Saturday, June 21, 2014

Die donker in



Ek het altyd geglo dat God ‘n gentleman is. Hy sal my nie dwing as ek nie wil nie. Hy sal my nie forseer waar ek nie wil in nie. Hy gee my selfs die ruimte om teen Hom te kies en weerstand te bied. Ek dink dis meestal waar, maar ontdek meer en meer dat God dalk ook anders kan wees…
Soms is God vir ‘n geruime tyd met my besig met ‘n bepaalde proses, maar ek weier om bes te gee. Ek weet God praat met my, roep my, nooi my, lok my; maar ek wil nie, sal nie, kan nie meegee nie. Ek kies om willens en wetens op my ou pad te stap terwyl ek weet dat God my op ‘n ander pad roep.  En dan gebeur daar op ‘n dag ‘n ding.
God gryp my. Hy kry my beet aan die enkel en Hy sleep my. Ek skop en skree en rebelleer. Ek word oorweldig deur die besef dat ek nie weet waarheen God met my op pad is nie, en die vrees verlam my. Skielik vind ek in myself baie min van glo en vertou.
Soos in ‘n tonnel tussen twee wêrelde word ek ingetrek deur God en spiraal ek iewers heen, sonder beheer, angstig en benoud omdat ek nie weet waarheen nie.
En dan, meteens, kom die gelatenheid. Die ingee. Die oorgee.
Dan besef ek wat ‘n totale wonder dat God hom s
ó met my bemoei . Dat Hy soveel omgee wat in my mikroskopiese bestaan gebeur en wié ek in my tyd op aarde word, dat Hy my hoegenaamd beetkry. Wat ‘n absolute, oorweldigende en verblindende wonderwerk.
En dan word ek stil voor Sy groter wil.
Dan sê ek soos Augustinus honderde jare gelede: Ek glo, Here, kom my ongelooflik tot hulp.
Ek onthou om te vertrou dat God se pad met my goed sal wees en dit voel selfs of ek vir ‘n slag weer vrywillig agter Hom wil aanloop.
Dan stap ek bitter onseker, tree vir tree die donker  in, al fladder my hart wild in my bors, want van iewers kom ‘n Lig en ek weet dis nie uit myself nie. 


No comments:

Post a Comment