Saturday, July 19, 2014

Die Kweekhuis




In die afgelope vakansie het ek en my kinders by die familie in die Kaap gekuier. Tydens een van ons uitstappies het ons die Kirstenbosch botaniese tuin besoek. Ek was al eenmaal vantevore daar, maar wat ‘n ongelooflike plek! Elkeen wat al daar was sal met my saamstem dat dit ‘n absolute lushof is. Trouens, dit is die grootste inheemse tuin in die wêreld. Terwyl ons daar was hoor ek onder andere dat daar in die tuin etlike kweekhuise is, maar dis veral die een kweekhuis wat my diep aangegryp het. Anders as al die ander kweekhuise is hierdie kweekhuis se taak nie om die plante vogtig te hou en teen uitdroging te beskerm nie, maar presies die teenoorgestelde.
Binne hi
érdie kweekhuis word die temperatuur so gereguleer dat dit so droog en warm as moontlik daar binne is, aangesien die kweekhuis volledig gewy is aan die behoeftes van plante wat uit die droogste, mees barre, warmste gebiede van Suid-Afrika kom, soos onder andere die Richtersveld. As hierdie plante dieselfde hoeveelheid water en koue as die res van die plante in die reuse tuin moes kry sou hulle doodgaan en verskrompel.
Dit het my onmiddelik laat dink dat hierdie plante in die “droë” kweekhuis tenoor die res van die plante, metafories is van ons mense en ons geestelike behoeftes.
Net soos die plante in die tuin het ons nie almal dieselfde behoeftes nie en is die ideale klimaat vir groei nie noodwendig vir ons elkeen dieselfde nie. Trouens, dit verskil dramaties! Dis dalk presies hoekom ons as gelowiges so sukkel: ons probeer voortdurend soos iemand anders wees wat ons dalk bewonder, of probeer op dieselfde manier groei as die ander mense om my. Kort voor lank kom ek agter dat dit nie vir my werk nie, dat ek nie tuis voel nie, maar ek sukkel maar voort, want ek glo as dit vir sus en so werk, dan moet dit vir my ook werk. So gebeur dit dan, dat ek in plaas van groei en floreer, mettertyd verskrompel en kwyn.
Dit kan natuurlik ook gebeur dat ek met die oortuiging leef dat as iets vir my goed is, dit vir ander ook moet goed wees, en nie kan verstaan hoekom ander so sukkel nie – dis mos eenvoudig!
Dalk is die dilemma dat die meeste van ons maar op ‘n manier aan geestelike luiheid (of “sloth” in Engels) ly. Ons wil nie noodwendig die werk en die moeite doen wat nodig is om uit te vind wat die optimale groei-omstandighede vir my met my persoonlikheid en spiritualiteit is nie, en verloor dan vinnig moed as ek nie groei soos ek gehoop het ek gaan groei nie. Die wyse woorde van die ou mistikus, Meister Ekchart, is hier uiters relevant:
We are all called to God on a different path. Do not follow the path of others. Follow the path that God has given to you.
Wanneer jy vir jouself vra watter omstandighede optimale groei in jou lewe sal meebring sal jy dalk heel verras ontdek dat dit nie is wat jy gedink het dit gaan wees nie.
Alhoewel die plante in Kirstenbsoch se kweekhuis se behoeftes verskil van die res van die tuin, het al die plante in die tuin een gemene deler en dit is dat die Tuinier, nadat hulle in die mees optimale omgewing geplaas is, vertrou dat hulle sal groei, vrug dra en floreer. Dieselfde is waar van ons. Die Tuinier wil met sorg na ons omsien (Johannes 15), sodat ons kan vrug dra in ons gemeenskappe en ons wêreld en vrug voortbring wat tot voordeel is van elke konteks waarbinne ons ons mag bevind.
Die vraag is nou of ek bereid is om my oop te stel vir God se Gees om my te neem na daardie plekke van groei en of ek bereid is om te besef dat dit wat vir my goed is en tot lewe lei, nie net lekker is nie.
Mag die “kweekhuis” die plek wees waar ek en jy die volhoubare krag kry om te gaan wees wat ons kan wees, want na alles is ons nie plante nie, maar mense met hande en voete en lywe.


No comments:

Post a Comment