Friday, June 6, 2014

Lighartig



In die Bybel kry ons so dikwels die verwysing na ‘n rein hart of ‘n opregte hart, maar presies wat is dit? Ek vermoed dis vir ons belangrik om iets hiervan te verstaan, want soos Spreuke 4:23 Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe”. 
In Psalm 51:12 staan daar “Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”
Iemand het eenmaal gesê: The goal of a relationship with God is purity of heart. Dit klink eerlikwaar nie baie opwindend nie, maar wat is die definisie van ‘n rein hart?
‘n Rein hart gaan daaroor om my diepste motiewe en redes oor hoekom ek optree soos ek optree te ken en om al meer bewus te word van wie ek vir myself en mense sê ek is, en al minder te maak of ek iets is wat ek nie is nie. Dis ‘n moeilike proses, want ek glo mettertyd myself.
Maar die gevolg is soos my hart rein word, word my gees vernuwe, want wie ek werklik is laat God se lewe in my opborrel, en dit maak my standvastig, omdat ek dan nie meer gryp na die verbygaande giere van wie ek dink ek moet wees nie, maar omdat ek al meer en meer en sterker en sterker groei om die mens te WEES wat God met my bedoel het.
Psalm 101: 2 gaan nog verder: Ek wil my daaraan toewy om opreg te lewe. In my huis wil ek lewe met ‘n opregte hart.
Om opreg te lewe vra dat ek my diepste motiewe sal ken en die moed sal hê om waar nodig teen my motiewe te kies. Dit vra dat ek myself en al my streke sal ken, myself sal waarneem en agterkom wat my gedrag onderlê. Om opreg te lewe vra dat ek al eerliker en deursigtiger sal word. Dit impliseer dat ek nie probleme onder die mat kan invee nie, maar dit in die gesig staar en hanteer. Hoe meer ek met so opregte hart begin leef, hoe minder word my bagasie en hoe ligter kan ek reis. Ek ontdek selfs stelselmatig dat ek gelukkiger voel, want daar’s al minder dinge in myself wat in die donker hoeke skuil en my aftrek. Ek begin vir God in die mees onverwagse detail raaksien. Ek begin leef met verwondering.
Om tussen ander mense voor te gee dat ek met ‘n opregte en rein hart leef is nog relatief maklik – ons almal doen dit van tyd tot tyd. Maar om in jou eie huis met ‘n opregte en rein hart te leef is nie so eenvoudig nie. Om jou diepste motiewe tussen die mense naaste aan jou te ondersoek is moeisaam en daarom kan dit selfs pynlik wees om met ‘n opregte hart te leef, maar as ek dit nie doen nie word my bagasie swaarder tot ek myself later deur die lewe sleep. God nooi ons op die pad van die rein en opregte hart sodat ek lig-hartig deur die lewe kan reis.

No comments:

Post a Comment