Thursday, April 7, 2016

'n Ander manier van sien



So ruk gelede lees ek die verhaal van ‘n vrou met die naam Concetta Antico. Haar storie het my op ‘n besondere manier geraak. Sy ly aan tetrachromasie, ‘n rare genetiese kondisie, wat haar meer as een honderd miljoen skakerings van kleur kan laat sien. Vergelyk dit met die gemiddelde menslike oog wat ongeveer een miljoen skakerings kan onderskei. Daar is minder as 1% van alle mense wat deur die kondisie beïnvloed word.
Sy verduidelik dat as ek en jy na ‘n blaar kyk sien ons groen. As sy na die blaar kyk sien sy magenta strepe in die binnekant met allerhande skakerings van turkoois en groen om die rand van die blaar. Waar die lig ‘n skaduwee teen die muur gooi en ons net grys sien, sien sy skakerings van laventel en violet en turkoois. Volgens die neuroloog wat haar toestand navors, sien sy inderdaad die wêreld anders as ander mense.

As ‘n dogtertjie van sewe het sy al agtergekom dat sy ‘n ander manier van sien het as alle ander mense. Sy het toe alreeds reproduksies van Cézanne, Van Gogh en Monet geskilder. Dis ook nie verbasend dat sy vandag ‘n kunsonderwyser en kunstenaar is nie. 

Die wrede ironie is dat haar dogter aan kleurblindheid ly, wat deur dieselfde genetiese mutasie veroorsaak word, en soos  Concetta se kondisie is daar niks wat daaraan gedoen kan word nie. Stel jou die kontras tussen hulle voor: vir albei lyk die wêreld anders as vir die meerderheid van mense, maar vir die een omdat sy alle kleure en nog meer kan sien, en vir die ander omdat sy sekere kleure glad nie kan sien nie. En dis hulle werklikheid. Nie een van hulle kan hulle manier van kyk verander nie, al probeer hulle ook.

Dit klink wonderlik om só soos sy te kan sien, maar dikwels beleef sy sensoriese oorlading. Van die oomblik dat sy haar oë soggens oopmaak word sy oorweldig deur die ongelooflikste kleure: in die houtvloer, in die tandepasta, in die vrugtebak op die kombuistafel. Voortdurend is daar golwe en golwe kleur wat oor haar spoel. Natuurlik is dit ‘n ongelooflike gawe om so te kan sien en sy besef dit, maar soms word haar sintuie net heeltemal oorlaai. Die vraag is dan: Wat is haar gunstelingkleur? En die antwoord is: suiwer wit… Want dit gee haar vrede en maak haar rustig.

Haar verhaal het my laat dink aan die verhaal van Paulus in Handelinge 9. Ons lees daar hoe Paulus vol bravade dink dat hy kan sien en dan letterlik met blindheid geslaan word sodat hy kan besef dat hy nie sien nie. Wanneer Ananias daarna vir hom bid, sê die Bybel, het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en skielik het hy die hele realiteit anders gesien. Skielik het daar ‘n kaleidoskoop van kleur voor hom oopgebars waarvan hy voorheen totaal onbewus was en nou vir die eerste keer begin hy sien soos God sien. 


Hoe werk dit dat soveel van ons vir jare deel is van die kerk en selfs op ‘n sekere vlak in Jesus glo, maar werklik “kleurblind” is en nie die kleure van God se realiteit kan sien nie? Dis eers as God iets in ons geestelike genetika verander dat ons op ‘n dag begin agterkom dat ons anders sien, anders as die res van die wêreld. Geleidelik kom ons agter dat daar ‘n kaleidoskoop van kleur in God se palet is wat ons wil help om die werklikheid en ander mense en onsself en Hom en ons lewensprosesse op ‘n totaal ander manier te sien as voorheen. 

Natuurlik kan ons oorlaai word deur alles wat ons sien en ervaar en beleef, en daarom het ons ook, soos Concetta Antico, wit spasie nodig waar ons by God tot rus kan kom voor ons weer ons oë oopmaak vir ‘n ander manier van sien.

No comments:

Post a Comment