Sunday, June 21, 2015

In die Winter






In die Winter is ek intens bewus van die vloeiende aard van seisoene en bring dit my telkens weer voor die realiteit van die seisoene in my eie lewe. Ook op my geloofspad is die seisoene ‘n werklikheid. Ongeag van ons ouderdom of lewensfase waai God se Gees deur die seisoene van die hart en die landskap van my siel om my weer en weer op nuwe plekke uit te bring.
Wanneer dit winter word in my nooi God my om myself te stroop van maskers en eerlik na my agendas te kyk. God nooi my ook om myself oop te stel vir dinge waarvoor ek vantevore dalk nog nooit oop was nie. Om bewus te raak waar in myself ek verstok geraak het en vasgeval het. Om agter te kom dat die grond waarin ek geplant staan armoedig begin word het en in voorbereiding van ‘n nuwe seisoen ernstig aandag kort.

Wintertyd is ook ‘n tyd om stiller te word en toe te laat dat daardie ontstuimige dele binne my tot rus kom. Dis ‘n tyd van oorgawe en vertroue dat ek weet dat God, ten spyte van my onvermoë om te sien wat wag, in die lang, koue, donker nagte besig is met ‘n ander proses waarin ek bitter min insig het. Dis ‘n tyd van wag, kyk, luister en nog wag. Dis ‘n tyd van vertrou dat donker nagte en koue dae wel op die regte tyd ‘n ander karakter sal aanneem en dat daar op die aangewese tyd ‘n nuwe seisoen sal aanbreek. Wintertyd roep my om God te leer ken as die Een wat alle seisoene in Hom saamdra.
Natuurlik is die versoeking daar om in hierdie tyd vas te val in neerslagtigheid en depressiwiteit, om te rasionaliseer of te ontken en selfs te blameer. Ek sou ook kon voorgee dat dinge anders is as wat dit is en toelaat dat bitterheid en isolasie die oorhand oor my kry. Maar God roep my juis om nie in myself te verdwaal nie, maar om die donkerste plekke in my vir God oop te stel sodat die Gees van Lewe wat destyds oor donker waters gesweef het ook oor my donker waters sal sweef.
Op Sondag, 21 Junie is dit die kortste dag en die langste nag van die winter in die suidelike halfrond, en dit is ook die draaipunt op pad na ‘n nuwe seisoen. Dit beteken nie dat die nuwe seisoen al aangebreek het nie, maar dit vra dat ek sal vertrou dat die nuwe seisoen vanself sal kom. Winter het nie die laaste sê oor waar ek my op my pad met God bevind nie. As ek God sal toelaat sal Hy self sy son oor die vasgevriesde plekke laat skyn en daardie bevrore plekke, waarmee ek al hoop opgegee, het ontdooi.

Of soos Adele Ahlberg Calhoun dit stel: The presence of God within us is loaded with thawing power.
Mag jy in hierdie winter diep bewus wees hiervan.

No comments:

Post a Comment