Thursday, June 9, 2016

Die stem van ongemak


Daar is hierdie uitdrukking wat sê: Van sit en staan is lê die lekkerste. Ons mense hou van ons gemak. Nie omdat dit altyd so lekker daar is nie, maar juis omdat ek eerder in my huidige situasie sal voortleef as om te kies om die onbekende wêreld van verandering te trotseer. En tog is Neale Donald Walsch se woorde baie waar: Life starts at the end of your comfort zone. Presies wat sou dit beteken?

Ons val maklik vas in denkpatrone, in sekere gedrag, ‘n manier van praat. Wanneer mens daarvan begin bewus word is dit regtig moeilik om iets daaraan te doen, en daarom kies baie van ons om maar aan te hou met die ou maniere van dink en praat en doen, want om nuwe paaie te bou is net harde werk. Om een of ander rede het baie van ons ‘n soort interne luiheid wat groei en verandering in ons lewe teenstaan.

Ek vermoed een van die groot redes waarom ons nie graag ons ongemak trotseer nie, is juis omdat ons weet dat as ek nou anders gaan dink en optree en praat, impliseer dit nie net vir my verandering nie, maar vir die hele sisteem waarbinne ek funksioneer. Die implikasie hiervan is natuurlik dat die mense wat saam met my lewe nie daarvan gaan hou nie, omdat dit ook hulle manier van leef sal affekteer. Dikwels bring dit konflik mee, en baie van ons sien net nie kans vir hierdie konflik wat uit die verandering spruit nie. Tog is daar ‘n kritiese punt in myself waar die stem van my ongemak so dringend en knaend word, dat  ek nie meer anders kan as om daarop te reageer nie.

Anais Nin het so hieroor geskryf: “And the day came when the risk it took to remain tight in the bud was more painful than the risk it took to blossom”.

Dalk is daar dinge in jou lewe waarmee jy al jare ongemaklik is, maar jy kom net nie sover om die keuse te maak en te kies om iets daaraan te doen nie. Ek glo God wil ons uitdaag om te luister na hierdie stem van ongemak en om te hoor wat dit vir ons wil sê. Ongemak kan een van die kragtigste stemme in ons lewe wees, juis omdat dit uit ‘n baie diep plek in onsself kom. Daardie plek waarvan die meeste van ons nie altyd bewus leef nie. Interne ongemak kan uit ‘n onontginde deel in myself kom wat my wil aanpor om te groei en te transformeer. Wanneer ons kies om die stem van ons ongemak te ignoreer mag dit selfs ‘n passiewe vorm van weerstand wees teen dit waarmee die Here in ons lewens sou wou besig wees.

Dalk het jou ongemak te doen met die manier hoe jy en jou lewensmaat met mekaar praat of teenoor mekaar optree. Miskien gaan jou ongemak oor ‘n lewensveranderende keuse wat jy moet maak, wat jy weet jy nie meer veel langer kan uitstel nie. Dalk het dit te doen met ‘n sekere vorm van gedrag wat jy oor jare aangeleer het wat ander mense goed pas, maar wat jou eie siel verraai. Miskien wil die stem van jou ongemak jou aanspreek oor die manier hoe jy jou nog altyd teenoor ander mense posisioneer het en word jy uitgedaag om minder suinig te wees met jouself. Dalk het die ongemak daarmee te doen dat jy moet leer om vir jouself op te staan of om duideliker grense in jou lewe daar te stel. Miskien wil ongemak jou laat besef dat jy jou oor jare in ‘n web van jou eie onwaarhede vasgespin het en dat jy nou genooi word om te vra wat werklik aan die gebeur is sodat jy vry van hierdie onwaarhede kan begin leef.


Daar is nog duisende ander voorbeelde. Hoe dit ook al sy, wanneer ek bewus raak van die stem van ongemak en nie daarna luister en toelaat dat God my op die grens van ongemak ontmoet nie, is daar ‘n goeie kans dat ek ‘n geleentheid vir groei kan mis. ‘n Mens mis ‘n buitengewone geleentheid as jy die stem van ongemak ignoreer, want saam met ongemak kom daar dikwels die potensiaal vir nuwe lewe. Ongemak is meermale die boodskapper dat die tyd ryp is vir ‘n volgende fase. ‘n Wyse vrou het eenmaal gesê jy kom soms agter dat dinge in jou lewe ryp word soos  die lieflikste vrugte aan ‘n boom. As jy nie die vrugte pluk wanneer hulle ryp is nie, verrot hulle aan die boom en het jy die kans vir groei gemis, al was dit ook hoe ongemaklik.

Ek daag jou uit: kom ons raak meer bewus van die stem van ongemak en laat toe dat God dit as die stukrag vir groei in ons lewens gebruik.

No comments:

Post a Comment