Friday, May 22, 2015

Op soek na geluk




Een van die fundamentele menslike behoeftes is om gelukkig te wees. Tog is geluk vir die meeste van ons nie so vanselfsprekend nie. Daar is maar altyd een of ander stok in die speke wat maak dat baie van ons nie sommer net gelukkig kan wees nie.
Ek wonder of een van die redes waarom geluk ons ontwyk nie juis die feit is dat geluk so ‘n doel opsigself begin word het nie. As iemand nie meer in ‘n verhouding wil wees nie, hoor mens hoe die persoon sê : “Ek is nie meer gelukkig nie”. As iemand ‘n sekere werk nie meer wil doen nie, hoor mens weer: “Ek is net nie gelukkig nie.” As iemand moeg is vir ‘n kerk is dit dikwels dieselfde rede: “Ek voel nie gelukkig daar nie”. Ek het al self baie keer gesê of gedink: “Ek is nie gelukkig nie”, so asof geluk die hoogste doel is.
Nou is die vraag: Hoe definieer ons geluk? Wanneer is ek gelukkig? Is dit wanneer alles presies loop soos ek wil hê dit moet? Of dalk wanneer ek die ervaring het dat die realiteit en my droom parallel is? Moontlik voel ons ook ons is gelukkig as ‘n situasie of iemand aan al my behoeftes voldoen. As dit die voorwaardes moet wees vir geluk, is dit geen wonder dat baie van ons sukkel om geluk te ervaar nie. As ons moet eerlik wees is dit onrealisties dat situasies altyd gaan loop soos wat ek wil hê dit moet. Daar is ook ‘n baie goeie kans dat my droom en my idee van hoe dinge moet wees so ver van die werklikheid verwyder is, dat die twee net nie met mekaar versoen kan word nie. Dink maar aan verhoudings of situasies waarin jy jouself bevind- dit loop dikwels nie soos jy wil hê nie, en die realiteit van die situasie is dikwels baie anders as jou droom of ideaal daarvoor.
Jeanne Els skryf iewers:
To me, to be satisfied and at peace, outweighs happiness.
Dink so oomblik hieroor na. Wat gebeur as ek tevrede is? Miskien is dit om vrede maak met hoe my lewe is en dat ek kan besef dat ek genoeg het – genoeg het om van te lewe, genoeg het in my verhoudings, sommer net genoeg... As ek kan vrede maak met hoe my lewe is en voel dat ek nie
veel meer nodig het nie, kan ek tevrede wees. Dit beteken nie dat dit verkeerd is om in ‘n gegewe situasie meer te wil hê nie, maar ek kan nie altyd meer wil hê nie.Om vrede te ervaar werk baie dieselfde. As ek vrede het word my verhoudings waarskynlik nie op daardie stadium gekenmerk deur
 konflik nie, smag ek nie voortdurend na meer nie, tob ek nie heeltyd oor hoe dinge anders kon wees nie.

Beide tevredenheid en vrede word gekenmerk deur aanvaarding. Aanvaarding van die ander persoon en sy of haar andersheid. Aanvaarding dat die situasie of die ander persoon nie die vervulling van my droom kan of gaan wees nie. Aanvaarding van die realiteit van die situasie en die plek waar ek my tans bevind. 

Dalk kan jy glad nie by tevredenheid kom nie en kan jy ook glad nie vrede maak met hoe dinge is nie. Dan is dit dalk inderdaad tyd om dinge anders te doen of ‘n verandering te maak. Jy is die enigste een wat daaroor beheer het, wetende dat geen situasie sommer perfek gaan wees nie.
As ek tevrede is en vrede ervaar, bring dit waarskynlik ‘n groot mate van gelykmatigheid in my lewe wat die grond voorberei vir ‘n diep en onverklaarbare lewensgeluk wat kan wortel skiet en nie sommer deur die eerste beste wind of storm ontwortel word nie. Miskien sien mens iets hiervan in Prediker 9:7 as dit gaan oor die lewe van God se kinders: Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Of anders gestel: To me, to be satisfied and at peace, outweighs happiness.

As ek vanaand in my bed klim en ek kan eerlik vir God sê dat ek tevrede is en vrede ervaar, is dit waarskynik die naaste aan geluk wat enige mens kan hoop om te wees. Dan herskryf ek dalk sommer die woorde en sê:  To me, to be satisfied and at peace, is all the happiness I need. En dan hoef ek nie verder te soek na geluk nie.

1 comment: