Friday, November 21, 2014

Bagasie



In die laaste tyd is die Here voortdurend met my besig rondom die tema van lig reis en bagasie dra. Daar is nie een van ons wat nie bagasie het nie. Dis ’n gegewe. Die vraag is net: Wat doen ons uiteindelik daarmee?
Sommige van ons ignoreer dit en maak of dit nie bestaan nie, maar besef nie dat daardie bagasie soos ’n monster onder in ’n kelder groei om my later as ek ouer is onverwags van agter aan te val nie.
Ander van ons weet dis daar, maar glo dat ons eendag die moed sal hê om dit uit te sorteer, maar kom nie agter dat die bagasie jaar in en uit net meer word en daar voortdurend nuwe dinge bykom omdat ek nie die ou goed uitsorteer nie.
Ek glo dat die dapperste ding vir ons as gelowiges is om so vinnig moontlik met ons bagasie te gaan sit en een vir een die slotte te breek en die ou goed aan te spreek. Natuurlik kan dit intens pynlik wees, en daarom skram ons weg van die pyn. Amper soos iemand wat weier om die vrot tand te laat stop omdat jy bang is dat die tandarts jou gaan seermaak, net om in elk geval later krullend van die pyn in die tandarts se stoel op te eindig.

As ons nie iewers die bagasie aanspreek nie, sal ons nooit as vry mense leef nie. Meer nog, ek is oortuig dat God ons nooi om die bagasie neer te sit, want daarsonder sal ons futiel poog om lig te reis en voortdurende besig wees om lyke uit die verlede saam te sleep.

Dit beteken natuurlik nie dat ek op ’n punt moet maak of sekere dinge nie gebeur het nie. Wat gebeur het, het gebeur en daardie dinge sal maar altyd deel van my verhaal wees, maar dit word bagasie as dit begin om my manier van dink en leef en doen te affekteer. Kom ons wees eerlik: ons het dalk meer bagasie as wat ons wil erken.

In Handelinge 27 is daar hierdie verhaal van Paulus wat na Italië geneem word om daar verhoor te word. Tydens die vaart raak die weer al slegter en die swaar vrag het dit vir hulle onmoontlik gemaak om die storm te oorleef. Uiteindelik het hulle begin om die hele vrag, ook die koring en die skip se toerusting oorboord te gooi om die skip ligter te maak. Dan, op ’n stadium, sê Paulus vir hulle hierdie woorde: 22 Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. 

Sou hierdie verhaal dalk vir jou ’n metafoor kon wees? Sou jy dalk deur God genooi word om jou boot ligter te maak deur die bagasie oorboord te begin gooi. Ironies genoeg is ons bagasie soms so deel van ons identiteit dat ons regtig doodsbenoud is om dit aan te spreek, want wie is ek daarsonder? Maar hou moed! Jy sal beslis nie jou lewe verloor nie. Inteendeel. Die skip van die vals self sal dalk in die proses vergaan, maar jy sal die Lewe vind, want eers as ek die bagasie agter los sal ek ten diepste vry kan begin leef.


No comments:

Post a Comment