Thursday, August 7, 2014

Gemaklik in my groef




In Februarie hierdie jaar het daar ‘n berig soos ‘n veldbrand oor sosiale media versprei. Dit het gehandel oor ‘n 14 jarige seun met die naam Jordan Nichols. Sy broer het op ‘n gedig afgekom wat hy blykbaar geskryf het en ingehandig het vir ‘n skooltaak. Sy broer was verbyster oor sy klein boetie se insig in die lewe en letterkundige vaardigheid. Binne twee dae het dit egter uitgekom dat dit nooit die seun was wat dit geskryf het nie, maar ‘n ene Jonathan Reed wat dit reeds in 2011 geskryf het.
Baie mense was ontsteld omdat die seun plagiaat gepleeg het, maar dit het my nogal gefassineer dat die seun juis hierdie gedig gekies het om as syne voor te stel. Ek dink hy het probeer om daarmee te sê dat sy generasie desperaat opsoek is na ‘n stem van hoop en nuwe perspektief. Die gedig lui as volg:


Our generation will be known for nothing.
Never will anybody say,
We were the peak of mankind.
That is wrong, the truth is
Our generation was a failure.
Thinking that
We actually succeeded
Is a waste. And we know
Living only for money and power
Is the way to go.
Being loving, respectful, and kind
Is a dumb thing to do.
Forgetting about that time,
Will not be easy, but we will try.
Changing our world for the better
Is something we never did.
Giving up
Was how we handled our problems.
Working hard
Was a joke.
We knew that
People thought we couldn’t come back
That might be true,
Unless we turn things around
(Read from bottom to top now)



Die merkwaardige van die gedig is dat die betekenis 180
˚ verander as jy dit van die ander kant af lees, as jy met ander perspektief daarna kyk. Hoe bereid is ek en jy om ons manier van dink, ons vertekpunte, ons “view points” nuut te bekyk en dit selfs te bevraagteken en te dekonstrueer? Sou jy bereid wees om oop te wees dat jou manier van dink dalk skeef of verwronge is? Sou jy kans sien om die mense in jou lewe teen wie jy baklei dalk, soos die gedig, van ‘n ander kant af te beskou en te ontdek dat daar ‘n hele nuwe wêreld oopgaan as jy op ‘n nuwe manier begin kyk en dink.


Baie van ons sit so vas in ons idee van hoe die lewe is, wie ons is en wie die ander in ons lewe is, dat ons glo dit kan nie verander nie. Trouens lyk dit asof ons nie wil verander nie (soos Ken Wilbur sê). Al kom ek agter ek is in ‘n groef, verkies ek my groef, want ek voel gemaklik daar. Tog gaan dit op ons pad saam met God nie oor verandering as sulks nie, maar oor diepgaande transformasie. 
Iemand soos Scott Peck is weer oortuig dat ons mense oor ‘n merkwaardige vermoë beskik om te transformeer, soveel so dat dit wat vroeër vir ons normale optrede was mettertyd baie abnormaal word, en dit wat voorheen met moeite gekom het, kom na afloop van transformasie amper vanself. 

Hierdie transformatiewe vermoë is nog ‘n groter realiteit as ons vanuit God se perspektief na onsself kyk. God is 100% aan die kant van diepgaande transformasie. Ons sien dit dikwels in die Bybel.
Onder andere ook in Jesaja 1:18 Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.
En Psalm 51:
11 Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees. En dan, die glinsterende woorde van 2 Kor 3:18: Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.


God staan ten diepste aan die kant van my transformasie. Dis God wat my help snap, besef, dat die verskil tussen ‘n groef en ‘n graf net die diepte is. Dis God wat my nooi om my perspektief te verander. Om gedigte van agter af te lees. Om mense vanuit nuwe hoeke te beskou. Om myself te begin raaksien as iemand wat op ‘n diep vlak kán verander. God se proses is altyd ‘n pad van transformasie. Mag die gedig van jou lewe aan die einde van jou reis getuig van ‘n dieper, lewegewende pad en nie van ‘n groef nie.

No comments:

Post a Comment