe skielik weer oorweldig word deur die winkel met die glaslampe. Ek moes net, ek kon nie anders nie. En so bevind ek my weer met ‘n baie ongemaklike, hoekige, lomp boks in transito op pad van een kontinent na ‘n ander.
Wat my die meeste van sulke lampe aantrek is nie die glas as sulks nie, maar die mooi lig wat daaruit skyn. Die lamp bestaan mos nou vir geen ander rede as om dit vir die lig moontlik te maak om te skyn nie. Die oomblik as die lamp nie meer skyn nie en nie meer lig deurlaat nie, verloor dit in ‘n sekere sin sy aantrekkingskrag.
In Lukas 8:16 staan daar dat niemand tog ‘n lamp sal opsteek en dit dan sal wegsteek nie, maar dat mens dit êrens sit waar dit duidelik sigbaar is sodat die lig gesien kan word. Ons weet dat Jesus in sy tyd hier op aarde die Lamp was vir God se Lig. Na Hy aan ons die gawe van sy Gees gegee het, het ek en jy, en elke ander geleowige voor en na en saam met ons, die lamp vir sy Lig geword.
Deur sy lampe te wees neem ons sy Lig saam met ons oral waar ons in die wêreld mag gaan. Dalk is dit onder andere wat Jesus bedoel het toe hy op ‘n stadium gesê het dat ons groter dinge as Hy sal doen (Johannes 14:12). As ek besef dat ek God se lamp is en sy Lig in my dra, gaan dit nie oor my nie, maar oor Hom en word ek ter wille van die groter droom God se helende, ligdraende teenwoordigheid.
Natuurlik lyk my lamp anders as joune. Eintlik is dit irrelevant dat ons anders is, want in ons verskeidenheid, is ons doel steeds dieselfde, naamlik om Lig te wees. Ons kollektiewe andersheid en diversiteit maak juis die Lig in ons nog meer onweerstaanbaar, soos daardie winkels in vreemde lande waarby ek maar net nie verby kan loop nie.
Miskien kan Jesus se woorde in Johannes 12: 36 (DB) ons verder inspireer :
Die Lig skyn nou oor julle. Maak oop julle oë en aanvaar die Lig.
Dan sal julle altyd by die Lig wees en werklik sinvol kan leef.
Ek bid saam met jou en alle gelowiges van alle tye: Laat my vandag die lamp wees vir U Lig.

No comments:

Post a Comment