Sunday, September 20, 2015

Help ons om ons stront te stop



Die afgelope Donderdag het ek en ‘n vriendin by ‘n vriend gaan kuier wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly en reeds heeltemal bedlêend is. Hy kon nog praat en sluk, maar ook dit is net ‘n kwessie van tyd. Ons het hom lanklaas gesien - ‘n jaar gelede net voor die siekte gediagnoseer is. Toe ons instap was hy so geweldig bly om ons te sien. Sy hele gesig het gestraal. Eintlik het alles aan hom gestraal. Natuurlik nie oor ons nie, maar oor wat diep binne hom aan die gebeur is. 

Soos ek vermoed het, het ons nie eintlik gegaan om vir hom iets te beteken nie. Inteendeel. In die relatief lang tyd wat ons by hom gekuier het, het hy onophoudelik gepraat, sag, maar duidelik, dringend en diep. Hy was ook dikwels baie emosioneel, want om te lê en wag om te sterf is nie maklik nie. Ons was uit die aard van die saak so emosioneel saam met hom dat die trane later onkeerbaar teen ons nekke afgeloop het.

Hy het met ons oor so baie dinge gepraat. Oor sy liefde vir Jesus en sy vrou en hoeveel rousmart hy het om van haar afskeid te neem, maar oor hoe hy sien hoe Jesus hom roep. Hy het gepraat oor hoe hy eintlik maar net ‘n klein seuntjie met ‘n paar broodjies en vissies was en hoe hy dit vir Jesus probeer gee het, en Jesus wonder bo wonder daarvan ‘n maaltyd vir baie mense gemaak het. Hy het vertel hoe hy sien hoe die sirkel van sy lewe besig is om voltooi te word en hoe hy kan ervaar dat hy besig is om nader te beweeg aan die Bron van sy ontstaan. Hy het vertel hoe bang en onseker hy is oor die oorgang wat voorlê en hoe hy ons sal inwag as hy die oorgang gemaak het. Hy het gesê dat niks eintlik meer saakmaak nie en dat hy letterlik van alles gestroop is, behalwe van Jesus en dat sy liefde vir God nou al is wat hy oor het. Hy het nog oor baie ander dinge gepraat en vir ‘n uur en twintig minute het ons geluister na die grootste waarheid en wysheid wat ek in my hele lewe nog ooit aangehoor het.

Vroeër die oggend, op pad in die kar, nog voor ons kon weet hoe diep hy ons gaan raak, het ons gepraat oor hoe moeilik dit is om God se pad te stap, veral in ons tyd. Daar is so baie opinies, soveel oortuigings, en baie voel dat hy of sy reg is en die volle waarheid beet het. In die geloofswêreld is daar deesdae soveel nuanses, soveel skakerings van grys, dat dit onmoontlik is om die skakerings van mekaar te onderskei.
 
Selfs die terminologie wat ons gebruik stem nie ooreen nie. Wat ek met verlossing of God se liefde of dualisme of die kontemplatiewe of die belang van Jesus bedoel is nie vanselfsprekend met presies dieselfde inhoud gevul as hoe jy dit verstaan nie. Dit opsigself hoef nie so krisis te wees nie.
Die krisis is dat ons dink ons weet, en onsself die reg toeëein om die ander persoon wat nie op dieselfde manier as ek dink nie, te beoordeel en te veroordeel en na die kantlyn te rangeer omdat hy of sy nie met my saamstem nie.
 
Ek dink nie daar was al ooit ‘n tyd in die geskeidenis wat daar soveel skakerings van Christene was soos nou nie. Die van ons wat vanuit ‘n bepaalde perspektief daarna kyk raak geweldig ongemaklik daaroor en wil hê dat almal dieselfde moet dink, en die van ons wat uit ‘n ander perspektief daarna kyk voel weer heel gemaklik met die variasie en kan glad nie verstaan hoekom elkeen nie maar net sy of haar pad kan vind nie, en kan glad nie die ander kant duld nie.
En so verwyt en kritiseer en veroordeel ons mekaar heen en weer en verteer mekaar op ‘n daaglikse basis.  

En dan op ‘n dag sit jy langs die bed van ‘n sterwende vriend wat ‘n leeftyd van ‘n verhouding met God en ‘n pad saam met mense agter hom het. In die tydjie by hom was die realiteit nie wit of swart of baie skakerings van grys nie, maar helder lig en reg voor ons was Jesus, soos ‘n Bloedrooi Tou, van wie ek al meer besef ek nog bitter min verstaan.

Ek stap daaruit, terug na die geskakeerde grys realiteit waarin ek elke dag leef en waarin mense, God se mense, volgelinge van Jesus, mekaar verskeur omdat hulle nie die spanning van mekaar se radikaal verskillende maniere van dink oor God kan hanteer nie. Ek hou vas aan die Bloedrooi Tou en ek sê vir myself: And so we men of Indostan, disputed loud and long. Each in his own opinion, exceeding stiff and strong. Though each was partly in the right and all were in the wrong.


Soms het jy ‘n sterwende vriend nodig om jou te help om te gaan stilstaan en te sien. En ek kerm-pleit met ‘n pyn in my hart:
Ag, Here Jesus Christus, help ons om ons stront te stop en regtig te verstaan!

Naskrif - Vrydag: Neels is vanoggend oorlede, net minder as 24 uur na ons gister by hom ingestap het.

3 comments:

  1. Skielik vanoggend tref dit my van wie jy skryf. My hart krimp in een en ek dink aan al my eie stront en dan raak ek intens hartseer daaroor. Miskien is dit minstens 'n begin; om net daaroor te ween.

    ReplyDelete