Friday, June 27, 2014

Gewoon buitengewoon



So sit ek toe een oggend en voel ‘n kriewelrigheid diep in my donkerste hoek. Eintlik was die kriewelrigheid al vir ‘n paar dae daar, maar nou kon ek dit nie meer ignoreer nie. Wat gebeur hier, vra ek myself? En soos ‘n koue Kaapse brander tref dit my – ek is verveeld met die gewoonheid van my lewe.
Vir sommige van ons is gewoon maar net hoe dit is en ons bevraagteken dit nie veel nie. Ander van ons is allergies vir gewoon. Maar wanneer raak iets gewoon? Dalk maar net as ek gewoond raak daaraan!
Toe ek so rukkie sit met my frustrasie en ek gee een treë terug en beskou my lewe vanuit ‘n ander hoek, besef ek skielik dat daar eintlik niks gewoon in my lewe is nie. Ek deel my lewe en my huis met buitengewone mense. Ek het ‘n buitengewone werk, tussen buitengewone mense. Ek het buitengewone vriende en het elke dag buitengewone ervarings. Ek woon in ‘n buitengewone stad met ‘n  buitengewone klimaat. Vergeleke met miljoene ander het ek buitengewone geleenthede, in ‘n buitengewone konteks, met buitengewone voorregte.
Dalk is die dilemma dat as ons gewoond raak aan die buitengewone, word dit later gewoon, en daarom moet ons elke nou en dan buite die gewone gaan staan om ons te herinner dat dit wat vir ons gewoon geword het, vanuit enige ander perspektief niks anders as buitengewoon is nie.
Die oomblik as ons toelaat dat God se Lig vanuit ‘n ander hoek op die landskap van ons lewe val, verander dit voor ons oë en dit waarby ons elke dag verbystap sonder om ‘n oog te knip, beskik meteens oor kwaliteite wat ander stom sou slaan.
Mag die Here ons vandag oorval met die diep besef van hoe buitengewoon dankbaar ons kan wees dat dit wat ons as gewoon beskou vir baie ander doodgewoon ‘n onbereikbare, buitengewone droom sou wees.


No comments:

Post a Comment