Sunday, September 20, 2015

Die Man op die Olifant



In die afgelope week gesels ek met ‘n jong man wat vertel van ‘n kursus waar hy was waar die fasiliteerder gesê het die teenwoordigheid van ons onderbewussyn (en daarmee saam ons hele binnewêreld) werk soos ‘n man op ‘n olifant. Ons dink óns bestuur die olifant (ons onderbewussyn of diepste binnekant), maar as ons nie mooi kyk wat ons dink nie, dan neem die olifant ons net waar hy wil, en is die olifant eintlik in beheer.

Ek kon nie help om dadelik te dink aan ‘n ervaring wat ek Jaco eendag in Indië gehad het nie. Dit was die eerste keer wat ek saam met hom in Indië was en een van my groot drome was om van daardie pragtige beskilderde olifante te sien. Toe ons met die tuk-tuk teen ‘n steil heuwel uitry kom daar toe skielik so einste olifant van voor af gestap. Behalwe dat ek amper die tuk-tuk laat omval het van opwinding, en Jaco heel rustig gesê het dat ek nog baie gaan sien, was ek totaal verstom. Wat my die heel meeste verbaas het was dat daar bo-op die olifant ‘n man in ‘n mandjie onder ‘n sambreel gelê en slaap het. Die olifant het die pad wat hy moes loop al so goed geken dat die man letterlik nie eers nodig gehad het om te dink waarheen om te gaan nie.

Ons denkprosesse is regtig baie belangrik en ek is dikwels verbaas oor hoe naïef gelowiges soms hieroor kan wees. Ons moenie die fout maak om te dink dat as ons God se kinders is, ons sommer so vanself die regte dinge gaan dink of sommer net spontaan met God se soort gedagtes gaan besig wees nie. Dis ‘n groot illusie. Of ons dit wil weet of nie, ons denke word in die eerste plek deur ons persoonstruktuur bepaal. Of soos iemand eenmaal gesê het: My pattern sticks in my limbs, in my bones, it’s in my blood, it’s my skin, my breath, my way of thinking,.... My ego of sondige natuur sal hierdie patroon altyd wil inspan om my te laat dink dat ek in beheer is van my denkprosesse, soos die man op die olifant, terwyl my diepste patrone en manier van dink mý eintlik aan die neus rondlei.

Ons elkeen se “default setting” is maar altyd weer die ego. Dis as ek hiervan bewus word dat God se Gees my al meer daarop kan wys en ek met Sy hulp al meer kan kies om my aan Jesus se kant te skaar en vanuit die Gees van Christus in my, kan lewe. Soos God my meer bewus help wees, word God se manier mettertyd my basiese vertrekpunt of “default setting”.

Spreuke 4:23  stel dit mooi:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (1983 vertaling) of
Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed (Die Boodskap) of
Keep vigilant watch over your heart; that’s where life starts. (The Message)
Om bewus te word van my diepste patrone en om agter te kom hoe die olifant in my vesels my eintlik beheer,
is waarskynlik een van die groot prosesse waarmee God deur sy Gees in my en jou kan besig wees.
So, hou daai olifant dop, want hy ken die pad beter as wat jy dink.

No comments:

Post a Comment