Friday, October 3, 2014

Die Verbode Weg





Daar word dikwels na ons verhouding met God verwys as ‘n reis of ‘n pad. Die bekende skildery wat in menige sitkamer gehang het, van “De breede en de smalle weg”, ken ons ook goed.

Volgens hierdie skildery is daar ‘n breë pad met allerhande onsedelikhede daarlangs, en dit bring jou uiteindelik uit by ‘n vuurpoel. Hierdie pad is maklik en aanloklik en baie mense stap hierdie pad.
Die tweede pad is smal en moeilik begaanbaar, met verskeie struikelblokke en uitdagings en ‘n lewe van uiterste morele onthouding, maar die uiteinde van die pad is God se stad met goue strate.
Bo-aan die skildery is God se alsiende oog wat alles fyn dophou.

“De breede en de smalle weg” is natuurlik gebaseer op die teks in Matteus 7:
13 -
“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die
verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed,
en dié wat daardeur ingaan, is baie.
14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad
daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Volgens hierdie skildery (en baie van ons se verstaan) begin ons verhouding met God by ons moraliteit en ons morele keuses oor wat reg en verkeerd is, maar dis beslis nie waaroor  ’n verhouding met God gaan nie.  Om ’n kind van God te wees gaan nie daaroor om net weg te bly van ’n klomp sonde af nie. ’n Verhouding met God gaan in die eerste plek oor wie God is en of ek dít verstaan. As ek iets verstaan van wie God is, verander dit alles, want dit verander hoe ek na myself kyk. Daarom gaan ’n verhouding met God ten diepste oor wie ek is. Wat ek doen vloei met ander woorde uit wie ek is. Wat ek doen (die morele aard van my verhouding met God) is dus ondergeskik aan wie ek is (die ontologiese aard).
In die skildery van Carl Spitzweg met die titel “Die verbode weg” sien ons drie mense. ’n Paartjie in die verte wat wel  besluit het om die “verbode pad” te kies en die man op die voorgrond wat homself voor die versperring bevind. Nou is die vraag: Wat sou hom verhoed om die versperring op te lig en ook die “verbode pad” te kies?

Vanuit ons perspektief is dit nie in die eerste plek sy moraliteit of sy sin vir wat reg of verkeerd is wat hom sal verhoed nie, maar in die eerste plek sy identiteit, wat baie diep binne hom ’n stem laat hoor wat sê: God se karakter bepaal my karakter. Wie God is bepaal wie ek is. Daarom kies ek om sekere paaie nie te stap nie. Nie omdat die pad in die eerste plek verkeerd is nie, maar omdat ek vanuit my identiteit as God se kind nie kan sien hoe ek daardie pad, en die meegaande gevolge, kan kies nie.

Dikwels kies ons natuurlik die pad wat nie na die lewe lei nie, selfs al weet ons wie ons ten diepste is. God nooi ons om toe te laat dat die trek-kragte na Hom en die stoot-kragte weg van die spreekwoordelike “verbode pad”, al sterker word sodat ek in die diepste aspek van my bestaan getransformeer kan word tot iemand wie se lewe in meer en meer opsigte getuig van ’n pad wat na die Lewe lei.

No comments:

Post a Comment