Tuesday, June 9, 2015

DEUR ANDER SE OË



Hoe gereeld dink ek en jy regtig aan die effek wat ons op ander mense het. Waarskynlik nie genoeg nie. Daarmee bedoel ek nie dat ek op ‘n kunsmatige manier probeer om my gedrag en woorde aan te wend om mense se guns te wen nie, maar eerder dat ek myself sal waarneem en bewus sal wees van die effek van my optrede en die impak van my woorde.

In die Bybel is daar heelwat gedeeltes wat hierop sou dui. Ek dink byvoorbeeld aan Spreuke 15: 1 en 4: 'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam. Kalmerende woorde bring lewe, skynheilige woorde breek mense. Ek dink ook aan Jesus se woorde in Johannes 13:35: Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het. Beide hierdie gedeeltes gaan oor my en jou sigbare dade en hoorbare woorde en die effek daarvan op ander mense.

Bewustelikheid gaan vir ons as God se kinders oor baie meer as om meer en meer bewus te word van God se realiteit. Dit gaan beslis ook daaroor om meer bewus te word van hoe ek optree, wat ek sê, die effek wat ek op ander het en hoe my teenwoordigheid mense oor hulleself laat voel. Dra ek iets van God se realiteit in mense se lewens in of vervreem ek mense eerder? Watter werklikheid skep ek?
 
Is ek dalk geneig om af te praat na mense? Lyk ek moontlik kwaai en ontoeganklik? Het ek miskien die manier om voortdurend op myself te fokus of stel ek regtig in mense belang? Is ek in ‘n groep heeltyd besig om te dink hoe ek ‘n eiertjie in ‘n gesprek kan lê of hou ek my dalk so eenkant dat ek die indruk skep dat ek nie werklik belangstel nie? Is ek miskien heeltyd krities of versmoor ek mense moontlik met my belangstelling? So kan ons aan eindelose voorbeelde dink. Dis presies om hierdie rede dat ek myself al beter moet leer ken en ruimte maak vir daardie pynlike proses waar ek mense na aan my toelaat om soms aan my terugvoer te gee oor hoe hulle my beleef.

Brennan Manning skryf op ‘n keer in sy boek Furious Longing: You are going to leave people feeling a little better or a little worse. You are going to affirm them or deprive them, but there’ll be no neutral exchange.

Hierdie woorde het my nogal in my spore gestop. Dink net hoe sal die wêreld lyk as ons elkeen dit besef. Hy bedoel natuurlik nie dat ons nou moet begin om almal wat ons teëkom heuning om die mond te smeer nie. Hy bedoel wel dat ons mense sal word wie se woorde en dade gekenmerk word deur liefde, deernis, begrip, aanvaarding, eerlikheid, integriteit, sagtheid en ‘n bereidheid om dieper as die oppervlak te kyk. Kan ek met ander woorde besef dat ek in navolging van Jesus so kan optree en praat dat ek mense help om nader aan God te beweeg, sonder om selfs veel oor God te hoef ? Kan ek die ruimte in myself begin skep dat ek deel word van God se helende teenwoordigheid in ander mense se lewe?

Manning skryf ook hierdie woorde:
The question is not can we heal?
The question, the only question,
is will we let the healing power of the risen Jesus
flow through us to reach and touch others,
so that they may dream and fight and bear and run
where the brave dare not go?




No comments:

Post a Comment