Thursday, August 28, 2014

Wat die hart roer


Een ding wat ons almal in gemeen het is ons emosies. Dis onder andere ons emosies wat van ons mense maak. Sonder emosies sal ons robotte wees. Dis redelik voor die hand liggend dat God ons gemaak het om emosies te hê, maar watter funksie sou emosies in ons dieper pad met God speel? Emosies is die seismograwe wat die trillings van ons binnewêreld optel. Daarom moet ons leer om baie mooi na ons emosies te luister.

Emosies kan een van ons grootste vyande wees. Baie van ons word so deur ons emosies op loop geneem en oorheers dat dit ons totale funksionering bepaal. Ons word so maklik kwaad, en word so maklik omvergegooi. Net een klein dingetjie gebeur, of iemand sê net een enkele sin, en dit ontlont ‘n vloedgolf van emosies.
Vir sommige van ons is ons emosies soos ‘n trop wilde perde wat onbeheersd die vlakte injaag, en dan is dit baie moeilik om hulle weer terug te bring. Dikwels besef ons dit nie, maar ons word ons emosies. 

Die skrywer Oscar Wilde het op ‘n stadium oor sy emosies gesê: “I don't want to be at the mercy of my emotions. I want to use them, to enjoy them, and to dominate them.” Hartseer genoeg was hy juis bekend vir sy emosionele onstabiliteit en komplekse verhoudings wat daaruit voortgevloei het.
Dit laat my dink aan die woorde van Jakobus 1:6  :(so persoon is) soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.  Hierdie woorde is ‘n mooi beskrywing vir hoe baie van ons aan ons emosies uitgelewer is en nie eintlik weet wat om met hulle te maak nie.
Om te besef dat ek baie meer as my emosies is en om so bietjie op ‘n afstand te gaan staan as die emosie oor my rol is een van die belangrike vaardighede wat ons as God se kinders kan aanleer. 


Tog speel ons emosies ook ‘n baie belangrike rol en daarom is emosies bepaald ook ‘n gawe van God.
My emotiewe wêreld kan my oneindig baie leer. In plaas daarvan om bloot passief te ervaar hoe emosies my oorspoel, sou ek God kon toelaat om my emosies te gebruik om my te leer wat in my binnewêreld aangaan.
Daarvoor moet ek natuurlik al meer bewus word van my emosies en leer om aan hulle name te gee.
As ek voel hoe ‘n emosie in my roer, kan ek vir ‘n oomblik stil word, een treë terug gee en vra: Wat beleef ek nou? In God se hand word my emotiewe lewe ‘n kragtige hulpmiddel wat God sou kon gebruik om my te lei op ‘n dieper pad met Hom.

God gebruik ook my emosies om my hart te roer en my diep aan te raak: mooi musiek wat ‘n heilige plek in my oopsluit. ‘n Beeld of foto of film wat my daarheen neem. Iets onverwags in die natuur wat my op ‘n emotiewe vlak raak. Mooi woorde, iemand wat op ‘n sekere manier na my kyk, die aanraking van iemand na aan my. Dalk moet ons meer bewus raak van dit wat ons harte roer, want daarsonder sluit ons ons op ‘n emotiewe vlak af vir ‘n dieper ervaring van God.

In God se hand kan emosies sleutels wees tot ‘n merkwaardige realiteit waarvan ek dalk voorheen onbewus was. Of soos Helen Keller gesê het:“The best and most beautiful things in the world cannot be seen or even touched. They must be felt with the heart”.

No comments:

Post a Comment