Monday, November 10, 2014

Spaanse Geloofsbelydenis



SPAANSE GELOOFSBELYDENIS

Ons glo in God die Almagtige,
Skepper van die hemel en aarde;
Skepper van alle nasies en kerke;
Skepper van alle tale en rasse.

Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Heer,
God wat vlees geword het as ‘n mens vir die mensdom,
God wat vlees geword het in tyd vir alle tye,
God wat vlees geword het in een kultuur vir alle kulture,
God wat vlees geword het in liefde en genade vir heel die skepping.

Ons glo in die Heilige Gees
deur wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid bekend maak in ons mense en in ons kulture,
deur  wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan ons die krag gee om nuwe skepsels te word,
wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die Liggaam van Christus.

Ons glo in die Kerk
wat universeel is omdat dit die teken van God se heerskappy is,
wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word,
waar al die kleure saam net een landskap teken,
en alle tonge dieselfde lof besing.

Ons glo in die Heerskappy van God – die dag van die groot Fiesta
wanneer al die kleure van die skepping ‘n harmonieuse reënboog sal vorm, wanneer alle mense sal deelneem aan ‘n vreugdevolle feesmaal,
wanneer alle tonge van die heelal dieselfde lied sal sing.

En omdat ons glo, verbind ons ons
om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,
tot die dag wanneer hoop ‘n werklikheid word.

AMEN.

No comments:

Post a Comment