Thursday, May 7, 2015

Tussen net-nou en nou-nou



Die tegnologie van slimfone het ons samelewing nogal soos ‘n golf getref. Daar is ‘n redelike goeie kans dat as jy hier lees, jy wel ‘n slimfoon het. Om die waarheid te sê lees jy dalk hierdie woorde op jou slimfoon. Dit is iets wat tien jaar gelede totaal ondenkbaar was. 

Ons selfone het vir baie van ons soos ‘n tipe lewensaar geword, want daar word ons dagboeke gestoor, ons doen al ons sosiale media van daar af, dis ons kamera en jare se foto’s word saam met ons rondgedra en die meeste van ons musiek word met ons slimfone gekoop, daarop gestoor en daarop geluister. Ons foto-redigeringsprogramme is daarop gelaai, ons kan ons e-pos daarvandaan ontvang en ons kan selfs ons banksake van daar bedryf. Dis ‘n wekker, ‘n tydhouer, ‘n sakrekenaar, herinner ons aan take om te doen en aan verjaarsdae, sê vir ons hoe die weer gaan wees, daar is ‘n GPS op wat ons neem presies waarheen ons wil gaan en baie van ons lees ons Bybel daarvandaan. Daar is ook nog eindelose apps met enigiets van wanneer en hoe laat die volgende fliek wys, hoe laat die volgende Gautrein vertrek en arriveer, en nog eindelose ander voorbeelde van speletjies tot oefenprogramme tot resepjoernale.

Inderdaad nogal oorweldigend en absoluut merkwaardig!
Geen wonder dat die werklike gevaar bestaan dat ons ‘n generasie word wat totaal afhanklik en verslaaf aan ons fone is nie. Dink net hoe angstig raak sommige van ons as ons ons fone iewers neergesit het en dit nie kan vind nie. 



‘n Paar jaar gelede het ek ook vir die eerste keer ‘n slimfoon gekry. Ek was sommer gou baie beïndruk met wat die masjientjie alles kon doen. Op ‘n dag kom ek toe agter dat hierdie tegnologiese
wonder van my skielik vreeslik stadig werk, die battery wil net nie hou nie en boonop word dit warm (nie ‘n goeie teken nie!).
Ek vra so effens verbouereerd vir my man, wat toe al die ding mooi onder die knie het, wat fout kan wees met die foon. Sy eerste vraag, sonder om eers op te kyk of te vra om die genoemde foontjie te sien, was : “Hoeveel apps het jy oop?”
“Hoe bedoel jy?”, wou ek weet. So verduidelik hy toe vir my dat as jy nie elke nou en dan die apps toemaak nie, dan bly hulle in die agtergrond van die foon se verwerkingsisteem oop.
Toe hy my wys was ek totaal verstom om te sien hoeveel apps toe wel oop is… Een-en-twintig! Stel jou dit voor. Een-en-twintig apps, wat oop lê en bietjie vir bietjie aandag vra van my foon se batterylewe en werksvermoë. Van toe af maak ek maar elke nou en dan al die apps toe, veral as iets hang wat nie moet hang nie.

Ek dink dat hierdie beeld ‘n kragtige metafoor vir my eie funksionering is. Ek het soveel verskillende “apps” in my lewe oop dat ek regtig sukkel om te fokus. Daar is soveel dinge wat my aandag vra en soveel plekke waar ek op ‘n daaglikse basis moet wees en aktiwiteite wat ek moet doen en mense wat ek moet sien en tevrede stel, dat ek binnekort agterkom my battery raak baie vinniger leeg as gewoonlik en ek sukkel om deur my dagtaak te kom. Dalk voel jy ook dikwels so.

Die vraag is of die Here ons nie juis in hierdie tyd waarin ons leef kom leer om minder te probeer om alles vir almal te wees nie, om minder te poog om soveel as moontlik dinge in ‘n dag in te pak en alles gelyk te probeer doen nie, maar om op ‘n meer gefokusde manier te begin leef. Die meeste van ons sukkel eintlik om soveel dinge gelyk te doen. Ek weet nie van jou nie, maar ek is nie regtig so goed met multi-task soos ek sê nie, want alhoewel ek dit op die oog af regkry om so klomp goed gelyk te doen, kry ek dit eintlik glad nie reg om te fokus of om bewustelik te leef nie. Ek kry dit nie reg om in die hier en nou te leef nie, want daar is te veel dinge van net-nou wat my vashou en te veel dinge van nou-nou wat my trek.

Dalk moet ons leer om elke nou en dan net iewers te gaan sit, diep asem te haal en al die “apps” toe te maak, sodat ons weer bewustelik teenwoordig kan kom en oop raak vir God se stem in ons lewens op ‘n gefokusde manier.

No comments:

Post a Comment