Tuesday, August 5, 2014

Die Enneagram: 'n Instrument van Bekering



In die veld waarin ek werk is daar min hulpmiddels wat kan kers vashou by die Enneagram.
Die Enneagram is na my mening werklik ‘n instrument van bekering. Elke keer as iemand die Enneagram ontdek op sy/haar geloofsreis en dit as metgesel begin omarm, staan ek verstom hoe God dit in mense se lewens gebruik om te ontwortel, af te skil, skoon te stroop en bemiddelend te wees in die ontdekking van die essensiële self. Mense sien hulself vir die eerste keer werklik raak en begin vir hulself verantwoordelikheid aanvaar op ‘n manier wat hulself verbaas laat. Uit die aard van die saak is dit dikwels ‘n pynlike proses, aangesien jy met dinge in jouself gekonfronteer word wat jy vroeër eerder onder die mat sou wou invee.
Natuurlik reageer ons nie almal ewe positief op die Enneagram nie. Daar is heelwat van ons wat uit die staanspoor sterk weerstand bied teen wat ons daar ontdek en dan op die plek besluit dat ons nie van die Enneagram hou nie. Een van die gewildste reaksies is: “Ek laat my nie in ‘n boks druk nie”. Die ironie is dit: Jy is in ‘n boks! Jy sien dit net glad nie raak nie! Die Enneagram gaan juis daaroor om jou van jou boks bewus te maak en jou te help om die boks só raak te sien, dat jy meer word as wat jy is en mettertyd werklik buite die boks begin leef. Diegene wat hierdie beswaar opper sal maklik oor hulself sê: “Ek dink buite die boks”, maar as jy mooi daaroor dink is presies dít hulle boks. Die slegte nuus is dat niemand so vry is soos ons dink ons is nie. Vryheid is ‘n intensionele proses waarby beide ek en God betrokke is.

Een van die mees merkwaardige eienskappe van kuns is dat die oomblik as dit uit die hande van die kunstenaar is, dit oop is vir interpretasie. Die Amerikaans-Griekse beeldhouer Zenos Frudakis
(gebore 1951) het ‘n merkwaardige reuse beeldhouwerk getiteld Freedom gemaak wat by GlaxoSmithKline se hoofkantoor in Philadelphia te sien is. Volgens my is die beeldhouwerk ‘n skitterende metafoor vir die proses waarin die Enneagram ons wil begelei. 



Kyk fyn na elke figuur: die rigiditeit van die eerste, die kriewelende ongemak van die tweede, die smagting en soeke van die derde en uiteindelik die bevryding en vryheid van die vierde – ‘n skitterende verloop van die (meestal sikliese) interne, psigo-spirituele proses. 

Kan jy die merkwaardige simboliek hierin sien?
Dit is presies die proses wat die Enneagram wil help bemiddel...
Ek kan paragraaf na paragraaf die Enneagram se deugde besing, maar vermoed dat dit met die Enneagram ook gaan soos met die Evangelie, en met die fliek Matrix: No one can tell you what the matrix is, you have to experience it for yourself.
 

No comments:

Post a Comment