Friday, August 12, 2016

‘n Road trip deur Ierland: Die voete van die Man op die bankie



Op die eerste dag in Dublin stap ons in die straat af en kom by die Christchurch Katedraal. Dis al laat en eintlik kan mens nie meer ingaan nie, maar dié aand is daar ‘n konsert en iemand beheer die toegang by die hek. Ons vra of ons net kan inkom om ‘n foto te neem, en skielik steek ons in ons spore vas. Hier op ‘n bankie, in die middel van die ingang, ten aanskoue van almal, lê ‘n kaalvoet man onder ‘n kombers en slaap. Ek dink: “Dis verskriklik! Die arme man...”, en toe “Dis ongelooflik dat hulle hom toelaat om hier te lê tusen al die mense wat verbystap, reg voor die kerk. So iets sal nie sommer by ons gebeur nie.” Ons kyk so half verbaas na mekaar. Dis wanneer ons twee treë nader gee dat ons besef hierdie is glad nie ‘n regte mens nie. Dis ‘n standbeeld, net ongelooflik realisties. Toe ons nog nader stap, draai my maag: die voete... Dis Jesus s’n. En dan besef ons hierdie standbeeld is nie van enige hawelose mens nie, maar van ‘n hawelose Jesus. My Jesus. Sonder blyplek onder ‘n kombers op ‘n bankie voor ‘n kerk.


Daardie Vrydagaand in Dublin het Timothy Schmalz, die beeldhouer, presies met ons reggekry wat hy wou. Om ons vir ‘n oomblik te laat stilstaan, te laat dink en kyk en ongemaklik te maak en weer te laat besef dat die mense wat op Jesus se agenda is ook op ons agenda behoort te wees.

Mens kan natuurlik nie anders as om dadelik aan Matteus 25 te dink nie.
“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38 En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39 Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40 En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

As volgelinge van Jesus kan ons nie daarvan wegkom dat Jesus Hom graag aan die kant van die verstotenes van die samelewing skaar nie, selfs al veroorsaak hulle dilemma vir ons groot morele en etiese dilemmas. Ons weet daar is nie eenvoudige oplossings en antwoorde nie. In hierdie opsig is dit ook waar dat ons dikwels so wroeg om die regte ding te doen, dat ons vergeet om in hart en gesindheid en optrede na aan Jesus te bly. As ons na aan Hom bly sal Hy ons help om Hom raak te sien in elke mens wat ons teëkom en om te groei in ‘n hart van deernis en liefde en dade van diens.

Op 1 Mei 2015 toe die standbeeld onthul is, is hierdie woorde deur die aartsbiskop gesê: “Throughout the world of today human beings are subjected to indignity, homelessness, trafficking and death simply for being alive and getting under the ideological skin of their oppressors. Every day for them is a Good Friday. They wait for the day of resurrection in hope and in fear, in trust and in betrayal, in darkness and in light. Homeless people draw us into their world – and rightly; we dare not abandon them. The 21st century is not yet an improvement on the 20th century. The Homeless Jesus is a reminder of their plight and terror, whatever their nationality or creed – and an icon of solidarity with them.”
So as jy weer by ‘n hawelose mens verbystap, moenie vergeet om na die persoon se voete te kyk nie. Dit mag jou dalk in jou spore stop.

No comments:

Post a Comment