Sunday, September 20, 2015

Laat gaan, aanvaar en pas aan



Scott Peck begin sy boek, The Road Less Travelled met hierdie woorde: Life is difficult. Baie mense sal met hom saamstem, maar dit hang natuurlik ook van jou persoonlikheid, lewensfase en lewensituasie af of jy jou met sy stelling kan assosieer al dan nie. Ons kan bepaald nie daarvan wegkom dat daar elke nou en dan iets uitdagends in die lewe opduik nie.
So stap ek ‘n rukkie gelede in die apteek in en kry iemand wat ek ken voor die rak met aanvullings vir artritis. Sy is skoon moedeloos toe sy vertel hoe alles nie meer wil werk soos sy wil hê dit moet nie, en boonop, sê sy, is sy nog nie eers oud nie! Toe sê sy hierdie wyse woorde: “My pa het altyd gesê die lewe gaan oor laat gaan en aanvaar.” Ons praat nog so sin of twee voor ek verder stap, maar vir die res van die week wil hierdie woorde my net nie los nie: laat gaan en aanvaar…
Dink net daaroor: as jy ‘n baba is, is daar ‘n laaste keer wat jy aan jou mamma drink of jou fopspeen suig. As jy ‘n kind het is daar ‘n laaste keer wat jy jou kind optel omdat sy te swaar geword het. Daar kom ‘n dag wanneer jy die laaste keer sonder ‘n bril kon lees of wat jy ‘n laaste keer jou kar bestuur het of die laaste aand in jou eie huis geslaap het. En so sou elkeen van ons nog eindelose voorbeelde uit ons eie lewe kon noem.
My persoonlikheid is in besonder sleg daarmee om te laat gaan en dinge te aanvaar vir wat dit is. Ek beleef laat gaan altyd as verlies en aanvaar neem my dikwels jare. In daardie opsig moet ek maar altyd op die uitkyk wees vir Lot-se-vrou-sindroom, wat elke nou en dan by my wil kop uitsteek.
So kom ek toe ‘n paar dae later na die ontmoeting in die apteek by my oefengroep. Die spesifieke oggend is dit net ek en Victor, ‘n 83 jarige Engelssprekende man. Hy is altyd reg met ‘n grappie oor sy ouderdom en sê dat Vader Tyd die oggend hard aan sy deur klop. Ons gesels toe oor die wyse woorde van ‘n paar dae vantevore: om te laat gaan en aanvaar. Ek sien hy herkou die gedagte en sê toe: “Yes, that’s true. Let go, accept… and adjust…” Inderdaad wysheid: Miskien is dit nie die laat gaan en aanvaar waarmee ons mense die meeste sukkel nie, maar die aanpassing.
Prediker was reg toe hy gesê het dat daar ‘n tyd is vir alles onder die son. As ons as God se kinders, ongeag van ons persoonlikhede, kan leer om te laat gaan, te aanvaar én aan te pas, sal die lewe waarskynlik vir ons en die mense wat saam met ons leef makliker wees.

Heraklitus het al in 500 vC gesê dat die enigste konstante in die menslike lewe, verandering is. Of soos iemand eenmaal gesê het: Seasons change, and so do we… Ons lewens en onsself is veranderlik. Selfs ons verstaan van God bly nie dieselfde nie, daarom verstaan ons waarskynlik nie eers mooi wat Hebreërs 13:8 vir ons sê nie: “Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees.”
Dalk is dit een van die grootste paradoksale uitnodigings: om in God se stabiele hart tot rus te kom, terwyl ek te midde van konstante verandering laat gaan, aanvaar en aanpas.

No comments:

Post a Comment