Friday, July 4, 2014

Wees stil...





Dit is winter. Die nagte is koud. Ons maak sop en bou kaggels en probeer so bietjie langer tussen die warm komberse broei. Sommige van ons beleef selfs hoe ons ‘n hunkering ervaar om effens meer in pas met die natuur te leef, stadiger, stiller.
Stilte is nie ons natuurlike modus nie. Daar is sommige van ons wat vanuit ons persoonlikhede meer van stilte hou as ander, maar vir die meeste van ons is stilte nie iets wat ons kies nie. Tog kan die belang van stilte op my geloofspad nie genoeg beklemtoon word nie.
Baie van ons skram weg van stilte af en daar is baie redes hiervoor. Sommige sê ons is nie veronderstel om so na binne gefokus te wees nie en moet buite in die wêreld besig wees. Ander is weer bang vir stilte omdat daar in die stilte donker en ontstellende stemme uit my onderbewussyn met my kom praat oor dinge in my lewe waaraan ek verkieslik so min aandag as moontlik wil skenk. Stilte konfronteer my met my diepste self en as ek stil is, is daar niks waaragter ek kan wegkruip of wat ek kan gebruik om my eie ongemak te ontvlug nie. Selfs so iets soos ‘n oproep, sms, facebook, die radio of televisie wat in die agtergrond speel, kom steel my stilte sodat ek doelbewus nie hoef stil te wees nie. Interessant genoeg is dit ook dikwels my stiltye wat eerste by die deur uitwaai as dit met my swaar gaan of ek ‘n uitsonderlike veeleisende tyd by die werk of in my lewe deurgaan. Veral dan beskou ek stilte as ‘n luukse, wat my net beskore is in tye wat ek dit kan beskostig.
Ek vermoed dat ons denke oor stilte uiters skraal en gebrekkig is. Stilte is nie ‘n luukse waarin ek my kan verlekker as ek genoeg tyd het of iets wat ek myself mag gun as my lewe nie soveel van my eis nie. Stilte is nie soos wyn of sjokolade wat ek elke nou en dan nadertrek om my lewe bietjie interessanter te maak nie. Stilte is soos water en minerale en vitamine – ek kan nie eintlik daarsonder nie.
Groot geloofsleiers het deur die eeue lang tye van elke dag aan stilte spandeer. Martin Luther het byvoorbeeld elke dag twee tot drie ure saam met God stil geword en gelees en gebid. Eers daarna het hy aktief en met passie die res van sy dag spandeer in die wêreld. Moeder Teresa en haar Sisters of Mercy het elke dag begin met ‘n uur en ‘n half gebed en daagliks smiddae en saans langerige tye van stilte gehad om hulle die krag te gee en te energeer vir hulle uiters opofferende en fisies veeleisende werk. Ek praat nie eers van die rol wat stiltye in Jesus se lewe gespeel het nie.
Dit beteken nou nie dat ek presies soveel tyd in stilte sal deurbring nie, maar die dilemma is dat ons so gewoond daaraan is om ons lewens teen ‘n geweldige vinnige tempo te leef dat die haastigheid en gejaagdheid ongesiens elke hoek van ons bestaan binnegesluip het. Die geraas en geluide van ons wêreld is so oorverdowend dat dit die stilte vinnig en kragtig verdun, sodat die tye van stilte in ons lewe tot die minimum beperk word.
Dit laat my besef dat ons baie meer intensioneel met stilte sal moet omgaan. Daar sal doelbewuste tegnologievrye tye in ons huise en gesinne moet wees. Daar sal doelbewuste nie-sosiale tye moet wees waar ek kies om nie tussen mense te wees of besig te wees om te werk nie. Ek sal intensioneel met my lewe moet gaan sit en gaan soek na tye en plekke wanneer ek stil kan word. As ek dit nie doen nie, gaan my natuurlike behoefte aan stilte en aan God nie aangewakker word nie. Dis deur tye van intensionele stilte dat my siel weer spontaan begin roep na God en dat my soeke meer soos honger en dors word as soos die meganiese handelings wat ek van tyd tot tyd uitvoer om te probeer om vir God ruimte te skep.
Christopher Jamison, ‘n Benediktynse monnik sê die volgende eenvoudige, maar merkwaardige dinge oor die belang van stilte in ons verhouding met God: “If you want to be deeply connected with God and yourself, you need silence. Silence is something to welcome and embrace. Silence is a gateway to the soul, and the soul is the gateway to God. Yet this is a lifetime’s work. Entering silence can be painful and will lead to unexpected places.” Hy sê dat ons tydens stilte in ons diepste self vasloop en dat dit soms ‘n ontnugtering is, want ons ontdek dat ons nie met sulke suiwer motiewe leef nie, en dit opsigself is geweldig konfronterend, maar as ek die proses toelaat kom ek agter dat die modder wat my water vertroebel, stelselmatig sak en ek al duideliker kan sien waarmee ek besig is en ook waarheen God met my oppad is. Volgens hom lei ‘n lewe vol gereelde stilte tot groter helderheid en dit bring jou in kontak met jou siel. “Life would be transformed for the better if we embraced silence.” Dalk het dit tyd geword dat ons gaan soek na tye en plekke waar ons so gereeld moontlik kan stil word.

No comments:

Post a Comment