Friday, January 15, 2016

Die dogtertjie en die klippie



In verlede week gaan stap ek een laatmiddag in ons buurt. Deur die een heining sien ek toe hierdie toneel afspeel:
‘n klein blonde krulkop dogtertjie (ek dink nie sy is al 2 jaar oud nie) met mollige beentjies staan met haar t-hempie en doek en tandekraletjies om die nek by die kraan in hulle tuin met water wat uit die kraan drup. Haar mamma sit langs haar met kruisbene op die grond en gee vir haar klippies aan wat sy onder die druppels uit die kraan afspoel. Een vir een spoel sy die klippies af en gee dit weer vir haar mamma terug. En dan vra sy met haar klein stemmetjie: Wie se klippie, Mamma? En die mamma sê: Jou klippie, sussie.

Daar is soveel in hierdie toneel wat my raak:
die klein dogtertjie in haar onskuld en onverdorwenheid en die veiligheid en koestering wat sy duidelik by haar mamma beleef;
die mamma se sorgsaamheid en deernis en geduld en liefdevolle verwondering vir haar dogtertjie;
en natuurlik die water wat die klein tuinklippies se grond afwas.
Hoeveel keer vergeet ons nie dat God soos daardie mamma is en ek en jy soos die dogtertjie. Ons verstaan maar nog min, sal ook nooit alles verstaan nie, maar wat ons kan verstaan is dat God met onbeskryflike sorgsaamheid en deernis en geduld en liefdevolle verwondering na ons kyk en met ons besig is. Ons vergeet dit maklik. Te maklik. Ons word so maklik geïndoktrineer deur stemme wat sê dat ons beter moet doen, dat ons nie goed genoeg is nie, dat ons dit nie maak nie, dat ons vergeet wie ons is: God se geliefde kindertjies.
Dis vir ons wat God soos die sorgsame mamma die woorde van Openbaring 2:17 sê: Ek sal ook vir hom/haar ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom/haar bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie.

Die klippie verwys waarskynlik terug na twee gebruike in die wêreld van die Bybel.
Die een waar iemand wat vrygespreek is in ‘n hofsaak ‘n wit klippie kry as teken van die vryspraak. God het my en jou as sy kinders reeds vrygespreek deur Jesus en ons hoef nooit weer na stemme te luister wat ons van die teendeel probeer oortuig nie.


Die ander was die gebruik van “vriedskapsklippe” (Latyn: tesserae). As jy aan ’n persoon jou wit vriendskapsklippie gee‚ waarop sekere tekens en letters geskrywe staan‚ beteken dit dat jy hom die gasvryheid van jou huis aanbied en hom in jou lewe innooi. As hy jou vriendskapsklippie neem‚ is dit sy toegangskaartjie tot jou huis‚ jou tafel en jou familiekring. God het reeds aan ons elkeen ‘n wit vriendskapsklip oorhandig, met ‘n naam op wat net vir my bedoel is, waarmee Hy sê dat ons nie net welkom is by Hom nie, maar deel word van sy familiekring en ‘n spesiale naam dra as sy kind.

As ek en jy hierdie beeld regtig verstaan sal ons nooit weer wonder wie ons is nie, nie weer wonder wie ons moet wees nie en ons nie weer laar mislei deur al die baie ander stemme wat ons anders wil laat dink oor onsself nie.
Voor God wil ek altyd die klein dogtertjie met die klippie by die kraan wees wat vra: Wie se klippie, Mamma?
Want ek weet God gaan antwoord: Jou klippie, sussie.

No comments:

Post a Comment