Saturday, August 23, 2014

Onwaarskynlike Geskenke



Vir heelwat van ons is dit ontstellend om in onsself rond te krap en dinge oor onsself te ontdek wat voorheen aan ons onbekend was. Vir ander is dit weer bevrydend. Waarom is dit belangrik? Kom ons gee een belangrike treë terug en sien die groter prentjie.

Jesus was God se geskenk aan die wêreld. In Jesus se tyd op aarde het Hy ons kom wys wat vir God belangrik is. Hy het God kom leef hier op aarde. In Jesus was al die skatte van die Koninkryk opgesluit. Maar wat het van hierdie skatte geword? Na Sy hemelvaart het God die potensiaal van sy skatte eksponensieel kom vermenigvuldig deur aan elke gelowige die Gees van God te gee en deur die Gees God se skatte in ons kom ontsluit. Dis dalk wat Jesus bedoel het in Johannes 14:12  Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen...

Hierdie skatte is egter niks bonatuurlik nie. God het sy geskenke aan die wêreld op die mees onwaarskynlike plek kom plaas - toegedraai in die persoonlikhede van gewone mense. Tog leef die meeste mense totaal onbewus hiervan. Hulle besef nie wat hulle diep binne hulle dra nie. Om dit te werklik te sien en te besef is nogal ‘n moeilike proses omdat jy nie by diamante uitkom sonder om ook deur die klippe en modder te delf nie. 

Daar diep binne elke mens lê ongekende gawes wat God nie net aan ons gee nie, maar wat Hy veral deur ons aan die wêreld wil gee. Hier is natuurlik nie net tasbare en sigbare gawes ter sprake nie, maar veral ook die tipe dinge wat die Enneagram ons van bewus wil maak, die geskenke wat saam met ons persoonlikhede kom. 

Daar is een ding wat ek beter kan doen as enigiemand anders op aarde: ek kan myself wees, soos God dit bedoel het. Een van my belangrikste take sal wees om te leer hoe om hierdie geskenke aan te wend soos God dit oorspronklik beplan het. Ek, soos jy, word geroep om met my gewone, klein lewe, op my unieke manier God se geskenk aan die wêreld  te word.


Hieroor sê Shaine Claiborne: Not everyone responds in the same way, but we must respond. We must seek our vocation. We each have a different vocation, but the calling is the same: to love God and our neighbors with our whole lives, careers and gifts.

So wat is die geskenke wat jy in jou ronddra?
Verstaan jy dalk al meer wat Jesus bedoel het toe hy hierdie woorde gesê het: Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook (Johannes 20: 21) ? Sien jy kans om die skatte van die Koninkryk wat in jou verskuil lê uit te delf, te laat slyp en aan te wend? 

No comments:

Post a Comment