Tuesday, June 9, 2015

Lesse wat ek by Ebert geleer het




Ebert het vir 2 jaar en 8 maande teen kanker geveg en uiteindelik op 31 Mei die stryd verloor.

Hy het teologie studeer en was vir ‘n paar maande voor hy regtig siek geword het ‘n dominee.

Hy was nog nie 26 nie.

Ek het in die afgelope 2 jaar die volgende lesse by hom geleer:
           
      1. Hoe ons oor God dink is baie belangrik
Ebert het my geleer dat hoe ons oor God dink baie belangriker is as wat ons dink, want nie alleen bepaal die manier hoe ek oor God dink my hele funksionering nie, dit bepaal veral ook hoe ek in tye van swaarkry gaan reageer. In die tyd wat hy siek was het Ebert nooit kwaad geword vir God nie, want hy het nie geglo dat God die oorsaak van die kanker was nie. Op my vraag oor hoekom hy dink hy kanker gekry het, het hy gesê: Hierdie dinge gebeur maar. Vir hom was siekte en swaarkry doodgewoon deel van die lewe, en God was in dit alles heeltyd by hom.   
     
       2.Die aardse lewe is nie die enigste realiteit nie
Die meeste van ons as gelowiges sal sê dat ons op ‘n manier in die ewigheid glo, maar tog leef ons nie altyd so nie. Ons leef dikwels asof die aardse realiteit al is wat ons het – terwyl daar ‘n baie groter realiteit anderkant hierdie werklikheid lê. Dit sou wonderlik gewees het as Ebert gesond kon word. Daar was soveel mense wat vir hom gebid het. Tog was hy baie gereed om te gaan. Natuurlik was hy ook hartseer, want hy het aan sy ouers en meisie en familie se swaarkry na sy dood gedink. Op meer as een geleentheid het hy gesê: “Dis ongelooflik dat die mense so vir my bid, maar hulle moet nou ophou om my in die lewe in te bid. Hulle kan my nou maar uit die lewe uitbid.” Ebert kon so praat, want hy het besef dat hy nie ophou bestaan wanneer hy sterf nie. Hy het verlang daarna om sonder pyn en in vrede by God te wees.
     
      3. ‘n Kwaliteit lewe is nie noodwendig gemaklik nie
Een van sy gunsteling sê-dinge was: “Dis nie hoeveel dae daar in my lewe is nie, maar hoeveel lewe in my dae is.” In 2013 terwyl Ebert se ander klasmaats besig was om hulle skripsies klaar te maak was hy te siek, en gevolglik kon hy nie daardie November gelegitimeer word nie. In Desember het hy skielik beter gevoel en met nuwe entoesiasme aan die werk gespring en in ‘n rekordtyd die skripsie klaargemaak, want hy het gesê dat hy nie weet wanneer hy weer so goed gaan voel nie. In Februarie is hy op ‘n spesiale geleentheid gelegitimeer en kon sy droom om ‘n dominee te wees, waar word. Hy het geen geleentheid laat verbygaan om voluit te leef nie. Tot op die einde het Ebert probeer om ‘n kwaliteit lewe te leef. Selfs die middag van sy dood sou hy saam met sy familie vleis gebraai het, ten spyte van geweldige pyn, asemnood en ongemak.
      
      4. Roeping is groter as siekte
Selfs in sy siekte was Ebert diep bewus van sy roeping. Hy het nogal sterk opinies oor genadedood gehad en gevoel dat daar heeltemal ‘n goeie saak daarvoor te make is. Op ‘n dag het ek aan hom gevra wat hy sal doen as iemand nou vir hom iets in die hand gee waarmee hy ‘n einde aan alles kan maak. Hy het geantwoord: “Ek sal dit nie doen nie. Dis nie my pad nie. Hoe weet ek wat God nog deur hierdie siekte en lyding in ander se lewe wil doen?”
     
      5. Mens kan tegelyk ‘n dromer en ‘n realis wees
By hom het ek gesien dat mens tegelyk ‘n dromer en ‘n realis kan wees en dat mens hoegenaamd nie een van die twee hoef te kies nie. Die twee werklikhede kan heel gemaklik, pluralisties, langs mekaar funksioneer. So sou hy in een gesprek vertel hoe hy droom van ‘n lewe saam met Antoinette en ‘n paar minute later, toe ek vra wat hy dink hier gebeur, het hy baie realisties geantwoord: “Dis duidelik. Ek gaan dood.”
 
      6. Kanker is ‘n genadesiekte
Hierdie was seker een van die sterkste uitsprake wat Ebert tydens sy siekte gemaak het. Aanvanklik was ek totaal uit die veld geslaan dat mens so oor kanker sou kon dink, want volgens my is kanker ‘n siekte wat net lewens wil steel. Tog het Ebert verduidelik hoe dit ‘n geleentheid gee om al jou verhoudings in plek te kry, hoe dit jou stroop van jou ego en jouself, hoe dit jou in ‘n besonder verhouding voor God laat staan. Daar was soveel genades op sy pad, van vriende se hulp tot ander aardse genades. Die grootste genade was waarskynlik dat hy nie nodig gehad het om hospice toe te gaan nie, maar in sy ma en pa se huis, op sy ma se skoot, sy laaste asem kon uitblaas.
    

     7. Al verstaan ons God nie, hoef ons nie oor Hom te twyfel nie
In die loop van sy siekte het Ebert enkele mistieke ervarings gehad. Ons het baie gesels oor wat hierdie ervarings sou beteken, maar oor een ding was hy seker en dit is dat God daardeur aan hom wou kommunikeer dat die realiteit waarheen hy oppad is nie net ‘n wolhaarstorie is nie, maar ‘n onverklaarbare, mistieke werklikheid.

Ebert van der Westhuizen is oorlede op 31 Mei – die laaste dag voor die winter sou aanbreek. Dit herinner my dat die winter inderdaad ‘n tyd van gestrooptheid en sterf is, maar dat die winter reeds die belofte van nuwe lewe dra.
31 Mei was ook die dag van Comrades. Dis betekenisvol dat Ebert juis op hierdie dag sy eie wedloop op aarde voltooi het.
Ebert se lewe sal ons bly roep tot ons soos die dienaar in sy geliefde Jesaja 42 verstaan dat God ons as geknakte riete wil gebruik, waardeur ons te midde van watter omstandighede ook al, die kanale van God se liefde kan wees.

Ek salueer jou, Ebert. Dankie vir wat jy vir my geleer het. Vanaand pyn my hart van vooraf. Die aarde is armer sonder jou…




No comments:

Post a Comment