Thursday, July 24, 2014

Gewoontediere




Ons mense is mos maar gewoontediere. Ons het vaste patrone waarvolgens ons funksioneer en ons lewens inrig. Ons voorkeure en afkeure het oor jare diep kepe in ons manier van leef ingegraveer. Natuurlik het ons ‘n hele aantal goeie gewoontes, maar ons het ook gewoontes wat nie noodwendig vir ons of ander goed is nie. Dis hierdie gewoontes wat ook nie so maklik verander nie.
Hier dink ek onder andere aan bepaalde denkpatrone oor myself en die lewe, my manier van konflik hanteer, hoe ek reageer in tye van krisis en spanning, en so meer. Natuurlik is baie van ons nie eers mooi bewus van ons ingewortelde patrone nie.
Daarom is ‘n ordentlike skoot selfkennis onontbeerlik op ons geloofspad. Te veel gelowiges skram weg van selfkennis omdat hulle voel dat dit hulle selfbehep maak, maar die realiteit is dat die meeste van ons nie insig in ons gedrag en optrede sal ontwikkel as ons nie weet wat die dieper dinamika in my persoonlikheid is wat my gedrag of manier van dink bepaal nie.
Ann Voskamp haal op ‘n stadium vir Desiderius Erasmus aan wat eenmaal gesĂȘ het: A nail is driven out by another nail; habit is overcome by habit. Net soos ek nodig het om ‘n spyker wat al vir jare in die hout vassit, van die ander kant af met ‘n ander spyker en hamer uit te slaan, so het ek nodig om dikwels ou, uitgediende of nadelige gewoontes te vervang met nuwes.
Sien jy kans om die Timmerman toe te laat om jou te wys watter van jou ou gedrags- en denkpatrone is dalk uitgedien of nadelig; watter ou gewoontes moet dalk plek maak vir nuwes?
Die proses wat nodig is om van ou gewoontes ontslae te raak is redelik intensioneel. Die spyker val nie op ‘n dag vanself uit die hout nie. Op ‘n bewustelike manier sal ek van die ander kant af moet begin om die ou dinge te takel, te dekonstrueer en veral te verstaan hoe dit gekom het dat ek hierdie gewoontes het.
Die beste manier om ou gewoontes te verander is waarskynlik om in die teenoorgestelde gesindheid op te tree as my natuurlike voorkeur. Om doelbewus nie by die kafee te stop vir daardie sjokolade nie. Om willens en wetens my stapskoene aan te trek al is ek hoe lui. Om my wekker te stel vir my tyd saam met God al is ek glad nie lus nie. Om intensioneel te bid vir vrede as die angs my wil oorweldig. Om te besluit om oop te wees vir vertroue as bekommernis my wil insluk. Om te kies vir geduld en vriendelikheid as my gewoonte is om af te jak en nors te wees.
Hiervoor is dit natuurlik nodig dat ek gereeld sal gaan stil sit om te verstaan wat die dieper motiewe is wat in die donker water van my hart roer.
Om my oop te stel om deur God geleer te word,
om dit in te oefen en
myself vrywillig aan te meld om afgerig te word
 is die moeilikste deel van transformasie,
 maar daarsonder gebeur diepgaande, egte transformasie eenvoudig nie.
Dalk kan CS Lewis se woorde ons so bietjie help: If you think of the world as a place intended only for our happiness, you find it quite intolerable: think of it as a place of training and correction and it’s not so bad. Of die woorde van Romeine 12:2:
Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. So gryp daai hamer...


No comments:

Post a Comment