Thursday, July 31, 2014

Op jou eie voete




Die bekende skrywer Scott Peck sê op ‘n stadium : “It is the most psycologically and spiritually mature among us who are the least likely to grow old mentally.”
Hy skryf verder dat  daar baie mense is wat in die lang volwasse fase van hul lewe nooit werklik emosioneel en geestelik volwasse word nie, nooit werklik vir hulself en hul eie lewe verantwoordelikheid aanvaar nie. Wanneer hulle dan ouer word skuur die ouderdom die dun lagie vernis oor die mondering van volwassenheid af en kom daar iemand uit wat eintlik maar nog die verwagtings het van ‘n kind wat nooit tevrede gestel is nie. Scott Peck vertel verder dat baie van die mense wat by hom beland vir terapie soos emosionele kinders is wat grootmensklere dra. ‘n Mens sien dit aan die veeleisende, manipulerende en selfgesentreerde manier hoe hulle optree. Hy vertel ook van ‘n mentor van hom wat eenmaal gesê het: Ah , Scotty, an adult is a marvelous thing! Daarmee het hy natuurlik bedoel iemand wat werklik volwasse is, is ‘n plesier om te beleef en te aanskou, want daar is so min van hulle. Dis interessant genoeg juis diegene wat gekies het vir die ongemaklike pad van diep emosionele en geestelike groei en transformasie wie se ouer jare inderdaad goue jare is, want vir hulle hou groei nooit op nie, nie tot die dag van hulle dood nie. (Scott Peck Different Drum:143).
Wat ‘n vreesaanjende gedagte: tussen ons loop baie mense wat volwasse voorkom – hulle maak kos en het kredietkaarte, hulle ry karre en besit besighede, hulle doen belangrike werke, het self kinders en huishoudings waarvoor hulle verantwoordelik is, maar diep in hulself is hulle nie besig is om as eg geestelik en emosioneel volwasse mense te leef nie.

 Natalie Smith, die skywer van “Stand on your own feet” vertel van Thomas Merton se heel laaste toespraak voor sy dood in Bangkok in 1968. In die toespraak vertel hy die storie van ‘n monnik wat uit Tibet moes vlug en hoe hy aan ‘n ander monnik in dieselfde situasie vra wat nou gedaan. Die ander monnik reageer toe so: From now on we all stand on our own feet. Dit beteken natuurlik nou weer nie dat ons na die anderkant toe oorhel en dink dat ons nie afhanklik van God hoef te leef en selfvoldaan en eiegeregtig word nie. Selfvoldaanheid en eiegeregtigheid is eintlik maar net nog ‘n vorm van geestelike onvolwassenheid. Volledig op ons eie het ons almal voete van klei. Dis juis as ons afhanklik van God leef dat ons begin sien hoe nodig ons Sy uitdagende leiding en rigtinggewende groei in ons lewe het. Dis juis as ons op God se insig vertrou dat ons insig in ons eie onvolwassenheid kry en tot voordeel van die mense om ons kan begin leef. As gelowiges nooi God ons om verantwoordelikheid vir onsself en ons keuses te aanvaar en ander te bevry van die emosionele las wat ons dikwels op hulle plaas.

Maya Angelou het die onderskeid gemaak tussen veroudering en volwassenheid. Ons kultuur kort desperaat ware wyse mense. Mense wat nie net verouder nie, maar mense wat emosioneel en geestelik so wys en heel is dat die res van ons by hulle kan leer oor ‘n lewe van wysheid en heelheid, mense wat mettertyd self God se gawe aan die mense om hulle geword het. Is jy besig om een van daardie ware wyse mense te word?

No comments:

Post a Comment