Friday, March 21, 2014

Posisie vakant



Die Engelse woord “sage” dui op iemand wat werklik wys is. Iemand met lewenservaring wat al self genoeg foute gemaak het, iemand wat met ‘n diep selfbewustelikheid en ‘n diep bewustelikheid oor die algemeen leef. Iemand wat nie hom- of haarself te hoog aanprys nie en veral weet hoe feilbaar en kwesbaar hy of sy dikwels is. Iemand wat iets van afhanklikheid van God verstaan. Iemand by wie ander mense kan aanklop.
 Of in William Shakespeare se woorde: 


 Hoeveel sulke mense ken jy? Ek moet eerlik wees dat ek nie baie sages ken nie. Dalk so handvol. Mens sou verwag om heelwat sulke mense te vind, maar hoe harder mens soek, hoe minder van hulle kry jy.
John Ortberg sê: The world badly needs wise and flourishing human beings… As jy na jou eie lewe kyk, wat is die kans dat jy besig is om te groei tot ‘n wise and flourishing mens? Om wys, florerend en heel te wees gaan van die paradoksale voorveronderstelling uit dat ek weet dat ek nie altyd wys is nie, dat ek nie altyd gesond funksioneer nie en dat ek ver van heel af is. Of soos 1 Kor. 3:18 : Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word.
Net soos wat ‘n sekere boom nie sommer vanself opkom nie, maar jare neem om te groei tot ‘n boom wat vrug dra en baie aandag en water nodig het om volwassenheid te bereik, net so is ons interne groeiproses intensioneel. Ek gaan nie sommer een oggend wakker word as ‘n wyse, gesonde en heel mens nie. Dit neem baie jare waar groei meestal onsigbaar en onpeilbaar gebeur. Al is die groeiproses intensioneel is die vrug meestal onbewus.
As mens iemand ontmoet wat werklik wys is, is dit so seldsaam dat mens dit amper nie eers vir daardie persoon moet sê nie, want meestal weet hulle dit nie.
In die sielkunde (onder andere Carl Jung en Erik Erikson se werk) praat hulle van hierdie wyses of sages onder ons as mense wat ‘n heel ander pad loop as die meerderheid ander. Trouens is dit een van die belangrikste menslike ontwikkelingstake: om die integrasie te bereik waar ek as ‘n mentor in ander se lewe kan funksioneer. Hier gaan dit natuurlik nie daaroor om ‘n mentor in vakkennis te wees nie (want dis nie so moeilik nie), maar om ‘n mentor van die lewe te wees. En dan nie omdat ek die lewe reggekry het nie, maar omdat daar ‘n diepte, egtheid en deursigtigheid is waarmee ek die lewe leef, wat van my iemand sou maak by wie mense kan tuiskom.
Dalk is die woorde van Lao Tzu belangrik as ek dink oor die soort mens wat ek besig is om te word: Mind the end as the beginning, then it won't go wrong. Mag die pad wat jy kies jou meer en meer vorm, om sonder dat jy dit weet, ‘n geskikte kandidaat te word.




No comments:

Post a Comment