Friday, May 22, 2015

Meer as genoeg



In Johannes 6 vind ons die storie van die seuntjie wat saam met ’n klomp ander mense na Jesus luister. Naby aan die einde van die dag por die dissipels Jesus aan om die mense huistoe te stuur, omdat hulle nie vir almal kan kos gee nie. Dis dan wanneer die kind met sy kospakkie vorentoe kom en die volgende gebeure afspeel.

9 “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” 10 Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11 Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. 12 Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.” 13 Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. 

In hierdie storie word daar tradisioneel so op die wonderwerk gefokus dat daar dalk ’n ander belangrike detail verbygaan – die seuntjie met sy skrampse kospakkie. Baie van ons vra gereeld vir onsself watter bydrae ek kan maak wat hoegenaamd ’n verskil sal maak in die wêreld. Hoe kan ek met my klein lewe enigsins ’n impak op die groter geheel hê?

Ons almal het die volgende situasie al beleef. Jy word genooi na ’n funksie en almal word gevra om iets te ete te bring. Elkeen kom daar aan met ’n kleinerige bordjie eetgoed en aan die einde van die geleentheid bly daar soveel kos oor, dat mens verstom staan. In ’n sekere sin is dit presies wat in hierdie verhaal in Johannes 6 gebeur. 

Die seuntjie bevind hom tussen ’n groot skare mense en bied gewillig sy klein bietjie kos aan, waarop die dissipels heeltemal tereg vra hoe so bietjie kos ooit die massa mense sal kan voed. Maar in Jesus se hande word die bietjie letterlik meer as genoeg.

Miskien word ons genooi om al meer met hierdie gesinsheid te leef, naamlik om maar net die klein bietjie wat ek het te bring en te vertrou dat dit in God se hande meer as genoeg sal wees. As elkeen van ons dit bring wat ons het - gawes, vermoëns, vaardighede, wysheid, insig, ervaring, ook geld en goed en al die ander dinge wat ons kan bring - word dit wat ons het om te bied inderdaad God se gawe aan die wêreld, al lyk dit vanuit ons eie perspektief heeltemal te min. Gee wat jy het. God sal dit gebruik.



No comments:

Post a Comment