Tuesday, April 12, 2016

Die krag van een


So rukkie terug sien ek hierdie foto en hoe fassinerend is dit nie? Die titel van hierdie installasie in ‘n kunsmuseum is “Die krag van een boek”. Dis fassinerend as mens daarna kyk. Dat een enkele boek die hele konstruksie van die muur kan beïnvloed! Dieselfde is waar van ons mense.
Ons besef nie altyd dat elke mens ‘n sekere hoeveelheid mag het wat ‘n groot bepalende effek in die realiteit om ons kan hê nie. Mag is ‘n fassinerende ding. Dis nie net die magtiges wat oor mag beskik nie, maar elke mens wat op een of ander manier ‘n keuse uitoefen oor wie jy wil wees en hoe jy wil optree.
Op ‘n dag was daar ‘n man wat aan die einde van sy lewe op sy sterfbed gelê en reflekteer het oor die jare wat verby is en gefrustreerd besef het dat hy dalk van die verkeerde kant af geleef het. Hy het gesê: “Toe ek jonk was het ek geglo dat ek die wêreld sal verander. Maar mettertyd het ek besef dit gaan nie gebeur nie. Later het ek probeer om my land te verander, maar na ‘n ruk het ek besef ek gaan dit nie regkry nie. Daarna het ek probeer om my dorp te verander, maar ook dit was nie suksevol nie. Volgende het ek geglo ek sal my familie verander, maar dit was onsuksesvol. Laastens het ek probeer om my gesin te verander, maar uiteindelik moes ek daar ook opgee. Ek wens ek het maar probeer om myself te verander. As ek myself verander het sou dit dalk ‘n effek op my gesin gehad het. Dit sou moontlik ‘n verandering in ons familie kon bring. Die hele familie sou dalk die karakter van die dorp kon verander en mettertyd sou ons dorp dalk ook die land begin verander. En dalk kon ons land dan die wêreld verander. Het ek maar by myself begin!”

Hierdie verhaal tref my altyd in sy eenvoud. En tog het dit ‘n baie kragtige boodskap.
Daar is soveel voorbeelde in die Bybel van mense wat ‘n sekere keuse uitoefen en dan letterlik ‘n rimpeleffek op die hele konteks rondom hulle het. Kaïn wat kies om vanuit wraak en selfsug sy broer Abel dood te maak. Lot wat doelbewus die beter grond bo Abraham kies. Josef se broers wat van hom ontslae probeer raak, maar Josef wat kies om die beste van sy lewe te maak tot voordeel van baie ander. Ester wat haar guns by die koning gebruik en haar mense se lewe spaar. Daar is nog eindelose voorbeelde. Die grootste voorbeeld is sekerlik Jesus wat te midde van die beperktheid van ‘n menslike bestaan Homself aan God se realiteit oorgee en daardeur die ganse geskiedenis van die mensdom kom verander. 

God nooi ons om deel te wees van hierdie nalatenskap van Jesus - van mense wat besef dat Hy ons met spesifieke gawes en vermoëns gemaak het en dat ons in ons klein konteks meer invloed het as wat ons dink. As elkeen van ons dit maar kan verstaan en ons kan begin om daardie invloed aan te wend deur heel eerste myself aan God oor te gee en toe te laat dat sy Koninkryk deur my lewe kom, sal die mure wat ons bou anders begin lyk en verreikende invloed hê.

No comments:

Post a Comment