Saturday, December 6, 2014

Net 'n kind



Ek staan in die hospitaal langs die bed van ‘n baie siek man. Hy slaap. As ek nie later vir hom laat weet nie, sal hy nooit weet dat ek daar was nie. Hy lê klein en broos opgekrul onder die lakens, sy hare nat van koors. Ek staan doodstil, bang dat ek hom sal wakker maak. Ek bid vir hom in my hart. Ek draai sag om en loop op my tone uit.
Toe ek buite die hospitaal kom is dit oral net sonskyn en karre en voëls in die bome. ‘n Gewone dag. Maar agter my, aan die anderkant van die glasdeur, is ‘n wêreld vol broosheid en kwesbaarheid, elkeen uitgelewer aan die genade van ander.
Meteens wonder ek of die wêreld waarbinne ek nou staan nie soms die skans verteenwoordig wat ons almal moet voorhou nie, naamlik dat ons sterk en selfstandig en onbreekbaar is. Is die hospitaal-wêreld nie dalk die plek wat vir ons iets wys van wie ons mense meermale in onsself is nie – broos, blootgestel en bang. Skuil daar nie dalk diep en stil in ons elkeen ‘n brose, blootgestelde, bang kindjie nie? Is ons ego’s en persoonlikhede en maskers nie miskien die fasade waaragter ons skuil in ‘n poging om die brose kind in onsself te verdoesel nie?

 
In die daaropvolgende dae sien ek die brose kind oral om my. In die man wat woedend en ongeskik op die winkelassistent skree. In die ma wat haarself afsloof vir haar familie en verwerp voel omdat niemand raaksien wat sy doen nie. In die pa wat sy kinders dryf tot perfeksie, tot breekpunt toe. In die vrou wat nie die pyn van haar lewe wil hanteer nie en haarself onder narkose plaas met witwyn en pynpille. In die oupa wat nog steeds loop en spog met al sy besittings en prestasies en sukses. In die ou tannie wat nooit kon groei tot gelykmatigheid nie en haar familie ‘n lewe lei met haar wisselende buie en onuithoudbare verwyte. Agter hierdie fasade skuil daardie kind.

Sou die wêreld nie dalk ‘n sagter plek word as ons kon begin om van ons eie broosheid en kwesbaarheid bewus te word nie? Stel jou voor wat sou kon gebeur as ons daarmee voor God kon gaan staan en aan God en aan onsself sou kon erken dat ons meermale broos, blootgestel en bang voel. Ons sou dalk onsself in die oë kon kyk en, meer nog, by ons eie “show” verby kon kyk. Ons sou waarskynlik kon omdraai en besef dat die meeste ander om ons maar ook, onsigbaar diep, ‘n brose kind saamdra.

Daarom sou ons met groter deernis met mekaar omgaan, effens langer stilstaan om iemand begrypend in die oë te kyk, minder veroordelend wees omdat ons agter die bravade van die fasade insien, en vanuit ons eie broosheid oop wees sodat God ons kon aanraak om in ons diepste kern heel en gesond te word.

Dalk is dit in hierdie tyd die grootste guns wat ons aan onsself en almal om ons sou kon bewys:
om te erken – hierbinne is ek dikwels maar net ‘n kind – broos, blootgestel en bang. En God weet dit.


No comments:

Post a Comment