Friday, August 12, 2016

‘n Roadtrip deur Ierland: Tot in my DNA




Soms kom mens iemand teë deur wie jy so gefassineer is dat jy jouself moet keer om nie openlik te staar nie.  So persoon was Doreta, een van die kelnerinne by ons een oornagplek. Wanneer jy haar aanvanklik sien lyk sy soos een van duisende mense. Daar is niks prominents wat haar op die oog af van ander mense sal onderskei as anders of besonders of buitengewoon nie. Tot jy haar vir ‘n hele rukkie dophou, soos ek twee oggende na mekaar kon doen.
Sy’s omtrent so oud soos ek, dit lyk of sy ‘n trouring dra en iets aan haar lyf sê dat sy dalk kinders het. Haar hare is in ‘n netjiese bolla vasgemaak en sy dra geen grimering nie. Haar klere laat mens dink aan iets wat mens in Downton Abbey sal sien - so bietjie uit ‘n ander era, funksioneel, stemmig. Sy werk gefokus en effektief. Skuif reg, dra aan, bedien. Uiters formeel. Tot sy by ons tafel kom en ons met haar oogkontak maak. Haar hele gesig ontplof in ‘n glimlag. Haar oë dans saam met haar stem wat sag en soet en hoflik vra wat sy kan bring, of alles reg is, hoe sy kan help. “Would you like to try the scrambled eggs with salmon or the eggs and bacon on Waterford blaa?” “Is everything to your liking, ma’am?”

Ek kan letterlik nie ophou om na haar te kyk nie. Sy fassineer my ongelooflik, maar hoekom? Dis dan wanneer ek die ander kelners sien en besef dis iets in hulle manier van doen. Dit lyk so half of hulle maar net ‘n werk doen, iets doen wat brood op die tafel kry, so half asof hulle nou maar daar is, maar wens hulle was elders. Met Doreta is dit anders. Dit lyk asof sy daar wil wees, dit lyk asof haar werk vir haar ontsettend lekker is en asof dit haar regtig diep vreugde gee om te sien dat haar gaste tevrede is. Om die waarheid te sê lyk dit asof hierdie diens aan ander deel is van wie sy is, asof sy dit nog altyd gdoen het en weer sal kies om dit te doen. Asof dit deel is van haar DNA. En dan besef ek, op die tweede oggend, d
ís wat haar onderskei van die ander kelners: sy gee haarself. Sy is anders as die ander en dit is deel van wie sy is, want sy gee haarself vir wat sy doen.

As God se kinders is party van ons dikwels soos die ander kelners wat maar net doen wat gedoen moet word. Ons is nie regtig hart en siel in wat van ons gevra word nie. Dit word tog veronderstel dat ons nie maar net ‘n stel geloofsoortuigings aanneem en met ons monde sê wat en dat ons glo nie. Dit vra dat ons hele wese deur hierdie oortuigings getransformeer word. Dat dit deel word van ons DNA.

Hoe ons moeilike omstandighede in ons lewe hanteer moet daardeur bepaal word, hoe ons optree wanneer ons verhoudings nie maanskyn en rose is nie, hoe ons maak wanneer ander ons seermaak of wanneer ons agterkom dat ons verkeerd teenoor iemand anders opgetree het. Hoe ons omgaan met ons geld en ons goed, met mag en status en posisie. Hoe ons optree wanneer ons siek of honger of moeg is. En so kan ons nog eindelose voorbeelde noem.

Om die waardes van die Evangelie van Jesus Christus deel van ons DNA te laat word, en om al meer die vergestalting van die beginsels van die Koninkryk te leef is iets wat waarskynlik ons lewe lank sal neem, maar dalk kan ons by Doreta van Kenmare leer: Ons word mettertyd anders as ander en wat ons doen word deel van wie ons is, wanneer ons begin om van onsself te gee.

No comments:

Post a Comment