Wednesday, September 17, 2014

Einde van die Karnaval



Ons kom nou by deel twee van die visuele reis saam met die Duitse skilder, Carl Spitzweg. Die skildery word geken aan twee titels: Einde van die Karnaval of As-Woensdag.

As kind het ek baie die volgende woorde by my Ouma gehoor: “Jy’s weer lekker uit jou kassie vandag!” en “Hmmm-mm! Van lekker lag kom lekker huil.”
 
Soos ek ouer geword het, het dit my al meer gepla, want dit het vir my gevoel asof ek geïnhibeer word
en nie mag wees wie ek wil wees nie. Soveel so dat ek later van tyd baie bewus was van my gedrag tussen die grootmense en mooi stil en stemmig geword het – soos dit ordentlike mense betaam!

Noudat ek my eie kinders het geniet ek dit vreeslik om te sien hoe mal en laf hulle kan wees en hoe hulle  lawwigheid en gejil en gil dikwels tog in trane eindig, want dis mos maar hoe die lewe werk. Hoe anders leer ons oor die lewe?

In hierdie skildery sien ons die nar, na die karnaval, eensaam, alleen, gestroop van sy grappe, met die  skaduwee van die tronksel se tralies teen die muur. Stel jou voor hoe het hierdie dag vir hom begin.

Hoe hy sy kostuum aantrek, by die skare aansluit, dans op maat van die musiek in die strate, en homself  uiteindelik so oorgee aan die genot van die oomblik dat hy heeltemal oorboord gaan, homself verloor  en iets aanvang wat hom die woede van die gesag  op die hals haal. En hier sit hy nou…
 
Ek en jy is dikwels hierdie nar. Ons kan so opgaan in ons eie dinge, die drama van ons lewe, die verwikkeldheid van ons verhoudings, die sekerheid van ons standpunte en ons eiegerigtige baldadigheid. En dan skielik word ons teruggeruk na die realiteit met die vraag: Wat is regtig hier aan die gebeur? Wat is my aandeel in die situasie? Wat het ek gedoen om die storm te veroorsaak?
Die enigste verskil tussen die nar en ons is dat ek nie alleen sit en wag vir die koue nag agter tralies nie. God sit by my en help my om ten spyte van my bravade van vroeër, ten spyte van my skeefgetrekte eiegeregtigheid, met my gesmeerde grimering, skewe hoed en verkreukelde narpak terug te stap huis toe, in ‘n warm bad en bed te klim, en toegevou te word in God se sagte kombers van tweede kanse. Waar sou ek wees sonder God se eindelose kanse?

No comments:

Post a Comment